Reeza en Rilee stu Knights; Neil-hulle laat waai ook
2012-02-03 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Twee reuse-vennootskappe het gesorg dat die Knights en Lions hul neus voor het ná die eerste dag van hul onderskeie SuperSport-wedstryde.
Reeza Hendricks (124, 320 minute, 245 balle, 19x4, 1x6) en Rilee Rossouw (88, 228 b, 9x4, 1x6) het hier op Nuweland 178 lopies om die tweede paaltjie teen die Cape Cobras-krieketspan geslaan.
Die Knights sal danksy dié stewige bydrae vanoggend op 248/5 voortkolf.
In Durban het Neil McKenzie en Temba Bavuma 228 lopies om die vierde paaltjie nadat die Lions op 60/3 teen die Dolphins gewankel het. Die Lions het met die uitskeityd 303/6 op die telbord gehad.
Die Knights se kolwers het op ’n gunstige kolfblad baljaar en selfs nie die terugkeer van die Cobras se Vernon Philander het die tuisspan aanvanklik gehelp nie. Trouens, dis die eerste keer in ’n lang tyd dat dié naatbouler só vir paaltjies geswoeg het.
Philander het sover ’n droombegin tot sy toetsloopbaan gehad en hy het in vier toetse teen Australië en Sri Lanka ’n paaltjie in ’n raps minder as elke 27 balle platgetrek. Gister moes hy egter 86 balle wag voor hy sy eerste slagoffer (Hendricks) kon kry.
Philander (4/42) het egter ná teetyd teruggeslaan toe hy vier paaltjies met die nuwe bal gekry het.
Die Kapenaars is op die hakke an die Titans bo-aan die puntelys en is desperaat om dié stryd te wen.
Veral as in ag neem dat daar gister geen spel in Oos-Londen was nie, waar die voorlopers en die Warriors kragte meet.
Met reën wat ook nog vir vandag en môre voorspel word, is dit moeilik om te sien hoe dáár ’n uitslag sal wees.
Bavuma (121, 252 m, 160 b, 13x4) en McKenzie (108, 274 m, 214 b, 11x4, 1x6) het die Lions se kanse in die reeks vir eers lewend gehou.
Die 21-jarige Bavuma beleef ’n droomseisoen en sy derde honderdtal van die SuperSport-reeks beteken dat hy nou 550 lopies dié seisoen teen gemiddeld 55 per beurt gemoker het.
Waar Bavuma se plaaslike loopbaan dié seisoen vlerke gekry het, lyk dit of McKenzie immergroen is. Die gewesee Protea het gister sy 44ste honderdtal in eersterangse krieket aangeteken.
Kyle Abbott (4/61) het laat in die dag van albei helde en Zander de Bruyn (6) ontslae geraak om die Dolphins hoop te gee. Imran Tahir (0/84) was die ander Protea wat in aksie was, maar hy het ook deurgeloop.
- Die Burger