Engelse breier bloei vir sy rugbyspan
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
EDINBURG. – Stuart Lancaster het bevestig hy het aansoek gedoen om Engeland se volgende heeltydse rugbyafrigter te word – en dit boonop nadat hy sy passie vir die pos bevestig het deur bloed te vergiet tydens sy span se Sesnasies-sege Saterdag oor Skotland.
In Lancaster se eerste wedstryd as tussentydse breier het ’n groen Engelse span sy Sesnasies-veldtog met ’n oorwinning van 13-6 hier op Murrayfield begin.
Lancaster was so opgewonde oor sy losskakel, Charlie Hodgson, se drie in die tweede helfte, dat hy per ongeluk ’n gloeilamp in die afrigterslosie met sy vuis getref het. Hy het steke aan sy vinger gekry.
“My aansoek is ingedien,” het Lancaster gesê Hy gaan meeding met kandidate wat ’n maatskappy aan die Engelse beheerliggaam aanbeveel het.
“Om die Engelse hoofafrigterspos oor te neem en dadelik ’n eerste oorwinning te behaal is die beste gevoel wat ek tot nog toe in rugby gehad het.
“Ek het die lig in die plafon raak geslaan en my vinger oopgesny toe Charlie sy drie druk. Ek het die spandokter ná die wedstryd gevra of ek daarna (die wond) moet laat kyk, toe sit hy vir my twee steke in.”
Lancaster het voorheen die Engelse naasbestes (die Saxons) afgerig, maar toe Martin Johnson as Engelse breier ná die Wêreldbeker-toernooi bedank, is Lancaster voorlopig nader getrek.
Dit het Lancaster met die moeilike taak gelaat om gelyktydig die span se reputasie te probeer herstel, om die span te herbou vir die Wêreldbeker-toernooi in 2015 en om Sesnasies-wedstryde te wen.
Dit alles terwyl hy nie weet of hy ná die Sesnasies-reeks steeds in die pos sal dien nie.
“Daar was ’n verantwoordelikheid en druk om dié soort vertoning te lewer, veral aangesien ons ’n sukkelende spelersgroep oorgeneem het,” het Lancaster gesê. – Sapa-AFP
- Die Burger