|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Harry Kalmer Foto: ROBBIE SCHNEIDER
Vermaak
Geheime van ’n briefskrywer
06/05/2008 09:38:29 PM - (SA)
IN Harry Kalmer se vyfdelige roman En die Lekkerste Deel van Dood Wees, wat verlede jaar die naaswenner in die Sanlam- groot romanwedstryd was, maak die briewe van Magdalena Otto opnuut hul verskyning. In 2005 is laasgenoemde uitgegee in ’n boek met ’n baie beperkte oplaag, elke brief in ’n koevert wat gebind is as Briewe Aan ’n Rooi Dak. Dit is ook vir die verhoog verwerk. Die briewe sou nog altyd deel van ’n groter verhaal wees, vertel Kalmer.
“Ek het die teaterteks uit ’n vroeëre weergawe van die manuskrip wat uiteindelik in die roman opgeëindig het, gekannibaliseer. Dit was altyd veronderstel om ’n roman te wees of eerder ’n deel van die roman. Iewers langs die pad moes ek die besluit neem om Magdalena te laat vermoor – die toneelstuk het net eenvoudig daardie tipe dramatiese keerpunt nodig gehad.
“Só ’n besluit het natuurlik die verloop van die boek beïnvloed.”
Mense skryf briewe om verskillende redes. In die roman is ook briewe van Kobus, ’n jazzkomponis en pa van ’n hiphopster, Camilla. Hy het dit jaarliks op haar verjaardag geskryf en gebêre. Magdalena Otto s’n word soms nie onderteken nie – asof dit eerder dagboekinskrywings is. Het die gebruik van briewe moontlikhede gebied wat andersins nooit ter sprake sou kom nie?
“Die briewe-formaat is bepaal deur die eerste sin wat ek gehoor het: ‘Liewe dak, ek skryf maar aan jou, want ek het niemand anders om voor te skryf nie’. Dalk het ek Kobus ook maar briewe laat skryf om hom dieselfde quirk as sy ma te gee. Ongeposte briewe. Die briewe het vryhede gebring, maar ook natuurlike beperkings, ’n soort van what you reads is what you gets. Oordeel en gevolgtrekkings word aan die leser oorgelaat. Daar is nie ruimte vir die skrywer om sy opinie uit te spreek nie. Dis ’n vertelstyl wat my nogal aanstaan. Laat die leser self besluit. Die ondertekening of nie van briewe was ’n ritmebesluit wat ek en Henriëtta Gryffenberg, wat die rol van Magdalena geskep het, in die repetisielokaal moes neem.
Die briewe word vir Magdalena en Kobus ’n soort ritueel; is skryf by jou ’n gereelde afspraak op ’n vaste tyd?
“Ek skryf die eerste twee uur van my werksdag – wanneer ek skryf. Soms vat ek lang tydperke af. Ek het byvoorbeeld doelbewus amper niks in 2007 geskryf nie, maar hierdie jaar het ek al weer heelwat geskryf. Ek begin volgende week met die finale draft van ’n nuwe boek.
Die tweede deel van dié boek heet “Wolke” en was laasjaar op Aardklop as teaterstuk te sien. As hy ’n verhaal omsit vir die verhoog is dit ’n soort vertaalproses of is sy skryfwerk reeds ingestem op toneel?
“Die eerste keer dat ek iets vir die verhoog verwerk het, was Marita van der Vyver se Dinge van ’n Kind. Dit was ’n amazing proses en het my baie geleer.”
Daarna het hy sy boek Die Man met die Dertien Kinders vir die verhoog verwerk nadat dit reeds publiseer is.
“Beide Briewe en Wolke het ook die geskrewe woord (wat bedoel is vir publikasie) as vertrekpunt gehad.”
In ’n inskrywing van Camilla se joernaal in ’n Amerikaanse rehabilitasiesentrum “onthou” sy haar ma se begrafnis, maar anders as wat dit was . . . In die bundel kortverhale Groceries – 56 Stories oor Huishoudelike Produkte skryf Kalmer: “. . . miskien is verbeel die hele punt van onthou.”
Is mense se herinneringe of die stories wat mense aan mekaar vertel die betroubaarste en watter een is van die grootste belang?
Selfs per e-pos skemer ’n glimlag deur: “Om kommentaar te lewer op die uitings van karakters wat ek self geskryf het, sal ’n bietjie wees soos George Lucas wat Indiana Jones aanhaal, maar Robertson Davies het gesê dat dit wat ons die graagste wil glo, interessanter is as die ‘realitieit’ en dat daardie denke op die ou end die grootste invloed uitoefen. My eerste boek se naam was Die Waarheid en Ander Stories, dalk is dít antwoord genoeg.”
’n Groot deel van die boek betrek die lewe in Amerika. Dertig jaar gelede het Kalmer dié land per bus deurkruis en hy onthou dit só: “Dit was my eerste besoek aan ’n land buite Afrika. Ek was baie jonk. Dit het ’n groot indruk op my gemaak. Ek is in 1999 weer terug, ná 21 jaar. Daardie tweede besoek was ’n sneller vir dít wat uiteindelik die boek geword het.
“Deel van daardie proses was dat ek ’n boek van honderde bladsye geskryf het, wat onpubliseerbaar was. Maar daardie poging het eers Kobus en toe Magdalena opgelewer. Magdalena het ’n paar woorde gesê: ‘Jakkie kom eet.’ Of so iets. Maar dit was haar stem wat die woorde ‘Liewe Dak’ gespreek het toe die tyd reg was.” Kalmer se werk het talle populêrekultuurverwysings. Hoewel dit aan die periferie van sy roman staan, wonder ’n mens of dit dié wêreld weldra verouderd sal laat oorkom.
“Jy’s reg. Ek het dit veral besef toe ek moes besluit watter vorm van Snoop Doggy Dogg se name ek moes gebruik in ‘Wolke’. Maar ek dink populêre kultuur is belangrik. Dickens en Shakespeare was gewild en die kanse is goed dat ’n J.K. Rowling oor ’n honderd jaar of so meer gelees gaan word as ’n Philip Roth.
“Iemand soos Larkin het pop culture verstaan en daarmee getoor. Watter skrywer sou nie die woorde “Sexual intercourse began / In nineteen sixty-three / (Which was rather late for me) / between the end of the Chatterley Ban / And the Beatles’ first LP” wou skryf nie?
“My boek gaan dalk onder meer oor dinge wat oud en uit die mode raak. Dinge en mense wat nie meer pas of werk of selfs nog bestaan nie. As ’n aanhanger van pose, fashion and style is die ontdekking van my eie sterflikheid amper net so opwindend as wat dit angswekkend is. Ek is ’n oppervlakkige mens wat myself dikwels vaskyk teen voorkoms, dus vind ek verval en vergaan dalk boeiender as ander. Die Johannesburg waaroor Magdalena skryf en droom en na verlang, bestaan nie meer nie. Isak se Johannesburg is moer toe. So ook Kobus s’n. Selfs Basil die moordenaar se Jozi is die stad van die eerste twee jaar van hierdie eeu – en daardie Johannesburg is lankal op die ashoop.”
Kalmer woon en werk in Johannesburg en het al talle toekennings vir sy werk in die reklamewêreld ontvang. “Ek werk nog gereeld in die advertensiewêreld. Ek geniet dit baie. Ek is maar heeltyd aan die gang met nuwe projekte. Baie van my werk sentreer rondom dinge wat my interesseer en hopelik van nut is vir die gemeenskap. Stedelike vernuwing, opleiding, die kunste, bemagtiging en onderwys op allerhande vlakke. Maar ek is oop vir enigiets. Veral as dit in Afrikaans is. As ek hier klaar is, sit ek en skryf ’n TV-advertensie.”
Kobus komponeer eindelik wat hý wil, maar dit vergesel stereotipe Afrika-beelde. Is daar parallelle met die reklamewêreld?
Kalmer wys daarop dat Kobus se komposisies binne die tradisie van Johannesburg-vakmanskap en handewerk staan. “As jy nie jou job goed doen nie, staan daar 200 ander reg om dit te doen. Hy is soos ’n skrynwerker wat die beste tafel moontlik maak, maar ook besef dat hy geen beheer het oor wat die koper daarmee doen nie. Daarom is hy meer geamuseerd as geskok as die Japannese sy musiek vir ’n Sony Playstation-speletjie wil gebruik.
“Musiek is sy job – en hy doen dit so goed as moontlik. Marcel van Heerden, wat die rol gespeel het in die opvoering in Potch, het besonder sterk gevoel oor hierdie faset van Kobus en (ek vermoed) nogal daarmee geïdentifiseer en my opnuut daarvan bewus gemaak. Ek sou graag dink ek is dieselfde tipe kunstenaar. Skryf is ’n job en ek doen dit na die beste van my vermoë. Maak nie saak of dit ’n radioflits of ’n roman is nie.”
In En die Lekkerste Deel van Dood Wees resoneer gebeure in ’n familie oor generasies met mekaar. Geld determinisme vir die alledaagse werklikheid of leen dit hom meer tot die wêreld van die verhaal?
“Dalk leer ons maar bloot ons ouers se gewoontes by hulle en leer ons kinders hulle gewoontes by ons. Maar terselfdertyd was Paul Simon se lirieke: I was born before my father / And my children before me / We are born and born again / Like the waves in the sea ’n belangrike sleutel tot die bymekaartrek van die boek.
As ’n Suid-Afrikaner hier en een in Kanada dit sou lees, verwag hy verskillende reaksies?
“Elke leser reageer anders op die lees van ’n teks. Die tipe mense wat my boeke lees, maak my bewus daarvan. Ek kry reaksie van kids met pierced body parts tot by dames in plattelandse ouetehuise. En almal reageer anders; dis amazing. Dieselfde met die buitelanders – geen twee Afrikaanssprekende Kanadese, Amerikaners of Nieu-Seelanders reageer dieselfde nie.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |