|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() NP van Wyk Louw Foto: DESMOND WINDELL
Vermaak
Woordkuns op Oudtshoorn bied ryke verskeidenheid
19/03/2008 08:17:35 PM - (SA)
WOORDKUNSPRODUKSIES op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) bied aan feesgangers werke van die grootste en interessantste Suid-Afrikaanse woordsmede.
Die vlagskip-woordkunsproduksie op die KKNK vanjaar is NP Van Wyk Louw se epiese gedig Raka en sal met woord, sang, klank, beeld en beweging vertolk word. Trudie Taljaard is die regisseur. Van 25 tot 29 Maart word dit in die Burgersentrum op die planke gebring met die choreografie van Esther Nasser. Daarin is Taljaard, Lerato Moloi, Vuyelwa Booi, André-Jacques van der Merwe en die Jozi-dansgeselskap.
’n Gratis gros hoorbeelde onder die titel Die Beiteltjie, is van môre tot 27 Maart in die RSG-Smit-kamer te hoor. Onder die talle tel Blindemol deur Chris Barnard en Kanna hy kô hystoe deur Adam Small.
In Echoes / Eggo’s van 26 Maart tot 28 Maart in die Laerskool van Reede-saal word die lewe van vier slawe gekarteer. In hierdie Afrikaanse en Engelse produksie word stories met akoestiese musiek verbind. Die teks is deur Jackie Loos en die vertaling deur Royston Stoffels. Denise Newman, Bronwen van Graan, Lavona de Bruyn en Stoffels tree daarin op.
Die vertolkingsprogram Ekspedisies is van môre tot 24 Maart ook in dié lokaal. Dit geskied in Afrikaans, Engels en Xhosa met ’n teks van Wilma Stockenström. Die verwerking en regie is deur Heike Gehring. Die First Physical Theatre Company, Tshegofatso Tlholoe, Gehring, Alan Parker en Tsego Khutsoane tree daarin op, en Stockenström se stem is te hoor. Die opvoering word beskryf as ’n magies realistiese multimedia-teaterproduksie.
Alles behalwe die geheim van my whiskeys is die titel van Rachelle Greeff se gebundelde rubrieke.
Sy praat môre oor dié boek in die Eetkamer.
Op 23 Maart praat Martie Meiring in die Eetkamer oor haar biografie van Elita de Klerk.
In Dubbel Goosen op ys, op 25 Maart in die Eetkamer, is Jeanne Goosen aan die woord.
Van 25 tot 28 Maart kom gemeenskapsteater aan die beurt in die Eetkamer met Karoo Digters. Daarin sal onder andere Poem Mooney, André Boezak, Jan van Wyk en Hans Oosthuizen aan die woord wees.
André le Roux praat op 24 Maart in die Eetkamer oor sy nuwe bundel kortverhale Kom ons sit sommer by die tafel, en op 26 Maart praat Hermann Giliomee daar oor Nuwe geskiedenis.
Op 22 Maart is Johann Engelbrecht aan die beurt.
In Klets, Klawers en Kitaar van môre tot 25 Maart in die Klipdrif-banketsaal word stories vertel met musiek. Die teks is geskryf deur PG du Plessis en die regisseur is Ollie Viljoen, met Viljoen, Valiant Swart, PG du Plessis en Pietman Geldenhuys.
Dit is ’n program van humoristiese, aardse vertellings uit die volksmond, ingekleur met ritmes uit die diverse Suid-Afrikaanse musiekskatkis.
Besoek www.kknk.co.za.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |