Fourie seil ál vinniger oor hekkies; Mokoena tweede
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
PRETORIA. – Lehann Fourie het die naweek in Boston op ’n binnenshuise atletiekbyeenkoms sy beste tyd in die 60-hekkies na 7.64 sekondes verbeter.
Die VSA se David Oliver, bronsmedalje-wenner op die Olimpiese Spele in Beijing, het in 7.60 gewen. Sy landgenoot Aries Merrit was tweede in 7.62.
Fourie is amper tevrede met sy vertoning. “Natuurlik sou ek ’n vinniger tyd wou hardloop. Wat vir my opwindend is, is dat ek daarin slaag om my tyd te bly verbeter.
“Wat teen my getel het, is dat ek in die eindronde in baan agt moes hardloop. Dit is nooit ’n maklike baan nie. Ek was ook nie heeltemal so goed voorbereid as wat ek wou wees nie.
“Ek was so tydjie terug redelik siek. Dit het daartoe gelei dat ek die afgelope twee weke maar min geoefen het.
“Ek wou ook nie onnodige kanse waag nie, omdat my hakskeensening my nog effens opkeil.
“Maar ek kan nie bly verskonings soek nie. Ek moet die week hard oefen, want ek neem aanstaande week in New York deel.”
Fourie is sover die 13de vinnigste atleet in die 60-hekkies.
Die Amerikaner Jarret Eaton is met sy 7.49 die vinnigste.
- Khotso Mokoena was op ’n binnenshuise byeenkoms in Moskou tweede met ’n sprong van 8.04 m.
Rusland se Aleksander Menkov (8.24) het gewen. Ignisious Gaisah van Ghana was derde met ’n afstand van 7.93.
Mokoena se afstand is sover die vierde beste.
- Coolboy Ngamole van Nedbank het die naweek in George die Suid-Afrikaanse marathon-byeenkoms in 2:13:18 gewen.
Dit is die tweede keer dat hy vir die Olimpiese Spele kwalifiseer.
Die byeenkoms was eintlik maar weer ’n groot antiklimaks met niks om regtig oor opgewonde te raak nie.
Eintlik was dit te wagte, want geen van Suid-Afrika se voorste marathon-atlete het deelgeneem nie.
Michael Mazibuko van die Vrystaat was tweede in 2:15:12 en Zolani Ntongana van die Westelike Provinsie derde in 2:16:50.
Die vroue-wedloop is deur Charne Bosman in ’n teleurstellende 2:41:51 gewen.
- Die Burger