Tameletjies wag op Div
2010-08-29 21:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Pretoria - Die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, het ’n paar moeilike besluite om te neem nadat Bryan Habana en John Smit Saterdag in die Drienasies-rugbytoets teen die Wallabies op Loftus Versfeld nogmaals nie die mas opgekom het nie.
Terwyl die speler van die wedstryd hier, Francois Hougaard, dit duidelik gestel het dat die Bokke die Aussies wil “pleister” in Saterdag se tweede toets in Bloemfontein, kan dit moeilik wees om daardie doelwit te bereik as al die senior spelers nie optimaal presteer nie.
As Smit sy troepe se terugvegpoging in hul sege van 44-31 met ’n paar besielende woorde geïnspireer het, sou dit sy mees noemenswaardige bydrae gewees, want op die veld self was Suid-Afrika se kaptein byna anoniem.
Habana was heelwat meer sigbaar, maar om die verkeerde redes. Hy het twee drieë afgestaan. Die eerste deur die bal van ’n afskop mis te vang en die tweede deur in besit betrap te word nadat hy diep uit sy eie kwartgebied probeer hardloop het.
“Hy het een bal mis gevang en gegly. Ek dink nie daar is veel om oor bekommerd te wees nie,” het De Villiers oor Habana se spelpeil gesê.
De Villiers kritiseer egter as ’n reël nie sy spelers in die openbaar nie en sou sekerlik gister besin het oor die moontlikheid om Bismarck du Plessis, Gio Aplon of selfs Bjorn Basson nader te trek.
Frans Steyn het ook ’n ongelukkige dag op Loftus in die nr. 15-trui beleef, maar dit sal teenproduktief wees om hom nou te pos.
De Villiers het Saterdagaand die punt gemaak dat van sy senior spelers uitgeput is en dis inderdaad seker met Smit en Habana die geval.
“Hy (Habana) het vanjaar omtrent al 2 200 minute se rugby gespeel en die ideale tyd is tussen 1 400 en 1 600 minute. Maar kan ons nie maar wag vir die ruskans om te kom nie?” het De Villiers gesê-vra toe voorgestel is dat Habana nou ’n ruskans moet kry.
Die sportwetenskaplike prof. Tim Noakes het Habana en Smit verlede jaar al onder die spelers gelys wat liefs nie in November saam met die die Bokke na Europa moes toer nie.
Chiliboy Ralepelle het dadelik ’n impak gemaak toe hy Smit Saterdag vervang het en twee keer omkeerbesit vir die Bokke gewen. Du Plessis se rekord in die Groen-en-Goud toon egter dat hy die voorste kandidaat vir die nr. 2-trui behoort te wees.
De Villiers het erken dat die werklading op senior spelers soos Habana, Smit en Victor Matfield te erg is. “Ek moet na hulle kyk en oor die volgende paar maande moeilike besluite neem. As dit werk, sal dit Suid-Afrika baie trots en gelukkig maak.”
Dit kan daarop dui dat die spelers nie in November saam na Brittanje en Ierland toer nie eerder as wat daar onmiddellik drastiese stappe gaan wees.
Hougaard se vertonings as skrumskakel in die laaste twee toetse het gewys hoe waardevol jong bloed op die regte tyd kan wees.
’n Noemenswaardige positiewe aspek uit die Loftus-toets is die karakter wat die Bokke openbaar het om terug te veg nadat hulle binne die eerste 10 minute drie drieë afgestaan het.
Smit het erken dat die gebrek aan akkuraatheid in die eerste helfte ’n probleem was. “Wanneer laas het jy Bryan ’n bal sien aanslaan of gly? Dis die soort foute wat ons sal moet uitsny. Dis nie die soort toetsrugby wat die Wêreldbeker gaan wen nie.”
Hougaard se visier is op ’n skouspelagtige sege Saterdag ingestel. “Ek dink nie ons gaan vir 17-10 nie, ons gaan dié keer om hulle te pleister.”
- Die Burger