|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Christopher Fouché hier op die verhoog terwyl hy die verhaal van sy tuisdorp met dans en sang vertolk. Agter hom is die res van die deelnemers aan die produksie. Foto: VERSKAF
Vermaak
Oudtshoorn se storie kry lewe in kabaret
25/03/2008 08:43:29 PM - (SA)
OUDTSHOORN. – Kén jy die geskiedenis van die Volstruisdorp wat jy jaarliks besoek?
Weet jy byvoorbeeld dat die eerste volstruisvere reeds in 1826 uitgevoer is? Weet jy dat daar in 1871 daarmee begin handel dryf is? Al daarvan gehoor dat dit in 1914 die jaar van die “val van die vere” was?
Die ryk geskiedenis van die dorp word in die energieke kabaretopvoering Journey to Kannaland deur nege plaaslike inwoners van Bridgton vertel.
Terloops, dié berig is nie ’n resensie nie. Maar daar moet genoem word dat die kabaret boeiend en vol léwe is. As alle geskiedenislesse maar só was.
Twee van die akteurs, Christopher Fouché en William Phillipus, sit oorkant my enkele minute ná hul optrede.
Ons gesels ’n ruk lank oor hul teatergeskiedenis en hoe hulle amper soos ’n hegte familie in die kabaret voel.
Hul professionele opvoerings het drie jaar gelede begin met Struisvogelstories en daarna Starwalkers, wat albei ook die geskiedenis van Oudtshoorn uitbeeld.
Die meeste van die akteurs het saam aan dié twee produksies gewerk voordat hulle Journey to Kannaland gedoen het.
Die befaamde teaterman Elton Landrew, wat ook die eerste keer sy lyf skrywer en regisseur gehou het, het in November verlede jaar aan die teks vir Journey to Kannaland begin werk.
Christopher en William gesels sonder fieterjasies.
Gangsterism en ander “moeilike omstandighede” speel ’n rol in hul lewe. Of hét. Hul teaterdrome het hulle egter van dié lewe bevry.
Maar terug by die produksie: Dit vertel die geskiedenis van Kannaland uit die mond van slawe, kombuis- en plaaswerkers.
Dié produksie kan Oudtshoorn nog bekender maak as wat hy reeds is, sê hulle trots.
“Hul doel is ook om deur vertonings die kunste as ’n vehicle te gebruik en op ontwikkeling in ander gemeenskappe te fokus,” vertel Salomé Combrink, vervaardiger van die produksie.
Sy is die uitvoerende beampte van Karos & Kambro, wat dié produksie moontlik gemaak het.
“Ons glo dat Oudtshoorn ’n talentvolle plek is, die mense daarbuite moet besef ons hét iets,” sê Christopher.
“Ons kom ook deur baie dinge; ons het nog nie self arrive nie, maar ons het baie gedoen,” voeg William met ’n skalkse glimlaggie by.
Hulle praat soos uit een mond wanneer hulle sê hulle voel trots om hul eie geskiedenis oor te dra.
“Ons ma’s, familie, bure het almal op die openingsaand die show kom kyk en sê dat dié show Oudtshoorn wêreldbekend kan maak.
“Daar’s altyd hoop en baie moontlikhede.
“Ons moet net nie bang wees om ’n kans te vat nie.
“’n Mens kan ook uit moeilike omstandighede kom en iets van jou lewe maak. Somehow moet iets vir my kan sin maak en die teater het ’n groot impak in my lewe gemaak.
“Ek wil ’n soort voetspoor los.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |