Elgar kan straks ’n IPL-troosprys kry
2012-02-03 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
BLOEMFONTEIN. – Dean Elgar hoop om voor die einde van die seisoen sy terugkeer tot krieket te maak.
’n Kniebesering in die SuperSport-wedstryd tussen die Knights en die Cape Cobras net minder as ’n maand gelede in Kimberley, het hom sy nasionale kleure gekos.
Die hotklou-kolwer moes ’n artroskopie ondergaan en het gevolglik die Protea se eendagreeks teen Sri Lanka misgeloop.
Hy het nie ’n enkele kledingstuk as bewys dat hy gekies was nie en sal ook nie op die vliegtuig wees wat volgende Vrydag na Nieu-Seeland vertrek nie.
Dié Kiwi-toer begin met ’n blits- en eendagreeks, gevolg deur drie toetse.
“Andrew Hudson (keurderbaas) het my laat weet dat hulle my op aanbeveling van die mediese span nie oorweeg het nie en ook omdat daar nog baie krieket is wat voorlê,” sê Elgar.
Elgar het intussen rehabilitasie-oefeninge begin doen.
Hy sal eers oor twee weke begin draf.
Hy hoop nietemin om later met die plaaslike blitsreeks wat op 15 Februarie begin, weer deur die Knights betrek te word.
Elgar het ook onthul daar is ’n moontlikheid dat hy in die Indiese Premierliga (IPL) kan gaan speel.
Die vyfde IPL-veiling word môre gehou. Dié jaarlikse blitstoernooi in Indië begin vroeg in April.
Die 24-jarige Elgar se naam sal straks vir die Proteas se toer van Julie tot September na Engeland weer ter sprake kom.
Die toer begin met drie toetse, gevolg deur vyf eendagwedstryde en twee blitswedstryde.
Die Twintig20-wêreldtoernooi vind net daarna in Sri Lanka plaas, waarna die Proteas na Australië toer.
- Die Burger