Ons dorp, Skelmbos, laat sy kop sak
2011-01-27 03:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Martie Retief Meiring
Wat ’n skande. My dorp, wat hom onbeskaamd, en dikwels, opgee as ’n opleidingsentrum, gekultiveerd en selfs(!) wêreldbekend is, is stout-hoekie toe gejaag.
Deur presidensiële opdrag kom die dorpsake nou onder die oog van die spesiale ondersoekeenheid (die Valke). Asof ons soos ander hierjy- skelm dorpe is waar korrupsie, onderduimsheid en misdaad sommer oogluikend toegelaat is. Watter vernedering vir ’n dorp met ’n R900miljoen-begroting, wat van die hoogste erfbelastings betaal, wat oorval word deur buitelandse toeriste wat wyn proe, eindelose foto’s van gewels neem, geduldig met bedelende bergies is.
Die provinsie ondersoek reeds self ook die skandelike praktyke van plaaslike tenderpreneurskap (het Suid-Afrika nie aan die wêreld ’n wonderlike woord gebied nie!). ’n Vorige burgemeester en sy trawante was al voor die hof. G’n wonder nie Skelmbos word ’n goeie herbenaming vir die dorp.
Dalk troos dit dat die ganse wêreld die korrupsie-epidemie aanvoel. Nou het ene Mohamed Bouazizi se volslae moedeloosheid met sy land se arrogante leierskorps hom tot selfverbranding gedryf en hierdeur die vonk gegee tot die opspraakwekkende revolusie in Tunisië.
Weerstand en opstand het nou tot Egipte gevloei, en Algerië staan op die rand van opstand noudat die keelvol-breekpunt onder die burgery ’n plofbare punt bereik het. Selfs ons het die “strate-toe”-demonstrasies beleef, onder meer toe weermagpersoneellede teen hul eie owerheid getoi-toi het. Jy wonder hoe korrupte regerings regtig slaap met die tekens dat die oeroue mag van die gewone mense om op te ruk, nou so sigbaar word.
Stellenbosch/Skelmbos is beswaarlik ’n gistende balie van korrupsie, werkloosheid en misdaad, maar in plaaslike terme gesien, was daar ’n patetiese verneukspul waar onder meer sogenaamde sokkerstadions teen R60miljoen gebou is en waaroor die gras gegroei het. Die dorp kon nie eens ’n oorsese sokkerspan van watter aard kry om hier aan die wondere van die dorp deel te neem nie.
’n Pragtige, duur gebou is aan die ingang van die dorp aan Kkayamandi se kant, maar staan leeg soos ’n beskuldigende vinger – onbenut oor administratiewe lamheid.
Nou vra jy jou af: Al sou die Valke ook die omvang peil van die korrupsie wat die afgelope vyf jaar plaasgevind het, hoe bly dit moontlik dat ’n (hopelik) gesofistikeerde bestuur van ’n dorp soos ons s’n in so ’n strik beland? Waar was die wakker dorpenaars wat die fluitjie moes blaas?
Blykbaar was daar (en die dorp gons nou hieroor ) waarskuwings, vingers wat gewys het, fluitjies wat geblaas is, maar nogtans het die vergrype plaasgevind. Was dit deur ’n politieke oormag, onbevoegde besluitnemers, vrees, laksheid?
Soos baie selfbehepte dorpe het ons ons liefling-griewe: die verstikkende verkeersprobleem, huisinbrake, ontploffende studentebehuising, dronk studente.
Gits, ons het skoon die dorp se begrotingsbestuur vergeet!
meiring@lando.co.za
Stellenbosch
27 Januarie 2011
- Die Burger