Oop Kaarte met Deryck Uys
2012-01-27 10:35
Uys deur Shakespeare gedryf
Iets het van ’n bejaarde blinde man besit geneem. Hy het al Shakespeare se sonnette in Afrikaans vertaal, en nou is hy met die dramas besig.
“Dit is ’n goeie dag. Ek het nou net The Taming of the Shrew klaar vertaal,” sê Deryck Uys (85).
Dit was in Desember in ons eerste gesprek dat hy my trots meegedeel het Die Regsien van die Rissie het pas die lig gesien het.
Teen Dinsdag vandeesweek was hy besig om The Merry Wives of Windsor te omskep in Die Vrolike Vroue van Windsor.
“Ek dink ek het 13 getel wat ek gedoen het nou in die afgelope 13 of 14 maande. Ek dink daar is in totaal 37. As jy nou Hamlet en Twaalfde Nag wegneem (hulle bestaan reeds in Afrikaans) dan is daar 35. So ek het my ten doel gestel om dit oor drie jaar te voltooi. As die Here my spaar.”
Uys en sy vrou, Pam, woon in een van die woonstelle wat in die geskiedkundige William Hoy House ingerig is. Dit is in die Kaapstadse woonbuurt Tuine.
Hy ontvang ons by die swaar houtdeur wat na die koel portaal van die huis lei. ’n Ware heer: elegant geklee, hoflik, gasvry.
Die feit dat hy so te sê blind is, verleen aan sy bewegings ’n sekere grasie. Hy beweeg ’n aks stadiger as iemand wat ’n vertrek vol selfvertroue en sonder huiwering betree.
In ’n sin beweeg hy soos hy praat. Afrikaans is sy tweede taal. Hy druk hom versigtig en keurig daarin uit, soos een wat die taal nie as vanselfsprekend aanvaar nie.
“Twintig jaar gelede het ek die sig in my een oog verloor deur gloukoom. En vier jaar gelede het ek omtrent 80 % van die ander oog verloor.”
Hy plaas sy hand oor sy linkeroog. En nou herinner hy ons aan die groot skrywer Borges in sy bejaardheid.
“Toe skielik, waar dit vandaan kom, weet ek nie, maar hulle sê mos daar is ’n trigger...
“Destyds as jong man op ’n plaas in Rhodesië het ek die hele Rubaiyat van Omar Khayyam uit my kop geleer. En toe ek blind word, kry ek die gier om dit in Afrikaans te vertaal. Wat ek toe wel in ’n paar maande gedoen het.
“Ek weet nie wat my begeester het nie, want ek is mos Engelssprekend. Dit het broekskeur gegaan, maar jy raak net meer gekonfyt. My broer het my baie gehelp om dit te tik en so aan.”
Daarna het hy al Shakespeare se sonette in Afrikaans vertaal.
“Dit was ontsettend moeilik, want Afrikaans het seker net omtrent ’n derde van die woordeskat van Engels. So as jy begin ryme soek dan is dit vreeslik moeilik, want jy moet daai ritme behou en jy moet die rym behou en jy moet die sin behou. Ek weet nie hoe ek 154 kon doen nie, maar ek hét.”
En nou vertaal hy die toneelstukke.
Hy het onder meer al Julius Caesar, Antony and Cleopatra, Othello, Macbeth, King Lear, Romeo and Juliet en The Merchant of Venice vertaal.
“Ek laat die teks vergroot en dan het ek ’n sewekrag-vergrootglas. Ek kan net vier letters op ’n slag daarmee lees. En ek kan nie lees wat ek skryf nie, maar gelukkig kan ander mense dit lees.
“Jy het gesien hoe ek geskryf het in my heyday...”
Ja. ’n Lieflike handskrif, iets soos die kalligrafie van ’n monnik. En hy skryf steeds met ’n vulpen.
“Ek dink daar is nog ’n bietjie daarvan oor. En die mense wat dit tik, het die Engelse teks byderhand.”
Hy werk in die vroeë oggendure.
“Byvoorbeeld vanoggend het ek halfeen begin werk. Ek probeer enige tyd vanaf middernag tot omtrent drie-uur soggens werk. Ek probeer so drie, vier, vyf ure voor ontbyt insit. Sewe dae ’n week.”
Hy gaan soms nog na die kantoor van die regspraktyk waar hy in diens is.
“Nie so gereeld nie, die werk het opgedroog, want mense soek nie juis ’n ou, blinde prokureur nie, maar ek het nog hier en daar ’n saak en ek het baie groot sake gehad op my dag.
“Daar was onlangs nog ’n appèlhofsaak oor bouplanne wat vir die hele land van belang was.”
Uys het aan die Potchefstroom High School for Boys gematrikuleer, ’n skool geskoei op die lees van die Engelse public school.
“Ek het begin article toe ek 16 jaar oud was. Ek het gewerk en deeltyds gestudeer en my regseksamens (attorney’s admission) toe in 1945 afgelê.
“Ek het net twee jaar articles oorgehad en toe word ek siek en gaan Rhodesië toe. Ek het aanhoudend griep gehad en ek was net gatvol. Ek dog toe ek moet na ’n warmer klimaat gaan. Daar het ek in ’n goudmyn gewerk en ook as voorman op tabakplase.
“In die Zambesi-vallei, ’n baie verafgeleë plek, het ek alleen in twee rondawels gebly.”
Met die aansienlike prysgeld van die Hope-skryfprys wat hy op skool gewen het, het hy digbundels gekoop – hoofsaaklik Engelse poësie.
“En dié vat ek toe Rhodesië toe. Ek het alles gelees; die hele lot. En toe het ek die gier gekry om in Engels te vertaal. Eugène Marais, by name “Diep Rivier”, “Winternag” en “Mabalel”. En toe “Die Vlakte” van Jan Celliers. En ’n paar ander goed.
“Ek dink ek moet die eer gee aan my skoolmeesters, die Engelse en die Afrikaanse meester, wat my regtig begeester het. Die Afrikaans-onderwyser was oom Jerry Smith. ”
Uys sê hy is saam met die digter-fotograaf Tom Burgers asook die skrywer en digter Dolf van Niekerk ’n lid van die Live Poet Society. Die akteur wyle Louw Verwey was die ander lid.
“Dit is die breinkind van Tom Burgers. Hy was groot pelle met oorlede Louw Verwey.
“Ons het so twee, drie keer per jaar by die Scotch Coffee House in die stad middagete geëet. Dan het ons gesels oor poësie en so aan.
“Louw het ’n toneelstuk geskryf met die naam Adamas en ek het dit vir hom in Engels vertaal.”
Nadat Burgers Uys se vertaling van Die Vlakte gelees het, het hy die idee vir ’n foto-essay oor die Karoo gekry.
“So hy het dit en ’n paar van Dolf van Niekerk se gedigte gebruik as basis vir sy boek Karoo Pastoral.”
Dié koffietafelboek met verruklike foto’s is ook in Afrikaans uitgegee as Karoo Pastoraal.
Ritme en musikaliteit is vir hom belangrik wanneer hy vertaal.
“Want jy sien, as jy poësie skryf, dan doen jy twee dinge gelyk: jy skets ’n beeld en jy maak musiek.”
Mense het al vir Uys gesê sy vertalings van Shakespeare “sing”.
“Dit is wat ek eintlik wil doen, want jy moet verstaan hierdie ou Shakespeare-goed: die taal is in onbruik. So jy moet eers agter die kap van die byl kom van wat hy in Engels wil sê en dán moet jy dit omsit.
“Maar jy moet alles behou, die sing en die musikaliteit en die beeld en alles.
“Jy moet óf hoendervel kry óf trane in jou oë. En as dít nie gebeur nie, dan het ek gefaal.”
Hy skryf self ook pragtige gedigte in hoofsaaklik Engels.
“Ek is baie gedrewe om goed te doen, maar ek weet nie self waarom ek dit doen nie.
“Maar wat ek uitgevind het, en wat my aan die gang hou, is dat mense – en selfs Engelssprekendes – die Engels van Shakespeare en Omar Khayyam béter verstaan deur my vertaling as wat hulle die oorspronklike Engels begryp.”
Uys meen die grootste tragedie van Shakespeare is nie sy toneelstukke nie.
“Dit is dat menige onderwyser daarvoor kopsku is en dié gesindheid aan leerlinge oordra. Gevolglik ontbeer hulle lewenslank die baat van die grootste dramaturg van alle tye.”
Uys ly aan prostaatkanker.
“Ek het dit omtrent al agt jaar onder lede. Ek kry al om die drie maande inspuitings. My dokter sê dit is duidelik my vertaalwerk wat my aan die gang hou.
“Hulle het gesê ek het tien jaar. Nou, daai tien jaar is amper op. Die verpleegster wat my die inspuitings gee, het ’n paar maande gelede vir my gesê: ‘Jy weet, vandat ek jou ken, het jy nie een dag ouer geword nie.’
“Ek glo nie die behandeling alleen kan dit doen nie; ek dink dit is omdat ek al hierdie goed op hande het wat ek wil voltooi.
“Iemand het gesê jy móét in die lewe ’n definitiewe en haalbare doel hê. Dít is die geheim van die lewe.”
Uit Macbeth
Soos deur Uys vertaal
Tomorrow and tomorrow and tomorrow,
Creeps in this petty pace from day to day,
To the last syllable of recorded time,
And all our yesterdays have ligated fools
The way to dusty death. Out, out, brief candle,
Life’s but a waking shadow; a poor player
That struts and frets his hour upon the stage,
And then is heard no more: it is a tale
Told by an idiot, full of sound and fury,
Signifying nothing.
Die dag van môre en van môre en van môre,
Krepeer in slakkepas van dag tot dag,
Tot die laaste lettergreep van tydsoorkonde,
En ons vervloë dae belig die stommiges
Na stowwerige dood. Uit, uit kortstondige kers,
Die lewe’s slegs ’n wandelende skadu; ’n arme speler
Wat pronk op die verhoog vir ’n uur of wat,
En dan sal swyg: dit is ’n verhaal
Deur ’n idioot vertel, vol drif en drang,
Nietig en niksseggend.
Besoek www.deryckuys.com vir nog vertalings.
‘‘
- Die Burger