|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Oorrompel: Mel Botes besing Pink Floyd se lof. Foto: LEANNE STANDER
Vermaak
Fassinerende Pink Floyd skyn voort in nuwe Botes-stuk
24/03/2008 08:02:18 PM - (SA)
OUDTSHOORN. – Johann Sebastian Bach, Ludwig van Beethoven en Pink Floyd.
Dalk ’n aardige mengeldrankie van musici, maar saamgesnoer in meesterlikheid. Altans, dis wat die kitaarslaner Mel Botes meen.
“Want oor 500 jaar gaan mense sê: Bach, Beethoven en Floyd,” filosofeer hy op die stoep van die huis waarin hy vir die duur van sy feeservaring tuisgaan oor dié Britse psigedeliese rockgroep.
Botes is op Oudtshoorn om sy saluut aan Pink Floyd te gee in sy produksie Crazy Diamond – A tribute to Pink Floyd.
Terwyl Botes se seuntjie Melchior die animasiefliek Shrek teen ’n duidelike volume kyk, gesels ons buite oor ’n koppie tee oor Pink Floyd en dié betrokke stuk. Later sluit Richard Nosworthy, wat die regie van die stuk behartig het, hom by ons aan.
“Dié ding broei al vir die afgelope 10 jaar in my,” merk Botes op.
Hy vertel hy is op skool, in 1979, vir die eerste keer aan Pink Floyd blootgestel.
“Ek was totally fascinated. Daar was net iets. Ek het dit nie verstaan nie.
“Hel, ek onthou dit was nog so ’n langspeelplaat van The Wall. Ek het niks dieper gesoek nie.”
En die feit dat die album verban is, het ook sy belangstelling help prikkel.
Ná skool is hy weermag toe. “Soos die jare aangaan, het ek die emotional wreckage afgeskud” en het Pink Floyd hom totaal oorrompel.
Maar hoe begin jy om aan so ’n enorme stuk te werk, aangesien Pink Floyd so ’n magdom werke geskep het?
“Ons moes ’n set list saamstel. En hoe de donner kies jy dit? Wat ek toe gedoen het, was om ’n paar mense te nader. Soort van Pink Floyd-connoisseurs.
“Aan die begin het ek gedink: How the hell?”
Ná baie navorsing van hul kant af het hulle op 31 snitte vir dié vertoning besluit. Daar was 15 snitte waarsonder hulle net eenvoudig nié kon nie, insluitend “Another Brick in the Wall”, “Wish You Were Here” en “Comfortably Numb”. Die res, as ’t ware, was aanvulling.
Botes het “vier tot vyf maande” aan die stuk gewerk.
Dis egter nie net Pink Floyd se storie nie. As Pink Floyd die tema is, is Syd Barrett (voormalige lid van dié groep) die sub-tema.
Nosworthy aan die woord: “Die storie is eintlik Syd Barrett se storie. Basies, toe ek navorsing vir die stuk gedoen het (hy het elke album van Pink Floyd gekoop en intens daarna gaan luister), het ek agtergekom watter impak Barrett gehad het.
“Hy het net op die eerste album (The Piper at the Gates of Dawn) gespeel, maar sy invloed was ongelooflik. Alles wat Pink Floyd gedoen het, kan teruggespoor word tot by Barrett.”
En toe hulle op ’n naam vir die show moes besluit, het Barrett se invloed ook deurgeskemer.
Botes: “Somehow het dit sin gemaak om dit Crazy Diamond te noem, want Syd was dié karakter (in die liedjie “Shine On You Crazy Diamond”).”
Botes meen wat Pink Floyd betref, is daar twee soorte mense: dié wat versot is daarop en dié wat dit haat. “En as ek sê haat, meen ek dis vir hulle onluisterbaar. Dit het te doen met verstaan, dink ek. As jy dít eers verstaan, sal jy mal wees daaroor.”
Die show word met ’n vol band gedoen, want “ek is nie ’n backtrack artist nie”, aldus Botes.
“Dis pure Floyd. Maar ons het dit nie net so probeer recreate nie, want hoe gaan jy dit doen? En dan kan jy net sowel na die CD’s luister. Dis maar altyd ’n interpretasie.”
Maar dis nie net musiek nie, daar is ook visuele kuns betrokke.
Nosworthy verduidelik: “Daar is ’n visuele snit vir elke liedjie wat spesiaal ontwerp is. Dit moet die musiek komplementeer en nie jou aandag van die band aftrek nie.”
Volgens Botes is dié stuk ’n opbou na sy beplande Afrikaanse rock-opera van volgende jaar. Maar vrees nie, Pink Floyd-aanhangers, hy is nog nie klaar met dié groep nie.
“Ons gaan waarskynlik ’n Pink Floyd Part Two doen.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |