|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() iKung-vrou van François Krige.
Vermaak
Feesvoses kan kuns op Calitzdorp en Montagu bekyk
26/03/2008 09:17:31 PM - (SA)
MONTAGU. – Feesgangers op Oudtshoorn word teen dié tyd al feesvoos. Nou begin hulle ander weivelde soek en die omliggende dorpe verken.
Calitzdorp is ’n sjarmante dorpie, naby genoeg aan Oudtshoorn vir ’n vinnige uitrit. Dis slegs 40 km ver en hier kóók dit van die kuns.
Boonop kan Kapenaars met hul terugreis langs Roete 62 sommer op Montagu ook aandoen om hier die kuns te besigtig.
Op Calitzdorp is ’n versameling van sowat dertig naakstudies deur verskillende kunstenaars te sien – van Picasso-afdrukke tot skilderye uit die befaamde François Krige-ateljee van die Montagu-museum.
Dié tentoonstelling word gehou in een van die Spekboom-huisies by die Naked Lady-kroeg. Die werke is bymekaar gemaak deur twee kunsversamelaars van die ateljee The Blue Easel op Montagu.
Verder sluit die tentoonstelling werke in van talle ander kunstenaars, soos Bill Davis en Walter Battiss.
Die jong kunstenaars Erna Cooper, Lehla Eldridge en die beeldhouer Michael van Rooyen, wat al drie in Montagu woon en werk, asook Maraja Badenhorst, ’n jong Oos-Kaapse skilder wat in kunskringe vinnig opgang maak, is ook hier verteenwoordig.
Die tentoonstelling is gereël deur die kurator van die Krige-versameling op Montagu, Blackie Badenhorst, en haar vennoot, Michael van Rooyen.
’n Poskaart-grootte afdruk van die bekende !Kung- vrou (1984) van Krige is by die uitstalling te koop, asook plakkate van skilderye.
Hoewel Krige-skilderye nie meer te koop is nie, het sy suster, Suzanne Fox (wat die ateljee besit en Badenhorst as kurator aangestel het), talle groot naakstudie-tekeninge te koop aangebied.
Die tentoonstelling is nog tot 31 Maart op Calitzdorp te sien, waarna dit na Montagu verskuif en van 5 tot 30 April in The Blue Easel-ateljee daar gesien kan word.
The Naked Lady-ateljee op Calitzdorp is geleë in Randstraat 9. Die Blue Easel-ateljee op Montagu is in Joubertstraat 35. Rig alle navrae oor die tentoonstellings aan Van Rooyen by 0 073 194 5755.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |