Sy is die vrou by die tafeltjie in die hoek. Die een wat maklik lag
totdat haar oë op skrefies trek.
Dit is vir EKM Dido lekker om mense hier in die kafeteria van die
Bellville- biblioteek te ontmoet. Deur die glasmure is die rye en rye boeke
sigbaar. En mense – veral kinders – kom en gaan met boeke in hul hande en onder
hul arms vasgeklem.
Ons gesels oor kinders wat wegraak. Dit is die tema van haar
kortverhaal Baby, wat sy vir die Suidoosterfees in ’n toneelstuk omskep het.
“Toe ek dit geskryf het, was ek bekommerd oor onse klomp kinders
wat ontvoer word en vermoor word?.?.?.?wat net wegraak. Nou ek het vir myself
gevra: Jong, as dit mý kind moes wees, hoe gaan ek voel? En ek het myself in
daardie ouers se skoene geplaas. Hoe voel húlle?”
Sy het gepraat met mense wie se kinders “verlore geraak het”.
“Ek is gelukkig in die posisie dat ek skrywer is aan die een kant
en verpleegster aan die ander kant. En nou kom al die strome inligting na
my.”
Dido is ’n dosent in verpleegkunde aan die
Netcare-opleidingskollege in Bellville.
“En natuurlik help my geaardheid ook baie. My stilheid in gees sal
mense uitlok om te gesels al wou hulle ook nie gepraat het nie.
“Ek dink my omgee vir kinders spruit uit my eie kinderjare. Ek het
in die Transkei grootgeraak in Tsomo. En daar het ons geleer ’n kind is nie net
die ouers se kind nie.
“Daardie kind behoort aan die gemeenskap. Dis my kind, dis jou
kind, dis ons almal se kind. So as my kind iets doen, of jy sien my kind,
behandel hom soos jou eie.
“Ek dink hoe ouer ’n mens raak, hoe meer is jy geneig om weer terug
te val op dit wat jy as ’n tiener of in jou kinderjare geleer is.”
Op die vraag hoe haar kinderjare was, maak sy ’n geluid soos “Uhgh”
en begin dan lag.
“Behalwe vir die armoede... dit was nie slég nie, want ek het
van niks beter geweet nie. En tog, in daardie niks ken en niks het nie, was daar
dae en oomblikke wat jy baie, baie meer gehad het as wat hedendaagse kinders
het.
“Wie kan nou deedae poedelnaak in ’n rivier gaan swem? Daar was nie
bakterieë gewees soos wat daar nou is nie. En lang ente gaan stap; buite slaap.
En jou deure nooit sluit nie.”
Sy praat stadig.
“Ek het daardie ervaar. O, ek het poppe gehad...ons het regtig
van die hand tot die mond geleef...die poppe het my ma-hulle vir my gemaak,
en ek het my stokkiespoppe gemaak met lappies en goed. En dan het jy kleigoed
vir jouself gemaak.”
Dido se eerste roman, Die Storie van Monica Peters (1996), het
begin as ’n brief aan ’n koerant.
“Ek wou klá. Man, ná ’94 was die swart ouens baie verbaal. Hulle
het gevoel dit is deur die bruin mense dat die Wes-Kaap NNP gebly het.
“En, het hulle gevoel, die bruin mense weet nie van swaarkry nie;
hulle was nooit in die struggle betrokke nie en hulle is die jam
tussen die twee snye brood.
“En ek het net gedink dit is die grootste snért! Hoekom praat die
mense nie? Dis beskuldigings wat wyd en syd en kliphard gestrooi word en niemand
reageer nie.
“En elke keer gaan ek huis toe en dan sê ek vir my dogter Vereena:
‘Ek is nou so vies ek het nou weer dít gehoor en ek het nou weer dat
gehoor!’
“Toe raak sy ’n bietjie op van my en toe sê sy vir my een Saterdag
aan die begin van my verlof: ‘Hoekom gaan skrýf jy dit nie, want ek is maar net
16 jaar oud.’
“Toe gaan sit ek en ek sou ’n brief vir die koerant geskryf het –
enige koerant – want my mense het nie gereageer nie. Maar wat ek van my mense
weet, is dat hulle oggend, aand en wat ook al koerant lees.
“En daarom sou ek ’n koerantding gemaak het daarvan. En toe begin
ek in Engels: ‘Dear Editor...’ En die maande het aangegaan met Dear Editor,
en agterna toe vind ek uit dit is 243 bladsye. So, géén koerant sou dit gevat
het nie.”
Sy het dit na uitgewers geneem.
“Die vyfde een stuur my toe na Kwela toe en Kwela aanvaar dit. En
Annari van der Merwe vra vir my: ‘Hoekom het jy jou ding in Engels
geskryf?’
“En ek sê vir haar: ‘In die apartheidsjare, ofskoon ons in die huis
Afrikaans is, gaan jy niemand kry Afrikaans praat buitekant nie. As ’n wit ou
met my Afrikaans praat dan praat ek Engels, en as hy Engels praat dan praat ek
Afrikaans, maar ek gáán nie met jou in jou taal praat nie. Dit was ’n tipe
speletjie-affêre gewees.’?”
’n Vorm van verset.
“Toe vra Annari of ek dit nie in Afrikaans wil skryf nie. Ek was
nogal bly dat sy dit voorgestel het, want in dit toe tjank ek snot en trane,
want toe herwin ek weer my taal.
“Toe het ek net verliéf geraak; nie net op die taal nie, maar ook
daarop om die taal te gebruik.”
As kind was Dido se bynaam Dolly.
Toe haar doopname – sy wil nie sê wat dit is nie – in standerd ses
op die lappe kom, het kinders haar gespot.
Sedertdien weier sy om daardie name te gebruik of daarop te
reageer. Sy gebruik slegs die voorletters en verkies om Dido genoem te
word.
“Ek het ’n eenman-strike gehad teen my naam.”
Sy was in ’n Katolieke skool op Tsomo, waarna sy Kimberley toe is
om as verpleegster opgelei te word.
“Dit was moeilike tye, jong! Want kyk, jy is in hierdie kokon van
die nonne.”
Sy sit haar twee bakhande teen mekaar.
“En by die huis op Tsomo is jy in die kokon van almal in die buurt
in, wat nie eintlik vir jou voorberei op wat buitekant vir jou lê nie. En hier
kom ek in Kimberley en besef: Wow! Is dít waarvan julle praat?”
Sy is as leerlingverpleegster uit ’n “wit” saal gejaag. En dan was
daar die keer toe sy ’n hoed wou koop vir ’n begrafnis.
“Ek wou die hoed aanpas en net daar kry die vrou die bloustuipe. Jy
koop hom of jy koop hom nie, maar geen aanpas nie.”
Vandag is daar nuwe dinge wat krap.
“Was apartheid dan so soepel dat hy net omgekeer kan word? Alles
word nou so verpolitiseer. Ja, my taal was ongelukkig daar vir die struwelinge
van ’76 en ’85...Hulle vergeet tog dat destyds en nóú en in die toekoms tot
aan die einde van die wêreld sal die oorgrote meerderheid mense wat Afrikaans
praat, bruin mense wees. Dis my taal. Watter ander taal moet ek praat?
“En om dan ánders behandel te word ... Dit is ’n cliché, maar tog
ook so toepaslik: eers was ek te swart om wit te wees, en nóú is ek te wit om
swart te wees.
“Ongelukkig gaan deure soms tóé omdat ek bruin is. Maar wanneer
daar verkiesings is, word ék, bruin, as swart aangespreek. Sodra daardie
verkiesings oor is, het ek weer in ’n bruin koevert geland.
“Dit krap. Ek wil net erken word as ek, mens, Suid-Afrikaner.
Miskien moet ek iets daaroor skryf.”
Dido skryf snags.
“My karakters wil niks met my praat in die dag nie. Behalwe oor
naweke en vakansiedae is hulle fine! Want dan word daai rekenaar
nie afgesit nie.
“Dis ’n lékker wêreld. En baiekeer raak jy so vasgevang in die
verhouding met jou karakters dat jy eintlik vies raak as die son opkom!”
In haar romans (Rugdraai en Stilbly, ’n Stringetjie Blou Krale, Die
Onsigbares, ’n Ander Ek, Emma en Nella) skryf sy oor sosiale kwessies.
“Ons het so baie sosiale kwessies onder die bruin mense wat ek
probeer aanspreek. Nie omdat ek wil probeer preek nie of omdat ek nét op sosiale
kwessies wil klou nie, maar ek wil dit uitlig en oplig dat dit gesien word, want
in die verlede het mense oor ons geskryf sonder om ons te ken.
“En daar is neerhalende en slegte goed oor ons geskryf.. En nóú wil
ons, en ek hoop net as ek sê ‘ons’ is daar ander skrywers ook wat dit sal
doen...laat ons net dit uitlig.
“Ek skryf dit wat ek sien. En tot dusver was dit sosiale kwessies.
En as ek luister na die terugvoer, het dit mense gehelp. Baie mense vra my vir
wie ek skryf. En ek sê altyd ek skryf eerstens vir my mense.
“Dink net as die massas wat ongeskool is leesgierig raak, hoe gróót
hulle gaan droom.”
Haar arms is in die lug. Haar oë blink.
“Want as jy lees, droom jy, en as jy droom, begin jy die hoogtes
uit te klim. Kan jy dink hoe vooruitstréwend ons kan wees?”