Boeta besluit dis tyd om kolf weg te pak
2012-02-09 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
BLOEMFONTEIN. – As ’n sportster te lank vasklou, kan die goeie vergete gaan. Boeta Dippenaar het daarom besluit die tyd is reg om sy uittrede as ’n krieketspeler aan te kondig.
Die 34-jarige Dippenaar speel van vandag af in Port Elizabeth in ’n SuperSport-wedstryd teen die Warriors die laaste keer vir die Knights.
Hy beplan om elke oomblik in die Baai te geniet, hopelik heelwat lopies aan te teken en sal dit as ’n droomeinde beskou as sy span met die SuperSport-titel kan terugkeer.
“Daar is ’n tyd en plek vir alles in die lewe. Ek het ’n wonderlike krieketloopbaan gehad en my tyd ten volle geniet,” sê Dippenaar.
“Ek voel dit is tyd om aan te beweeg. My lewe is groter as net krieket en ander aspekte in my lewe het begin belangrik raak.”
Sy stem sal in die toekoms dikwels as kommentator op SuperSport gehoor word en hy sal sy termyn as president van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging oor die volgende 12 maande eerbiedig.
Hy kan later in sy loopbaan kolwers op verskillende vlakke op ’n individuele grondslag help, maar beskou homself nie as ’n afrigter nie.
“Ek sal nooit net heeltemal kan wegbreek van krieket af nie. “Krieket is ’n weerspieëling van die lewe – waar jy soms stampe en stote moet verduur.”
As hy die horlosie kon terugdraai, sou hy sekere dinge in sy krieketloopbaan anders gedoen het. “Ek sou nie so intens oor my krieket gewees het nie. Ek het soms te styf vasgehou en te hard probeer.”
Van die hoogtepunte in sy loopbaan sluit in:
- Toe hy op nommer drie vir die Proteas in ’n Welwillendheidsdag-toets teen Australië op ’n volgepakte MCG voor ongeveer 70 000 mense uitgestap het om die boulwerk van Glen McGrath en Brett Lee te trotseer.
McGrath is die beste bouler waarteen hy sy paaltjies ooit moes beskerm en Dippenaar sê die Cape Cobras se Vernon Philander is kort op die Aussie se hakke.
“Hulle laat jou vroeg in jou beurt heeltemal te veel na die bal speel,” skerts Dippenaar.
- Hy kry steeds hoendervel as hy terugdink hoe hy voor 2003 se Wêreldbeker-toernooi uitgestap het om sy land te verteenwoordig.
- Hansie Cronjé is die beste kaptein onder wie hy gespeel het. “Ek was ’n kaptein met beperkinge, maar Hansie was ’n gebore leier – ek het nog nie weer só ’n kaptein teëgekom nie.”
- Die ondersteuning wat hy by sy vrou Charleen en ouers (Frank en Alet) gekry het.
- Die Burger