Webwerf   Argiewe   Foto's   Netads 
WEER » n.a. Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SKOLE  

  KAMPUS  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  

  SUPER14  

  VERMAAK  

  BOEKE  

  ABSA KKNK  

  NETNAWEEK  


VERSEKERING
Spaar tot 25% by OUTsuranceKliek hier vir motor-, huisinhoud- en besigheidsversekering en ons bel jou terug.
Frank Opperman is weer te sien as Pottie Potgieter in die skrywer Dana Snyman se toneelstuk Wyk 14. Foto: LEANNE STANDER
Frank Opperman is weer te sien as Pottie Potgieter in die skrywer Dana Snyman se toneelstuk Wyk 14.    Foto: LEANNE STANDER
Vermaak
Pottie boor ’n aar raak
26/03/2008 09:11:23 PM - (SA)

OUDTSHOORN. – ’n Lang tou mense kronkel van die ingang van die Klipdrift-banketsaal pad se kant toe; dit loop parallel met Voortrekkerstraat voordat dit regs draai en in die verte verdwyn.

Hulle wag nie vir roosterkoeke, of bier, of ’n gaatjie om te gaan piepie nie. Hulle is gebonde aan ­mekaar deur die kaartjies wat hulle vashou en wat toegang verleen tot die eerste vertoning van Wyk 14.

Dit is die nuwe verhoogstuk uit die pen van die bekroonde joernalis Dana Snyman en waarin Frank Opperman weer lewe blaas in die rol van Pottie Potgieter.

Kortliks die konteks: Pottie is steeds werkloos en het hom verkiesbaar gestel as onafhanklike kandidaat in die munisipale wyksverkiesing.

En al is dit nie ’n resensie dié nie, voel ek net verplig om te noem dat dié stuk vir my absoluut fantasties was. Die een oomblik lag jy, dan huil jy en dan huil én lag jy.

Met die gevolg dan dat die knop in my keel nog stewig ronddobber toe ek en Frank ná die show oor die pad stap tot by Die Burger se Glaskas, waar ons Dana ontmoet vir dié onderhoud.

Goed; so, eerste dinge eerste: ’n Ronde Black Labels word bestel en Frank steek ’n Camel Filter op wat hy uit ’n half-verfrommelde softpack te voorskyn bring.

Frank: “O jirre, Dana.”

Dana: “Jy’t goed gedoen, Frank.”

Terwyl daar aan die bier geteug word, oorpeins die twee hul eerste vertoning. Frank noem dit ’n dress rehearsal.

Hoe kry hulle dit reg om mense so aan te gryp, wonder ek, want kennelik het hulle ’n aar raak ­geboor met Pottie.

Frank: “Almal in Jo’burg wil f—f. Dis topical en almal gesels daaroor.”

Maar hoewel hulle nie blind is vir Suid-Afrika se foute nie (hulle raak byvoorbeeld in die stuk aan die Eskom-krisis, die chaos vroeër rakende eNaTIS, misdaad en die behuisingskrisis), is hulle stoere ondersteuners van die land en is hoop eintlik maar die boodskap van Wyk 14.

Sê Dana: “Ons is sendelinge van die nuwe Suid-Afrika. Wel, Frank is seker die sendeling en ek is die teoloog.”

Frank voeg by: “Ons is al deur baie k—k in die land. Mense kan nie nou tou opgooi nie. Mense sê al jarre dis nag in die land.”

“Ons wil hoop skep,” seg Dana. “Ons is fans van die nuwe Suid-Afrika. Dié is protesteater. Ja, die regering jaag k—k aan, maar ons is fans van die proses.”

Die realiteite van die land kou maar aan hulle ook, nes aan ons ­almal.

“Hel, ons almal voel so. Sê nou maar ons het in Nieu-Seeland ­gesit, dan het ons waarskynlik oor Suid-Afrika gepraat,” laat hoor Dana van hom. “Maar die lewe is hard. Niemand het ooit gesê dit is nie. Die lewe is nie ’n uitstappie Sun City toe nie.

“Daar is mense wat om goeie ­redes die land verlaat, maar baie mense gaan bloot omdat hulle nie die effort wil maak nie.”

Frank tree in: “Daar moet planne gemaak word. Die f—k weet, dit is nou so.” Dana voeg by: “Ons is hier om planne te maak.”

Die een of ander tyd maak nóg Black Labels hul verskyning – dié slag word daar nie gebodder met glase nie.

Die gesprek draai weer na die land.

“Daar is soveel beautiful goed wat in die land gebeur,” sê Dana.

Frank: “Sou ons die World Cup wen? Daar was sweerlik nie een ou wat so sou sê nie. Ons is só negatief in die land. Ons bly in ’n land van f—n melk en heuning.”

Ek voel geroepe om aan Dana te vra hóé hy dit regkry om sulke aangrypende stories te skryf.

“Ek is maar net ’n fan van stories. En per ongeluk like stories my. Baie mense dink skryf is hierdie arty farty-ding. Ek is nie so nie.

“Ek wil net die gewone ou se frustrasies verwoord, want ek’s ’n gewone ou. Ek wroeg meer oor die Stormers se vaste vyf as die betekenis van die lewe.”

Frank noem êrens Pottie se ­Engels, wat maar soms beroerd is, is voluit Dana. Soos die ironie dit wil hê, word dit met ’n voorbeeld geïllustreer terwyl Dana ’n laaste ding oor sy skryfwerk noem: “Vir my, it must rings true. O jirre, daar doen ek dit! (Frank en ek giggel soos skooldogtertjies.) Maar ja, it must rings true.”

In ’n stadium kom drie blikkies Black Label uit Dana se sak te voorskyn wat skuim as dit oop­gemaak word.

Die gesprek neem weer ’n politieke draai met Frank wat opmerk “Ons bly in Afrika. ’n Rassis moet f—f.”

Droogweg merk Dana op: “Ek knik my kop instemmend.”

Hulle meen albei dat introspeksie belangrik is vir almal in Suid-Afrika.

Sê Dana: “Ek is baie lief vir Afrikaners, maar hulle maak my soms só die móér in.”

Dis net hier waar Frank met ’n skalkse glimlag intree met: “Ek knik mý kop instemmend.”

“Maar ons maak f—n planne. En dáái ouens (wat planne maak) het ek tyd voor,” maak Dana klaar.

Met Die uwe Pottie Potgieter het hulle die land platgetoer – meer as 160 shows gedoen en ook klein dorpies soos Leipoldtville aangedoen.

“Veter (theatre) for de people,” soos Frank dit noem (met ’n knik in die rigting van Dana).

Hulle wil meer shows doen metWyk 14 en beplan om tot die volgende verkiesing in 2009 op te tree.

“Gaan stem, maar stem net vir iemand beter as Pottie, nie iemand k—kker nie,” merk Dana op.

Hy besing toe ook die lof van Frank: “Ek is ’n student van die Frank Opperman School for Scriptwriting. Ek try vir ’n onderskeiding.

“Ek grap nou, maar weet jy hoe bevoorreg ek is? Ek het maar in die (teater)ding ge-drift. Ouens gaan swot dié goed en hier kry ek verniet lesse by Frank.”

Hulle werk tans aan ’n TV-reeks oor Pottie vir SABC2.

Die plan is, tentatief, om dit teen Maart volgende jaar op die kassie te hê.

“Dis nie die laaste sien van Frank Opperman en Dana Snyman nie,” sê Frank voordat ons ons laaste bier afsluk en groet.

Die knop in my keel is terug.

*Wyk 14 is nog môre om 15:00, Vrydag om 17:30 en Saterdag om 15:00 in die Klipdrift-banketsaal te sien. Kaartjies kos R80.

    
VIND
Reis & Verblyf
F1 Produkte
Internasionale Lotto
Motor Huur
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Versekering
Dekor
Motors
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.
VIND
Reis & Verblyf
F1 Produkte
Internasionale Lotto
Motor Huur
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Versekering
Dekor
Motors
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |