Hokkievrouesoek 2de sege
2010-09-09 22:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Johannesburg – Die nasionale vroue-hokkiespan het sy eerste doelwit vir die Wêreldbeker-toernooi in Argentinië reeds bereik: hy is verseker daarvan dat hy Suid-Amerika met sy beste WB-posisie in 12 jaar sal verlaat.
’n Tweede doelwit is verwesenlik toe die Proteas verlede week hul eerste Wêreldbeker-oorwinning sedert 2002 – oor Spanje – behaal het.
Maar of hulle vanaand, wanneer hulle teen Indië te staan kom in die uitspeelstryd om die negende plek, ’n tweede sege kan behaal, sal afhang van hoe lank hulle hul spelpatroon en konsentrasie hou.
Die SA kaptein, Marsha Marescia, en haar spanmaats het teen ’n jong groep Indiërs ’n gulde kans om met drie posisies te verbeter op die 12de plek wat hulle in 2006 behaal het. Die 12de gekeurde Proteas kom die eerste keer te staan teen ’n span wat laer as hulle op die wêreldranglys is (13de).
In Indië se span is vier spelers tussen die ouderdomme van 15 en 18, en hul gebrek aan ervaring was duidelik in die reuse-nederlae wat hulle verlede week teen Nederland (1-7), Australië (3-6) en Duitsland (1-4) gely het.
Hoewel die Suid-Afrikaners nie met die top-spanne kan meeding nie, het hulle in Argentinië gewys dat hulle die potensiaal het om ’n ewe groot telling teen ’n sukkel-span op te stapel – maar net wanneer hulle hul voet op die pedaal hou.
Dít kan die grootste uitdaging wees.Ondanks hul jare van ervaring (12 van die spelers in die groep het meer as 50 internasionale toetse op die kerfstok), is die Suid-Afrikaners steeds geneig om konsentrasie te verloor.Indië het groot nederlae in sy eerste groepwedstryde gely, maar hy het met 3-0 met die negende gekeurde, Japan, afgereken en mag dus nie onderskat word nie.Suid-Afrika sal weer swaar steun op Marescia, wat strykdeur werk soek en kanse skep.
Die nuweling Sulette Damons is ’n giftige afronder met ’n blink toekoms en Pietie Coetzee is steeds gevaarlik van strafhoeke af.
Daarby het die Proteas ’n uitstekende middelveld-skakel in die ratse Kathleen Taylor, ’n byna ondeurdringbare verdediger in Lisa-Marie Deetlefs en ’n wêreldklas-doelwagter in Mariëtte Rix.