Die verhouding tussen ’n man en sy motor
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die verhouding tussen ’n man en sy motor is anders as dié tussen ’n man en ’n vrou. Hulle sê ’n vrou vergeet nooit haar eerste vry nie. ’n Man, weer, vergeet nooit sy eerste motor nie.
Oom Karel kan byvoorbeeld nie meer maklik sy drie vroue se name onthou nie, maar hy kan elke motor wat hy al besit het – die jaar, die kleur en die model – opnoem sonder om te aarsel. En wat hy gekos het.
Verlede week vertel oom Fred van sy Mini Cooper waarmee hy sy wittebroodsreis aangepak het. Terwyl die Mini met die slapende bruid deur die draaie van die Langkloof flits en die bande op die teer sis, vertel hy half skamerig dat hy een keer sy Mini se enjingeraas in die Dutoitsklooftonnel op ’n bandmasjien opgeneem het.
Die band met die enjinmusiek op het hy toe aan ’n vriend in die Noorde gestuur, dink dit was Pretoria, wat ook ’n Mini besit het. Nie lank daarna nie, toe daag ’n band met sý enjin se musiek in die pos op, ook in die een of ander tonnel opgeneem.
Daar is al verskeie rolprente gemaak oor die verskynsel van man en motor. Dis meesal oor die legendes soos Preston Tucker, wat in die moeilikheid beland het toe hy ’n gat in die paneelkissie gesny het sodat die warm lug van die enjin die kajuit kon opwarm.
Nou weer, met al die koninklike gedoentes, dink ek baie aan my ou swart Londense taxi. Die “black cab” was ’n 1981-Austin wat 1000pond gekos het.
Dié taxi het om Inverness in die noorde van Skotland in sneeu, wind en weer gery, deur België en Duitsland tot aan die onderkant van Wallis. Taxi-bestuurders het net kopskuddend gesê die goed is eintlik vir die middestad bedoel.
Eendag het ’n hooggeplaaste agterin saam Edinburg toe gery. Op pad het hy sy baas in Suid-Afrika gebel en gesê: “As jy wil weet of Suid-Afrika verander het – ek ry agterin ’n swart taxi wat deur ’n wit Afrikaner bestuur word en ek lees Die Burger.”
Met die taxi kon jy in die busbaan ry sonder boetes. Dit het handig te pas gekom met prinses Diana se dood. Toe het ek my fiets agterin gelaai en die stoet grotendeels gevolg. Waar die taxi verbied is, het die fiets en die skootrekenaar die ding gedoen.
Die swart taxi’s is deur die Ierse Republikeinse Leër gebruik, kom ek toe een oggend vroeg agter met ’n handkarabyn teen my bors gedruk teen ’n muur agter die Buckingham-paleis. Daar was die oggend ’n dreigement en ons taxi het baie verdag gelyk – seker omdat ek elke dan en wan afgebuk het om iets te skink vir my Suid-Afrikaanse gaste agterin.
Gou het dit egter per radio deurgekom dat die taxi onskadelik is en het die polisie ons laat ry.
Ek dink sy was my beste motor, want sy het sulke lekker stories gemaak.
wpretori@media24.com
Somerset-Wes
- Die Burger