Webwerf   Argiewe   Foto's   Netads 
WEER » n.a. Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SKOLE  

  KAMPUS  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  

  SUPER14  

  VERMAAK  

  BOEKE  

  ABSA KKNK  

  NETNAWEEK  


VERSEKERING
Spaar tot 25% by OUTsuranceKliek hier vir motor-, huisinhoud- en besigheidsversekering en ons bel jou terug.
Nicola Hanekom              Foto’s: SIMONE SCHOLTZ
Nicola Hanekom     Foto’s: SIMONE SCHOLTZ
Vermaak
Die nege lewens van ’n bittereinder
26/03/2008 09:16:01 PM - (SA)

Om aand ná aand, jaar ná jaar, te moet selfmoord pleeg, is nie vir wankelmoediges nie.

NICOLA HANEKOM (33) giggel onophoudelik. “Ek is so gatvol! Dis my derde selfmoord-play vir dieselfde fees – met dieselfde regisseur!”

Sy slaan haar oë op na die Swartberge, waar sy in een van Oudtshoorn se vele drinkgate sit.

Haar stem het dieselfde gedrewenheid as dié van ’n prediker in ’n charismatiese opwekkingsdiens.

“Ek is actually vreeslik happy op die oomblik, maar as jy nou morbied moet wees om jou huur te betaal, is dit seker oukei.”

Dié bloederigheid het begin met Altyd Jonker, toe Nicola in 2006 as Ingrid Jonker aand ná uitmergelende aand haar lyf teen ’n muur gewerp het. As gehoorlid en vriendin moes jy op jou tande kners, bid om genade, want jy wou nie sien hoe sy haar lyf verflenter nie. Jy wou ook nie sien hoe sy Ingrid Jonker word nie; hoe sy die tydelike keer op keer met die ewige moes verwissel nie.

Gelukkig het aktrises, soos katte, nege lewens, en kon sy uit die dood herrys om verlede jaar vir dieselfde regisseur, Jaco Bouwer, in Teer te speel. Sy knyp haar helderblou oë, wat genoeg energie het om aan Eskom te verskaf, toe. “Dit was ’n Duitse stuk deur Marius von Mayenburg, en die eerste line van die play was: ‘Ek wil selfmoord pleeg.’ Gelukkig het ek ’n sin vir humor, ek moet seker maar deur iets werk.”

EN vanjaar? Hierdie jaar is sy “M” in Smag, Willem Anker se briljante vertaling van Crave, waarin die smagting van al vier stemme op die verhoog dié na die dood is.

G’n wonder dat haar geliefkoosde reëls uit hierdie donker stemsimfonie deur die Britse dramaturg Sarah Kane, wat eweneens op 28 selfmoord gepleeg het, die volgende is nie: Stem A: “Sy’t gesterf”; stem B: “Mense gaan dood”; en stem M: “Dit gebeur.”

Nicola sug reddeloos. “Ek sê vir Jaco dis so ’n grootse line, ek weet nie wat om daarmee te doen nie! Die groot vraag wat jy ontgin as jy toneelspeel is tóg maar: Wat doen ons hier?”

Maar benewens die emosionele fiksheid wat Smag van die akteurs vereis, vra dit ook om ’n amper bomenslike tegniese vaardigheid. Dié stuk bestaan uit uiters private ­mededelings deur vier byna karakterlose stemme waarin die invalle en tydsberekening byna so netjies moet wees soos in ’n stuk klassieke musiek. Sy sit vorentoe. “Ek belowe jou, dis die moeilikste ding waaraan ek nog ooit gewerk het, want behalwe dat dit nogal emosioneel is – wat fine is – is dit uiters gefragmenteerd, en dis moeilik om jou plek te hou in die script. As jy ’n oomblik nie konsentreer nie, het jy jou inval gemis, en dan’s almal ge-rattle.”

MAAR teen hierdie tyd is Nicola al gewoond aan meer eksperimentele stukke, waarin die grense van die tradisionele, realistiese teater uitgedaag word. Vanjaar is sy ook op die fees te sien in Sandra Temmingh se Mag: Unplugged, waarin tekste van onder andere Breyten Breytenbach en Bartho Smit byeengebring is om ’n soort ­tafereel van die ewige sug na mag te skep.

Vir haar is dit egter nie ’n probleem om van die een karakter na die ander te glip nie, of selfs om dit sonder die beskerming van ’n karakter op die verhoog te waag nie. Sy praat al hoe vinniger. “Ek glo mos nie dat mens ’n karakter het nie, ek glo jy is al daai karakters – die probleem is dat mense jou typecast. Ek glo ek kan ’n pedofiel speel. Die enigste rede hoekom mense dink hulle kan dit nie speel nie, is jy verromantiseer jou eie identiteit.”

Sy skep asem. “Jy sal sien jong akteurs speel altyd dít wat hulle projekteer aan die buitewêreld. Hoe ouer jy word en hoe meer jy met jou dark side vrede gemaak het en besef jy’s eintlik wreed, hoe meer besef jy jy kan eintlik almal speel.

“Wat egter gebeur, is jy word
ge-cast vir dieselfde kwaliteite. Eintlik is jy ’n hele klavier, maar nou sien hulle jy speel ‘Chopsticks’ baie goed, nou huur hulle jou die hele tyd om net dít te speel.”

Want soos sy goed weet, as jy in wanhoop spesialiseer, vervaag die grense van die realiteit dalk. Haar oë is wyd oopgesper. “Ek kan sê ek het heeltemal my verstand verloor ná Altyd Jonker – fisiek en emosioneel.

“Partykeer moes ek ná die tyd ’n bottel vodka drink en twee slaappille en dan slaap ek stééds nie. Ek weet jy kry miskien elke ses jaar ’n rol waarin jy mense kan move op ’n baie spesiale manier, maar ná die tyd was ek nogal in ’n toestand, want ek het verskriklik blootgestel gevoel.”

OOR hoekom sy oorspronklik besluit het om ’n aktrise te word, is sy ook onthutsend eerlik. Sy lag weer soos ’n draaiorreltjie. “Want ek het ’n groot ego en ek’s ’n ekshibisionis! Ek dink ons is almal ridiculous dat ons vir mense geld vra om na ons te kom kyk, dis waar!”

’n Pouse. “Jy moet half verslaaf wees aan die adrenalien of aan die ekshibisionisme, of jy moet regtig graag wil spreek tot mense se siele.”

Die lig in haar oë verdof ’n oomblik. “Maar ek sal nie vir enige iemand aanbeveel om ’n aktrise te word nie; op ’n manier moet jy ook ’n masochis wees; jy moet dit regtig verskriklik graag wil doen.”

Want hoewel sy reeds net nadat sy klaar gestudeer het gehore na hul asem laat snak het as die gek Soekie in Diepe Grond, deur Reza de Wet, het die rolle in die jare daarna dikwels net drupsgewys gekom. Haar stem is vasberade. “Jy word soveel keer verwerp, behalwe as jy die flavour of the month is of in ’n sepie speel. Dis nie soos iemand wat kaas verkoop nie, want hulle sê nie nee vir die kaas wat jy verkoop nie, hulle sê nee vir jou.

“Ek was al baie werkloos, altyd onder die broodlyn, maar gelukkig was ek die afgelope paar jaar orraait; dat ek regtig kan sê goddank ek hoef nie heeltyd te panic nie, want ek dink werkloosheid tas mense aan op ’n manier dat dit hulle heeltemal ontmens. Ek dink op die ou end is unemployed actors bergies met te veel make-up aan.

“Baie akteurs gaan deur tye dat hulle ongelooflik struggle, maar hulle word net aanvaar omdat hulle artistiek is. Jy word egter verwyder van die samelewing, want jy’t geen kontak met mense as jy nie kan gaan fliek of ’n brood koop nie.”

GELUKKIG het sy die laaste tyd benewens haar rolle in Smag en Mag: Unplugged ook ’n TV-reeks losgeslaan – in Transito, van Deon Meyer. Haar stem styg ’n oktaaf.

“Ek het soveel pret gehad met Transito. Ek is een van die groot rolle – ’n chick wat perlemoen smokkel met so ’n afgesaagde shotgun wat ’n gat in die dak skiet. Ek ry so ’n nice kar, met brille, en ek word gemartel, wat moerse cool is.”

Intussen dra sy vyfuur soggens klippe aan vir haar akteursvriend, Grant Swanby, wat vir hom ’n huis van natuurlike produkte in die Klein-Karoo bou. Sy probeer ook haar eie eenvrou-vertoning skryf oor ’n maniese vrou wat op ’n trapmeultjie in die Virgin Active draf, en sy gee so nou en dan kursusse in toneelspel.

Op haar oudag hoop sy om steeds ’n aktrise te bly. Sy lag, duik dan in vir een van haar marathonsinne. “Ek wil so ’n supergesonde outannie wees met effe grys hare en ’n bolla en suiwer katoenklere wat op haar kop kan staan vir twintig minute, miskien al ’n film gemaak het en miskien boer met waterblommetjies of so iets. Tussendeur wil ek act ook. Ek sal ook graag ’n hond wil hê, en ’n paar hoenders, en dalk kan ek tussendeur regie doen.”

SY twyfel egter of sy weer soos in ons jeug as ’n engel sal aantrek – van kop tot tone silwer geverf. ’n Engel wat dikwels in die middel van nêrens op een beentjie langs ’n besige pad gaan staan het.

Want as jy Ingrid Jonker is, kan jy seker ’n engel ook wees. Veral as jy ’n bittereinder is wat selfs in die hiernamaals nog sal aanhou spook.

Sy lag daardie halleluja-lag. “Nee, ek wás altyd ’n bittereinder, maar deesdae gaan dit met my goed; so, ek is nie meer so bitter nie.”

Sy skep asem; as jy nege lewens het, het jy baie asem. “Ek’s lucky ek’s employed, dis maar al. Dan’s jy orraait, dan kan jy vir ewig aanhou. Party mense het kanker, hulle staan daar met ’n tumor aan die kant van die pad, hulle het nog nie eens ’n toebroodjie gehad in ’n week nie, verstaan jy.”

’n Stilte. “Dis waar.”

    
VIND
Reis & Verblyf
F1 Produkte
Internasionale Lotto
Motor Huur
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Versekering
Dekor
Motors
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.
VIND
Reis & Verblyf
F1 Produkte
Internasionale Lotto
Motor Huur
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Versekering
Dekor
Motors
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |