|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Dirk de Villiers Foto: TARRYN CARR
Vermaak
’n Liefde en jaloesie vir die filmkuns
19/03/2008 08:10:52 PM - (SA)
“AS ’n bobbejaan nie van jou hou nie, kan jy maar vergeet om met hom te werk. Bobby die bobbejaan in Kalahari Harry het van my gehou. Ons het voor mekaar gesit. Hy het my skoenveters losgemaak, eers my skoene uitgetrek, toe my kouse en toe het hy my broekspype opgerol. Ons het toe goed reggekom.”
Die stories agter die storie is dikwels interessanter as dié in rolprente. Dit kom ’n mens gou agter as jy met die rolprentmaker Dirk de Villiers gesels. Dit blyk gou dat rolprentmaak ’n wavrag geduld en nog meer humor vra. Insig in mens en dier en goeie outydse regiewerk is ook deel van die pakket.
De Villiers het in sy loopbaan van sowat ses dekades 28 rolprente, 25 televisiedramas en verskeie dokumentêre gemaak. Van hulle verteenwoordig hoogtepunte in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.
Van hulle gaan op die KKNK vertoon word, en hy gaan ook op die fees vereer word.
“Hoe dink jy gaan hulle my vereer?” is sy eerste vraag aan die uwe. “Met ’n cloak, ’n dagger en ’n hoed? Ek dink nie eintlik daaraan nie. Ek dink die lekkerste gaan wees om met mense oor die rolprente te gesels.”
Hy rits vinnig ’n klomp inligting oor die rolprente op die fees af.
Die dokkie Kango was die moeilikste werk wat hy ooit gedoen het. Hy en die filmspan moes dae lank in die donker werk nadat hulle met al die toerusting deur ’n leeggepompte wateraar moes kruip. Die prente My Broer se Bril en Arende is twee wat hom na aan die hart lê. Die eerste was oorspronklik vir die verhoog geskryf. Hy het hierin heelwat van sy eie familie ingewerk. Die tweede is gemaak ná ondervindings en vertellings van sy eie oupa.
“Na my beskeie mening is Arende die beste reeks wat ooit op televisie vertoon is. Ek was so jaloers en besitlik oor die reeks dat dit meer as twee jaar geneem het om die rolprent te maak. Ek was sentimenteel oor tonele wat uitgesny moes word. Tot vandag toe raak ek skoon bewoë as ek na Arende kyk. Ek is baie emosioneel oor hierdie projek.”
Die Geheim van Nantes was ’n radioreeks wat hy na die silwerdoek moes verplaas.
“Dit het al die elemente van ’n lekker rolprent. Dit speel op ’n wynplaas af met liefde, inhaligheid en al die dinge wat vir mense interessant is.
“Alles wat ek doen, moet ’n klein lessie iewers in hê. Dit moenie oorweldig nie, maar dit moet daar wees, dit moet vir mense iets sê. Ek maak nie ’n ding om ’n prys te wen nie, maar dis lekker as ’n mens vereer word.”
Hy dink ’n wyle voordat hy oor die verering op die KKNK praat.
“Hierdie een is vir my half ’n sad story. Ek voel so half my laaste trip na my laaste erkenning.”
Hy vertel van die hartaanval van ’n week of wat gelede, van die keer twee jaar gelede toe hy drie weke lank in ’n koma was ná ’n operasie.
“My lêplek is deesdae lekker tussen my medisynebotteltjies, my TV en die waaier in my dak.”
Maar hy vertoef nie te lank by hierdie onderwerp nie. Hy praat eerder oor sy volgende projek – die dramatiese gebeure rondom die eerste hartoorplanting met Chris Barnard as die sentrale figuur.
Ook hier is die storie agter die storie baie interessant. De Villiers probeer al 40 jaar om hierdie rolprent te maak. Verskillende draaiboeke is al geskryf en ontwikkel. Verskeie probleme het die een ná die ander poging gekelder.
“Die draaiboek is nou geskryf met al die jaloesie, die spioen in die hartspan, die gewese eerste minister John Vorster se dreigemente teenoor Barnard. Alles is daarin. Die titel is Red Inside, Chris se eie beskrywing oor hoe die mense met wie hy werk lyk – almal is rooi van binne.”
De Villiers het Kevin Costner in die oog vir die rol, maar die naam Pierce Brosnan is ook genoem.
Gevra hoeveel akteurs wat vandag sterre is by hom begin het, antwoord hy: “Skrikwekkend baie.”
Hy glo akteurs het ’n spesifieke taak. Hulle moet “in die kyker se siel inkruip”.
“Ek is ’n outydse soort regisseur. Ek staan langs die kamera, kyk die speler in die oog. Ek moet sien dat hy sy woorde glo, nie net ken nie.”
Sy passie vir sy werk en die lewe is op 83 nog duidelik.
“Ek het ’n lewe van stabiliteit prysgegee om rolprente te maak. Ek het myself uitgeleef. Deur my werk kon ek sê wat ek wou. As jy nie kan doen waarvan jy hou nie, kan jy net so wel dood wees.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |