Spel afgelas in Katar ná sterk wind
2012-02-04 03:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
DOHA. – Die tweede dag se spel in die Katar-meesters-gholftoernooi is gister afgelas weens sterk wind.
Dit was só erg dat die stilstaande gholfballe op die baan begin beweeg het en dele van die baan is ook beskadig deur die wind.
Spel is al teen 09:13 afgelas, met die hoop dat dit weer in die middag hervat kon word, maar dit was wensdenkery.
Die wind het met tye teen tot 55km/h gewaai en spel is uiteindelik net voor 14:00 finaal afgelas vir die dag.
Die toernooi is verminder na 54 putjies, met nog 66 spelers wat hul tweede ronde moes begin.
Gonzalo Fernandez-Castano, wat die voorloper was ná die eerste ronde, het gisteroggend twee houe op die eerste vyf putjies afgestaan en teruggesak na vier onder syfer ná sewe putjies.
John Daly, wat nog nie sy tweede ronde begin het nie, het hom bo-aan die voorlopersbord bevind nadat hy 67 houe, vyf onder syfer, op die eerste dag gespeel het.
Fernandez-Castano, die Aussie Jason Day (gelyk ná ses putjies) en KJ Choi, wat ook nog nie afgeslaan het nie, is een hou agter Daly.
James Kingston (2 onder) is steeds die beste geplaas van die Suid-Afrikaners. Branden Grace het gister goed begin ondanks die swak toestande en was vier onder syfer ná die eerste ses putjies om op -1 vir die toernooi te wees.
Dit is dieselfde telling waarop George Coetzee is, wat een oor syfer is ná agt putjies.
Die Spanjaard Jose Manuel Lara van Spanje, wat ’n 81 (nege oor syfer) op die eerste dag gespeel het, het hom gister weens ’n seer rug onttrek.
- Die Burger