Webwerf   Argiewe   Foto's   Netads 
WEER » n.a. Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SKOLE  

  KAMPUS  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  

  SUPER14  

  VERMAAK  

  BOEKE  

  ABSA KKNK  

  NETNAWEEK  


VERSEKERING
Spaar tot 25% by OUTsuranceKliek hier vir motor-, huisinhoud- en besigheidsversekering en ons bel jou terug.
Chris Chameleon weet dat waatlemoen goed is vir jou.Foto: LEANNE STANDER
Chris Chameleon weet dat waatlemoen goed is vir jou.   Foto: LEANNE STANDER
Vermaak
Onderhoud met Chris Chameleon (oor ’n skyfie waatlemoen)
26/03/2008 09:10:53 PM - (SA)

OUDTSHOORN. – ’n Man kom by die trappe van die gastehuis se stoep opgestap. Hy dra ’n groot groen waatlemoen op sy regterskouer. Dié sit hy op die tafel neer en haal sy vermomming af.

“Wil julle waatlemoen hê?” vra Chris Chameleon. “Dis baie goed vir jou.”

So het Chris Chameleon nodig om ’n vermomming te dra?

Hy het, en hy is immers ’n verkleurmannetjie. “Jy kan jou kleure verander, maar jy moet klere aan hê. Maar kleur is nie so ’n groot probleem soos vorm nie.”

Met dié gebruiklike verkleurmannetjie-verwysing agter die rug kan ’n mens met die behoorlike onderhoud begin.

Maar eers: ’n Skinkbord en mes verskyn en Chris val die waatlemoen aan. Hy gee vir my ’n skyfie soet waatlemoen, ook aan Die Burger se fotograaf, Leanne Stander.

Tienuur die oggend het hy sy eerste vertoning, genaamd “Klassieke Chameleon”, by vanjaar se Absa KKNK gehad. “Dit was wonderlik gewees. Oudtshoorn se stof het in my keel gesit. Maar as die hele gehoor soos een man opstaan, vertrou ek nie my eie oordeel nie.”

Staan mense nie maar net op omdat dit Chris Chameleon is nie?

“Dit maak nie regtig saak of die mense opstaan vir die afgelope uur of die afgelope 20 jaar nie. Dit maak nie regtig saak nie.

“Ek dink dit is onbeleefd om die aard van jou lof voor te skryf. Mens moet ontvanklik wees daarvoor.”

Dis ’n gesukkel om waatlemoen te eet, vrae te vra en notas te neem, merk ek op.

“Om waatlemoen te eet, is soos ’n vrou en kinders – dit verg toewyding.”

Aaa-haaaa, dink ek. Hier’s ’n gaping, wat die hart van vol is, loop die mond van oor. So is daar planne vir ’n vrou en kinders?

“Absoluut nie!” antwoord Chris onmiddellik. Maar dan, ná ’n paar sekondes en ’n happie waatlemoen: “Daar is planne om absoluut geen sulke planne te hê nie.”

Chris kies sy woorde versigtig, weeg elkeen, sit dit op die regte plek in die sin. Hy sê presies wat hy wil sê. Niks meer nie.

Hy sê musiek is vir hom net ’n werk.

“ ’n Lekker werk. Ek doen dit veel eerder as om in ’n bank te werk.”

Self luister hy selde na ander musiek. “Dis nie nodig om jou idees by ander te kry nie. Daar is gans te veel musiek waarvan die wortels te opsigtelik is.

“Tussen Nana Mouskouri en System of a Down het ek alles gehoor wat ek wil hoor. Die res maak ek self.”

En hy word glad nie moeg om keer op keer dieselfde liedjies te sing nie.

“Dis mos soos eet of seks of so. Jy word nie moeg daarvoor nie. Dis elke keer die heerlike selfde ervaring om daai liedjie te sing.”

Benewens die musiek is hy ook ’n begaafde akteur.

“Om tyd vir musiek en toneelspel in te ruim, is baie moeilik. Musiek verg juis dat jy altyd reis. Toneelspel eis dat jy elke dag op dieselfde stel verkeer.

“Dis soos ’n politieke joernalis. Hoeveel politieke joernaliste ken jy wat ’n tuin en ’n hond het? Dis basies hoekom ek nie ’n vrou en kinders het nie.”

Daar is tog ’n mate van toneelspel in sy musikale uitvoerings.

“Die twee is definitief verweef. Soms is jy baie gelukkig, maar jy sing ’n hartseer liedjie. Dit verg ’n bietjie toneelspel, maar in ’n stadium tref jy daai senuweetjie wat seermaak en dan ís jy hartseer.”

Dit is maar dieselfde vir ’n akteur, sê hy. “Dit is ’n kwessie van direkte empatie. As gevolg daarvan is dit eintlik ’n ongesonde beroep. Jy sit jou liggaam en gees deur die emosie. Jy sterf drie maal in een dag en jy ontvang drie maal ’n dag ’n kind in die lewe.

“Al daardie vreugde, al daardie leed.

“ ’n Kenmerk van alle goeie dwelmhandelaars is dat hulle nie self verslaaf is aan dwelms nie. In my beroep, as jy met emosies smous, gaan jy ook versigtig met emosies om.”

Intussen het ’n Nederlandse sangeres, Monica Akihary van die groep Boi Akih, by die gastehuis opgedaag. Sy herken vir Leanne en sê hallo. Chris bied haar ’n stukkie waatlemoen aan en die twee redekawel in Nederlands oor watter Nederlandse stede die beste is.

Chris het op verskeie reise na dié land die taal leer praat. Hy gaan vanjaar weer vier keer na die Lae Lande – in April, Junie, Augustus en Oktober.

Hy sê dié reise het nie werklik ’n direkte invloed op sy musiek nie.

“Jou musiek is mos maar eintlik ’n uiting van wie jý eintlik is. Dit (die reise) beïnvloed jou verwysingsraamwerk.”

Chris Chameleon het al ’n magdom onderhoude toegestaan. Hoe kry jy iets wat nog nooit vantevore in die rieme en rieme kopie oor die man verskyn het nie? Jy probeer: “Wat is die vraag wat jy nog nooit gevra is nie, maar al gevra moes gewees het?”

’n Stilte, en dan: “Nie daai een nie!”

Nog ’n stilte en ’n ironiese glimlag voor hy sê: “Ag, jy weet. Skoenmaker hou jou by jou lees. Ek los dit vir die joernaliste. Ek antwoord maar net.”

En ja, hy kry maar oor en oor dieselfde vrae, maar dit pla hom nie juis nie.

“Voor ’n vertoning vra ek altyd wie is vir die eerste keer hier. Die helfte van die hande gaan op.”

Hy meen die kanse is net so goed dat die helfte van die mense ook nog nie dieselfde ou antwoorde op dieselfde ou vrae gehoor het nie.

Maar wat is die ding wat Suid-Afrika, wel, eintlik Die Burger se lesers, nog nie oor Chris Chameleon weet nie?

“Nee, hulle weet al klaar te veel,” sê hy sag, amper skaam, en tuur in die verte. Glimlag dan vriendelik terwyl ’n halwe waatlemoen se skille op die tafel lê.

“Is die onderhoud nou verby?”

Dit is.

    
VIND
Reis & Verblyf
F1 Produkte
Internasionale Lotto
Motor Huur
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Versekering
Dekor
Motors
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.
VIND
Reis & Verblyf
F1 Produkte
Internasionale Lotto
Motor Huur
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Versekering
Dekor
Motors
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |