|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Nic Marais in die Kfm-ateljee net ná die ontbytprogram wat hy die afgelope ses jaar aanbied. Foto: STEPHEN WILLIAMS
Vermaak
Nic Marais van Kfm gaan in VSA regte studeer
06/05/2008 10:14:30 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Ná tien jaar as omroeper en 1 444 uitsendings van ’n ontbytprogram het die gewilde Kfm-aanbieder Nic Marais eergister sy bedanking aangekondig.
Marais, wat al langer as ses jaar die Breakfast Show aanbied, gaan die radiostasie aan die einde van Junie verlaat, maar is nie van plan om by ’n ander radiostasie agter die mikrofoon in te skuif nie.
Sy kop staan VSA toe, waar hy vir ’n graad in die regte wil gaan studeer.
“Ek besluit nog of ek dié graad by Yale of die Harvard-universiteit gaan voltooi, maar ek is by albei aanvaar.”
Van sy beste herinneringe in die Breakfast Show is toe hy in September 2002 ’n onderhoud met oudpres. Nelson Mandela gevoer het.
“Ons het ’n uur lank in sy kantoor gesit en net gesels. Dit voel nog steeds onwerklik.”
Sy onderhoude met Charlize Theron en Miriam Makeba tel ook onder sy gunstelinge.
“Dié twee vroue het ’n teenwoordigheid en skoonheid wat ’n mens nie sommer vergeet nie.
Die onderhoud met Abdullah Ibrahim was die moeilikste, “bloot omdat ons nie gekliek het nie”.
Marais was drie jaar gelede in ’n motorkaping voor sy woonstel betrokke, maar het gesê misdaad is nie die rede waarom hy Suid-Afrika gaan verlaat nie.
“As ek uit die land wou vlug, sou ek dit lankal gedoen het.”
Hy het gesê hy sal beslis na sy tuisland terugkeer.
“Ek verkoop nie my woonstel nie en het ’n retoerkaartjie gekoop.
“So, ek sal definitief terugkom huis toe!”
Marais was 17 jaar oud toe hy met naweekwerk by Kfm begin het. Hy het aan die Diocesan College (Bishops) gematrikuleer en het toe as sportaanbieder by dié stasie gewerk terwyl hy ’n BA-graad in geskiedenis en politiek aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het.
“Ek was baie gelukkig, want ek werk tot 10:00 soggens en kon daarna nog klasse bywoon.”
Nadat hy sy graad voltooi het, het Marais as aanbieder van die ontbytprogram begin werk.
Kfm sal binnekort aankondig wie Marais gaan opvolg.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |