BRANDPUNT: Politieke verlangens nie rede vir taal-strewe taal
2009-08-18 21:48
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Prof. Jonathan Jansen verwyt Afrikaners in sy rubriek Kennis in die Bloed, onder die opskrif “Taalstryde ondermyn Afrikaans se potensiaal”, dat hulle met ’n onverkwiklike en intense stryd om die voortbestaan van Afrikaans aan Suid-Afrika se histories Afrikaanse universiteite besig is.
Die gesindheid (“taalhouding” of attitude) waarmee die stryd gevoer word, is volgens Jansen verdag.
Die redes wat hy hiervoor aanvoer, is dat dit by implikasie mense seermaak, in die teken van ’n enge nasionalistiese en etniese sentiment staan, en dwars in die weg staan van die taal se “aansien en die potensiaal om harmonie, konsensus en maatskaplike samehorigheid” in die land te bewerkstellig.
’n Mens wil hom toegee dat daar minder kwetsende maniere bestaan om jou misnoeë oor taalgebruik en -voorkeure te kenne te gee.
’n Mens wil hom veral ook toegee dat taalgebruik nie in die weg van gesonde rasseverhoudinge behoort te staan nie.
Maar dit val ’n mens tog op dat Jansen vierkant binne die paradigma van ’n enkele omgangs- en wetenskapstaal (te wete Engels) staan.
Hy beskik kennelik oor geen simpatie met die swaarverworwe taalregte van Afrikaners en die harde werk wat dié gemeenskap oor die jare heen vir die erkenning van Afrikaans gedoen het nie.
Afrikaans is tans ’n (taal)kennis in die bloed van baie Suid-Afrikaners oor die kleurspektrum heen.
En hulle beskik mos oor die grondwetlike reg om hul minderheidsregte uit te leef, of hoe?
Die Afrikaanse gemeenskap sien homself beslis nie as die spoilers van die grondwetlike dinamiek in Suid-Afrika nie.
Die Federasie vir Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) het juis oor die afgelope jare hard saam met sy kultuurvennote gewerk om die inklusiewe Afrikaanse Taalraad gestig te kry.
En terwyl sake daar tans op dreef kom, dien die saak van die status van Afrikaans aan ons universiteite wel deeglik op dié organisasie se agenda.
Gesprekke in hierdie verband is reeds met die bestuur van die Universiteit Stellenbosch gevoer.
Dit sal egter ’n denkfout wees om aan te voer dat Afrikaanssprekendes tans meer vir Afrikaans opeis as wat die taal in werklikheid verdien.
Afrikaans geniet grondwetlike sanksie en beskerming (as een van Suid-Afrika se 11 amptelike tale).
Sonder die Afrikaanse gemeenskap se werksaamheid en hul strewes oor dekades heen, sou heelwat van die bestaande goeie universiteitsgeriewe, ook dié van die Universiteit van die Vrystaat, waar Jansen tans die rektor is, nooit bestaan het nie.
Afrikaans se regmatige posisie is een van vreedsame naasbestaan en gelykberegtiging, die kru en verwondende optrede van sommige van sy meer onkiese sprekers ten spyt.
Indien prof. Jansen en diesulkes die Grondwet en die belange van alle burgers van Suid-Afrika respekteer, sal hulle hulself ook daarvoor beywer.
Die FAK glo nie dat die Afrikaanse gemeenskap daarna hunker om hierdie pragtige land ooit weer alleen as ’n groep te regeer nie.
Derhalwe kan politieke verlange nie vir hulle legitieme strewes die skuld gegee word nie.
Hierdie is nie ’n stryd vir Afrikaans wat goedsmoeds laat vaar gaan word nie – daarvoor het ons te lank gewerk en gestreef.
- Dr. Bredenkamp is die uitvoerende beampte van die Federasie vir Afrikaanse Kultuurverenigings.