Vleis kan uitdraf ná flank weke langs kantlyn is
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
PORT ELIZABETH. – Met Devin Oosthuizen op die krukkelys kan Vleis Engelbrecht hom vandag weer in die Southern Kings se beginspan bevind.
Die Kings speel Saterdag in ’n vriendskaplike rugbywedstryd hier in die Nelson Mandelabaai-stadion teen die Stormers.
Engelbrecht was Saterdag een van die Kings se plaasvervangers in die kragmeting met die Bulls.
Hy het Oosthuizen vervang toe dié flank 13 minute voor die rustyd deur die noodhulpmanne van die veld gehelp is.
Volgens Alan Solomons, die Kings se breier, kan Oosthuizen weens ’n kniebesering so lank as ses weke buite aksie wees.
Daar sal straks nog veranderinge aan die Kings se beginspan wees. Op slot kan Darron Nell sy plek kwyt wees ten spyte van ’n vurige vertoning teen die Bulls. Die Kings het nie goed gevaar in die lynstane nie en die langer Wayne van Heerden kan Nell vervang.
Daar sal dié week deeglik aan die span se lynstaanspel geskaaf moet word. Dit was duidelik dat die verstandhouding tussen die man wat die lynstaantekens roep, David Bulbring, en die Kings-haker, Hannes Franklin, nog nie na wens is nie.
Afgesien van die span se lynstaan-probleme, sal Solomons tussen Clint Newland en André Schlechter op vaskopstut moet besluit nadat die span se skrumwerk ook nie heeltemal aan die verwagtinge voldoen het nie.
Schlechter is dalk nie so ’n verwoestende skrummer soos Newland nie, maar is ’n harder werker by die losgemale en op die verdediging.
Agterlangs op skrumskakel kan Falie Oelschig ten koste van Danie Faasen terug wees nadat hy volkome van longontsteking herstel het.
Die ander verandering kan op senter wees. Verskeie spelers is gister in die middelveld getoets, maar dis nie duidelik wat Solomons se plan daar is nie.
Solomons sal vandag sy spanne vir die wedstryd teen die Stormers en volgende Woensdag s’n in George teen die Lions aankondig.
Die verwagting is dat die Kings-span in George grootliks uit spelers van die Suidwestelike Distrikte en die Grens sal bestaan en dat net enkele Oostelike Provinsie-spelers na George gestuur sal word.
Die flank Boetie Brits sou dalk daar ’n kans gekry het, maar ná Oosthuizen se besering kan hy hom Saterdag op die plaasvervangersbank bevind.
Dis bekend dat die SWD-Arende se afrigter, Johann Lerm, Tiger Mangweni hoog aanslaan en in George wil inspan. Mangweni kan as senter gekies word, hoewel ook besluit kan word om hom eerder in die Baai as plaasvervanger aan te wend.
- Die Burger