|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Raimond Martinov en Elza Leimane.
Vermaak
Bolsjoi-styl te teatraal, sê dansers van Letland
04/05/2008 08:30:12 PM - (SA)
KAAPSE balletliefhebbers kry eersdaags twee dansers uit Letland te sien wanneer hulle as gaste in Die Vrolike Weduwee optree. Dié produksie deur die Kaapstadse Stadsballet met choreografie deur Veronica Paeper open op 10 Mei in die Kunstekaap.
Elza Leimane en Raimond Martinov, wat aan die onlangse Internasionale Balletkompetisie in Kaapstad deelgeneem het, is albei in Letland in die Vaganova-balletmetode opgelei – Leimane deur Sarmite Fakse en Martinov deur Modris Cers.
Ek het hulle vertel van die balletgeskiedenis in die Kaap waar die Russiese skool nagevolg is, met veral Dulcie Howes wat saam met Anna Pavlova se geselskap gedans het, en Cecily Robinson wat saam met die Ballet Russe de Colonel de Basil gewerk het. Wou hulle dalk kommentaar lewer op die verskille tussen hul eie tegniek en dít wat hulle hier sien?
Volgens Leimane is “die beste opleiding dié in die Vaganovametode – dan neem jy elemente van oral en assimileer dit soos jy goed dink”.
Toe ek vra of hulle enigiets in hulle opleiding sou wil verander, het Martinov gesê: “Omdat die basis min of meer dieselfde is, sal ons enigiets wat beter is, probeer.”
Leimane voeg by dat elkeen deesdae iets van ’n ander leen. “Die dansers hier (soos dié wat ons in die kompetisie gesien het), sowel as dié in die VSA benader hul draaie sonder vrees,” sê sy. “Dis een van ons skool se probleme,” laat Martinov hoor.
“In Kalifornië glo die dansers dat jy die pirouette moet benader soos in ’n bofbal-aksie wanneer jy die bal slaan,” sê Leimane met ’n laggie. Ek neem aan wat sy daarmee bedoel het te make met middelpuntvliedende krag. “En ons is nie so goed met vinnige voetwerk nie, waarop hier en elders baie meer gefokus word. Ons opleiding beklemtoon dalk meer die gebruik van die bolyf ten koste van die onderlyf.”
As ’n mens kyk na die ontwikkeling van die Neo-klassisisme in ballet, waar spoed en briljante tegniek minder geag word en teatrale beweging belangriker, kon dít nie dalk die probleme veroorsaak het nie? My verwysing na die Bolsjoi-ballet se benadering as voorbeeld laat hulle glimlag. Volgens hierdie twee is die Bolsjoi-styl te teatraal en geaffekteerd. “Selfs hul buigings hou te lank aan. Ons verkies die Mariinski-geselskap (in St. Petersburg), by wie die kunsvorm meer verfynd is.”
Ek vra hulle ook ’n bietjie uit oor hoe die lewe deesdae vir ’n danser in Rusland is.
“Omdat daar so baie goeie dansers is, is die kompetisie natuurlik groot,” sê Leimane. “En in die groot geselskappe tree sommige hoofdansers net in twee produksies per jaar op.”
Martinov vertel dat daar ongelukkig minder manlike dansers opgelei word, want waar ’n danser voorheen hoog geag en as ’n held op die hande gedra is, word dieselfde vraag nou gevra wat altyd hier gevra is: “Maar wat doen jy vir ’n regte werk?”
Dansers bly meestal in dieselfde beroepsrigting wanneer die liggaam ouer word. Martinov wil “terugploeg wat ek nou ontvang”.
Leimane hoop om later in die administrasie van ’n geselskap te werk, want sy glo nie sy kan dans-onderrig gee nie. “Dis moeilik vir my om krities te wees en ander te dissiplineer.
“Maar ons droom ook om akteurs te word. Op 75 jaar is my ouma nog op die verhoog as aktrise en my oupa, Aleksandre Leimanis, is ’n bekende rolprentmaker. En Raimond se pa, Sergei Martinov, is ’n bekende operasanger.”
Martinov vertel dat hulle op skool dramaklasse gehad het, maar daar is meer gefokus op hoe om dansrolle te interpreteer. “Dis belangrik om nie te oordryf nie. Ons fokus op die rol asof ’n kamera reg voor ons gesig is, maar die mense in die agterste ry moet ons ook kan lees.” Leimane voeg by: “Daar is maar ’n klein treetjie tussen die tragiese en die komiese!”
Martinov waarsku dat ’n lyn getrek moet word tussen sirkus-agtigheid in tegniek en dans as ernstige kunsvorm, en ook die fokus van interpretasie. “Ek hou van realisme in ’n vertoning. Jy kan ook nie regtig iemand vertel hoe om ’n rol te interpreteer nie. Dis iets wat jy moet aanvoel, en vir elkeen is dit anders. Ek hou daarvan om met elke opvoering die rol te vertolk soos ek op die spesifieke dag voel.”
Leimane hou ook nie daarvan om voorgesê te word presies hoe om ’n rol te vertolk, “om in ’n boks gedruk te word” nie.
Die realisme waarvan Martinov praat, het hom in een opvoering baie goed te pas gekom. In die vollengte-ballet Le Corsaire het hy die rol gedans van een van die hoofkarakters, wat aan die einde van die eerste bedryf sterf. Die ander hoofkarakter het in hierdie bedryf ’n rugbesering opgedoen en Martinov moes toe weer “in die lewe geroep word” om hom te vervang vir die res van die opvoering.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |