Daardie misterieuse verhouding tussen akteurs
en hul rolle, is vanoggend weer ter sprake wanneer Margit Meyer-Rödenbeck oor
haar alter ego Dowwe Dolla praat.
Die gesprek met Margit vind plaas in haar en haar man, Jurg Human,
se huis in Proteavallei, Bellville, aan die soom van ’n landelike gebied. Die
aangename reuk van perdemis is net-net waarneembaar.
Die ruim wit huis met sy spitsdak het die gevoel van ’n plaashuis.
In die dubbel-volume leefvertrek staan ’n vleuelklavier. Aan die een kant is ’n
tussenverdieping geskep waar Jurg werk en musiek maak. Ons hoor nou en dan
enkele sagte blues note van daar bo af.
Margit praat vinnig en met geesdrif. Sy lag dikwels en tref jou as
iemand wat nie aan ’n ongesonde mate van selfkoestering ly nie. Dit wil sê: sy
is nie precious nie. Die woord
sprankelend som haar goed op.
“Kyk, Dolla is nie almal se cup of tea nie. Glád nie! Die ironie is: haar
grootste kritici is mense wat haar nóóit gesien het nie, wat sê sy is kommin,
sy’s dom, sy weet nie waarvan sy praat nie.
“Die rigting waarin sy nou beweeg ná 15 jaar, is uit en uit
politieke satire. Sy is húge. En sy
is alles wat ek nie is nie. Dis héérlik om haar te speel want sy is nie skaam
nie... Sal ék nou in ’n nurse outfit
rond prance? Is jy
bedónnerd?”
Sy is vanoggend geklee in ’n wit rok en hoëhakskoene. Om haar nek
is ’n groterige kruis.
“Definitief nie op 42 nie. Maar sy is nie ék nie. Sy is nie Margit
nie. Ag, sy is eintlik ’n amazing
karakter om te hê. Ek sê mos altyd sy is die volwasse Liewe Heksie – met alle
liefde en respek aan Verna (Vels, skepper van Liewe Heksie), want ek dink Verna
se karakter is beautiful!
“Dolla is naïef en sy het chutzpah. Dis hoekom sy wegkom met alles. Sy beweeg in
die rigting van stand-up. Ek sê altyd om Dolla stand-up te doen vir ’n uur is vir my soos om ’n
fighter pilot te wees. Jy sit vir ’n
úúr in daai cockpit want elke ou wat
hier voor jou sit, kan enige oomblik met jou praat. Dis soos bómme wat kom, maar
dis ’n héérlike adrenalien.
“Ek het al baie gedink om haar te laat gaan. Ek het haar destyds as
een van my karakters geskep en op ’n stadium wás ek gatvol vir haar. Ek het
gedink: genáde, al wat mense sien as hulle vir my kyk, is Dólla, en dan weet
hulle nie eers wat Dolla is nie.”
’n Paar jaar gelede het sy vrede gemaak met Dolla.
“Ek het besluit ek líke
haar. Ek is nie skaam vir haar nie; sy is vir my lékker. Sy bring my op plekke
waar ek nie andersins sou wees nie.”
In Junie begin die nuwe Dolla-vertoning: Dowwe Dolla Dink Diep. Jurg gaan die teks daarvoor
skryf.”
Margit het ’n honneurs in drama met lof geslaag.
Sy het haar in dié studie op kinderteater toegespits. Later het sy ook ’n
meestersgraad in verhoogbestuur behaal.
“Ek is net mál oor kinders! Hulle is so eerlik. Ek sê altyd waar ek
geleer het om stand-up te doen is in
kinderteater, want hulle praat heeltyd met jou. En hulle vertel vir jou goed en
jy moet reageer daarop. Tot vandag is kinderteater vir my die lekkerste
teater.”
Sy het al as speler, skrywer, regisseur en vervaardiger in dié
genre gewerk. Vlooi en Liewe Heksie is van die gewildste
produksies. Op die Suidoosterfees gaan sy as Liewe Heksie haar verskyning maak
in Liewe Heksie en Die Wals.
“Ek weet baie mense sien neer op kinderteater, maar dit is vir my
heerlik. Daai kinders! Daai gesiggies! Ag man, dis ongelooflik, jy wil hulle
opvreet. Hulle léwe.
“Hulle is nie soos ons met die blokke nie. Ons het mos nou al
besluit hoe ons moet reageer en wanneer ons moet lag...ons is net so
símpel.
“Kinders is éérlik en dádelik; veral daai size, van so 2 ½ af – ek kan my nie uitspreek oor
tieners nie. Ag jy sien die lewe deur hulle oë.”
Regie lê haar ook na aan die hart. Sy het die regie gedoen vir
Bye Ma, Jaypee wat ook nou op die
Suidoosterfees te sien is.
“Dis eintlik wat ek al die jare wou doen, maar nooit tyd voor gekry
het nie. Ek is mal oor regie, want dit is prentjies maak en ál jou sintuie skop
in.
“Dis vir my frustrerend in die sin dat ek nie op die einde beheer
het oor wat daar voor aangaan nie.”
Lag.
“Dis vir my méér senutergend as om sélf op ’n verhoog te staan.
Maar dis ongelooflik om met talent te werk. Almal kom met hulle vaardighede. So
as jy op die regte bladsy met almal is, dan is dit heerlik om dit aanmekaar te
sit.
“Maar ek gaan nie nou hónderde plays direct nie want ek het nie tyd om dit te doen
nie. Ek sal kies wat ek wil doen.
“En verder probeer ek balans hou. As jy Die Boer (haar en Jurg se
teatertestaurant in Durbanville) het en jy het Dolla en jy het plays om te direct en jy het Vlooi en Liewe
Heksie en my kind, wat my eerste prioriteit is...Sy is fabulous! Sy is vir my die lekkerste,
lekkerste, lekker van álles. En as ek moet kies, kies ek haar.”
Speelgoed in ’n aangrensende vertrek dui op Luca se
teenwoordigheid, maar sy is vanoggend by haar kleuterskool “anders sou ons nie
nou kon praat nie”, aldus Margit.
Sy is baie optimisties oor die Suid-Afrikaanse
vermaaklikheidsbedryf.
“Ek dink daar is baie, baie werk, maar in ons bedryf moet jy leer
om self te skep. Daar is voordele aan. In die eerste plek plek doen jy dan
regtig wat jy wil. In die tweede plek: jy is in beheer, en jy wag nie vir die
telefoon om te lui nie. As ek moes gewag het vir die telefoon om te lui het ek
nou nog in my flat gesit en
gewaitress, want die telefoon het nog nooit gelui vir my nie.”
Sy lag saggies.
“Nog nooit.”
Margit se stemtoon verander wanneer sy praat
oor die tragi-komedie K waarin sy
teenoor Trix Pienaar gespeel het.
“Dit was net toe my ma dood is. So Hennie (van Greunen) het
geskryf, maar baie van die goeters was very
close to home. Dit was my eie woorde wat ek amper net gepraat het.
“Dis ’n pragtige stuk. Baie mense vra ons moet dit weer doen, maar
ek weet nie of ek weer wil teruggaan soontoe nie.
“Dit was baie goeie terapie vir my. K en Bye Ma,
Jaypee is healing teater. Die
ouens wat daarin speel word skoongemaak en die ou in die gehoor word
skoongemaak.
“En...ja, dit was vir my goed. Dit het my elke aand teruggevat
na daai plek toe. Daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie my ma mis nie. Sy is nou
al tien jaar dood en ek mis haar nog net so baie.
“Sy het einde September van daardie jaar kanker gekry en hulle het
gesê sy gaan nie Kersfees maak nie want dit is terminale buikkanker. En toe is
sy dood die elfde Maart.”
Margit het baie tyd saam met haar deurgebring.
“Maar die begin van daardie jaar moes ek op die Groot Vyf-toer gaan
saam met Steve (Hofmeyr) en Patricia(Lewis)en almal.
Toe sê my ma: ‘Jy gaan nie
langs my bed sit en wag dat ek doodgaan nie.’
“So toe is ek weg op daai toer. Ek het teruggekom en drie dae later
is sy toe dood. Maar, met die toer het ek die laaste tien dae élke dag huis toe
gevlieg. Ek het elke oggend sesuur ’n vlug gevat, agtuur geland, by my ma gaan
sit en die middag vieruur weer teruggevlieg.”
Nou glimlag sy weer:
“Alexa (Strachan) het my met haar BMW-motorfiets kom haal om deur
die Johannesburg-verkeer te vleg om betyds te wees vir die show.”
Haar ma was haar klankbord.
“As die kritiek gesê het ek is aaklig of as iemand my
lelik...dan kon ek haar bel en dan sê sy drie woorde en dan is als oukei.
Die laaste vyf jaar van haar lewe was sy absoluut my favourite mens.”
Margit mis die geselsprogramme wat sy by Punt-radio gehad
het.
“Jy praat met één mens. Dis ’n vriend. So dis ontsettend intiem wat
jy deel. En veral in die nag, die nagshows was amazing...as daai donkerte sak...dis asof ons
gemoed verander en ’n mens lig jou sluier. Mense praat dinge wat jy nie sommer
in die dag op ’n radio sal praat nie.”
Sy onthou skielik iets wat een Vrydag op haar program Candid Radio
gebeur het.
“Een vrou het gebel en gesê sy kan nie haar man bel nie want hy het
’n beroerte gehad. Hy is in ’n ander kamer in die huis en sy gaan nou vir hom sê
om daardie telefoon op te tel.”
Toe hy die telefoon optel, het sy teruggegaan na die ander telefoon
en begin praat. Hy kon haar hoor en haar woorde is ook uitgesaai.
“Toe vertel sy vir hom hoe lief sy hom het en al is hy nie die man
met wie sy getrou het nie omdat hy ’n beroerte gehad het, is sy steeds lief vir
hom en dat sy altyd vir hom sal lief bly en hom nie wil verruil nie.
“Jy kon hom hoor asemhaal en geluide maak, maar hy kon nie praat
nie.”
Sy bly ’n oomblik stil.
“Ek was 29 en ek het niks gehad om te verloor nie. Dolla het
dieselfde jaar begin as wat ek by Punt begin werk het, so dit was...ek was
nog nie bekend nie; ek was nog eiewys en stupid; en ek het báie foute gemaak.
“Ek dink as ek nóú weer so ’n program moet hê, gaan ek výftig uur
moet voorberei vir een program uit vrees dat mense my gaan kritiseer.”
Sy lag uitbundig.
“Dit was mákliker vir my toe.”