Engelse boer tog te lekker met Suid-Afrikaanse kalwers
2012-02-04 03:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op

Engeland se rugbykeurders het oënskynlik by hul krieket-eweknieë gaan kers opsteek oor die maklikste roete om die wêreld se nr. 1-span te word – kies ’n klomp Suid-Afrikaners!
Met ’n Botha in die skrum, ’n Barritt in die agterlyn en ’n Stevenson op die bank is die Rose goed op pad om die Engelse krieketspan – wat oor etlike eks-Suid-Afrikaners of spelers wat minstens in Suid-Afrika gebore is, beskik – na te doen.
Wat egter komieklik is, is hoe Suid-Afrikaners reageer wanneer hul landgenote vir oorsese spanne speel.
Toe die Engelse krieketspan byvoorbeeld die afgelope twee jaar alles voor hom platgevee het, het ons graag die Suid-Afrikaanse verbintenis uitgewys, maar noudat die Engelse op hul baadjie gekry het in die eerste twee toetse teen Pakistan, sê baie van ons weer dat daai Kevin Pietersen en Jonathan Trott nooit goed genoeg sou gewees het vir die Proteas nie.
Die ergste is dat wanneer dié sportmanne dan ín Suid-Afrika kom presteer vir hul aangenome spanne, is hulle almal verraaiers.
)Lui Clyde Rathbone iewers nog ’n klokkie?
Proteas te rustig?
Gepraat van die Engelse krieketspelers. Dié klomp het – grootliks danksy hul media se oordrewe media-lofsange die laaste paar jaar – in die Verenigde Arabiese Emirate geland en gedink hulle hoef net teen Pakistan op te daag om die reeks te wen.
Die Engelse het maande lank geen krieket gespeel nie en geen noemenswaardige oefening gekry voor die reeks teen Pakistan begin het nie – so asof hulle gedink het hul nr.1-status is ’n waarborg vir sukses.
Dié arrogansie het hulle duur te staan gekom en dis ’n slaggat waarvoor die Proteas ook sal moet pasop voor hul toer na Nieu-Seeland.
Ja, hulle het onlangs in reekse teen Australië en Sri Lanka gespeel, maar dit regverdig steeds nie die feit dat die grootste gros van die Proteas se top-spelers nie dié week waardevolle eersterangse oefening in die kleure van hul streekspanne kry nie.
)Gary Kirsten-hulle moet ligloop dat hulle hulself nie in ’n eerste reeksnederlaag teen die Kiwi’s in rus nie.
Motivering vir miljoenêrs
Skuimkop het met groot belangstelling vandeesweek gelees van die “Lentegeur-blits” Ederies Arendse.
Waar talle van sy spanmaats by die Stormers by hul oefenbasis in Bellville opdaag in weelderige vuurwaens, moet arme Ederies drie tot vier ure per dag op ’n minibus-taxi deurbring om oefeninge by te woon.
Maar dalk is dít ’n bedekte seën.
As jy daagliks jou lewe in ’n minibus-taxi moet waag, gaan jy sowaar as vet nie bang wees vir ’n groot voorspeler wat op ’n rugbyveld op jou afstorm nie.
)En wat motivering betref, kan hy dalk net as inspirasie dien vir sy miljoenêr-spanmaats.
Div kla verniet
Snorre is nie meer Bok-afrigter nie, maar moenie dink dit keer hom om steeds ’n bietjie media-aandag op hom te vestig nie. Hy’t die afgelope week nie net koerant-onderhoude toegestaan nie, maar sommer op radiostasies ook sy lot bekla.
Sien, Div is ongelukkig omdat SA Rugby nooit met hom oor sy toekoms vergader het nie en sê daar is nou wrywing in sy huishouding omdat niemand weet wat nou volgende gaan gebeur nie.
Hoewel Skuimkop simpatie het met Div se werkloosheid-status, is dit bietjie naïef van hom om Saru te blameer dat hy nou sonder ’n pos sit.
As Div eerlik met homself was, sou hy besef het hy’s geen Dok Craven nie en lank voor die verstryking van sy kontrak reeds vir ’n nuwe heenkome begin soek het.
En dan: Hoeveel van Div se voorgangers het steeds ’n joppie by Saru? Jake White? Aikôna; Rudolf Straeuli? Nooit gesien nie. Harry Viljoen, Nick Mallett, Carel du Plessis of André Markgraaff? Nee, meneer.
)Snorre se opvolger, Heyneke Meyer, het dalk onwetend die kruks van die saak aangeraak toe hy (met verwysing na die persone wat hy wil betrek by sy afrigtingspan) gesê het: “Van die afrigters is nog gekontrakteer – as jy nie is nie, is jy waarskynlik nie goed genoeg nie.”
- Die Burger