Netbalreeks in gedrang
2012-02-02 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
BLOEMFONTEIN. – Die voortbestaan van die gewilde Netball Grand Series (NGS) kan – sonder ’n hoofborg – in sy huidige formaat in die gedrang kom.
Die NGS is verlede jaar van April tot Julie met groot welslae aangebied.
Die reeks het ’n groot tree nader aan beroepsnetbal gegee met agt streekspanne wat 17 weke lank in tuis- en wegwedstryde slaags was.
Die projekbestuurder, Elsje Jordaan, sê hulle wil nie aan die formaat verander nie, maar as die voortbestaan van die reeks in die gedrang kom, sal hulle vanjaar skik om net ’n enkelronde te speel.
Netbal Suid-Afrika (NSA) het die NGS tot dusver onderskraag en geldelik bygestaan, maar het finansiële uitdagings van sy eie.
“NSA en die NGS is vennote in die reeks, aangesien die NGS deel is van die mandaat van NSA om ’n hoëprestasie-reeks in die land te vestig.
“Gevolglik is die NSA een van die NGS se grootste beleggers. Maar NSA het ook baie ander projekte wat hy moet finansier.
“Ek kan my nie uitlaat oor NSA se finansiële posisie nie, aangesien ek niks daarvan weet nie, behalwe dat dit vir NSA moeilik is om die NGS weer alleen geldelik te ondersteun.”
Jordaan sê die bedrag wat die NGS verlang, is “relatief min” en nie naastenby soveel as wat van die ander sportsoorte benodig nie.
Daar is ook sprake van televisie-dekking.
“Sonder TV-dekking bied die NGS nie baie waarde aan ’n borg in ruil vir die borgskap nie. Dit is dus noodsaaklik om TV-dekking te kry, sodat ons goeie waarde aan ’n borg kan bied.
“Ons is in ’n baie gevorderde stadium van onderhandelings en is positief om ondersteuning te kry in dié verband.”
Elize Kotze, wat die Blues en die Proteas verlede jaar afgerig het, sê om weekliks hoëprofiel-wedstryde te speel, soos in die NGS, was baie goeie voorbereiding vir die Wêreldkampioenskappe.
)Kotze het bevestig dat sy weer aansoek om die nasionale pos sal doen, maar op voorwaarde dat ’n uiters beroepsgerigte benadering gevolg sal word ten opsigte van die bestuur van die spelers. Haar kontrak as nasionale breier het in Desember verstryk.
- Die Burger