Versoening stap só by ’n poskantoor uit
2012-02-04 03:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Hier om die draai van ons gebou is ’n poskantoortjie. Voordat jy deur die lugverkoeling soos ’n lang verlore vriend verwelkom word, wonder jy hoe hierdie paradysie homself so goed versteek het – ál die kere dat jy ver in Adderleystraat afgestap het na die ánder ene toe.
Dié plek is leeg, afgesien van die twee klerke agter die lang toonbank wat besig is om twee ander klante te bedien. Die ry is joune.
Soos by alle plekke waar jy nie gereeld genoeg kom nie, verken jy jou omgewing met die oog terwyl jy jou beurt afwag. Dan sien jy om ’n pilaar is daar nog klerkstasies. Jy verlaat die ry ’n oomblik lank om om die pilaar te loer. Dalk is daar nog ’n amptenaar beskikbaar.
In die oomblik wat dit jou kos om te loer, kom daar ’n man ingestap. Hy sien jou, ook dat jy terugkeer na die voorpunt van die ry.
Dan gaan die man met alle vermetelheid reg voor in die ry staan!
Jy staan daar, oopmond-dikbek, maar sê liewer eers niks. (Jou naastes weet dat jy nooit ’n onreg – groot of klein – onaangeraak of onaangespreek laat nie.)
Wanneer die klerk, ene Busi, wat jou aanvanklik voor in die ry sien staan het, verlos is van haar klant, wink sy waaragtig die man eerste nader!
Jy tel tot by 10 en oefen solank jou klein toespraak.
Jy dink aan al die kere dat mense jou geboelie het om stil te bly oor goed wat jy wéét verkeerd was. Of die mense wat breëbors, sonder om eens daaroor te dink, in ’n paadjie afgestap kom, jou sien, en jy dan die een is wat noodgedwonge moet padgee (of andersins eenvoudig trompop geloop word). Sulke onbedagsaamheid is ’n lekkende kraan in ’n see van ongemanierdheid in dié land.
Dan word jy net kwater. (Jy onthou darem die ou het nou wel nie jou broer vermoor nie, hy het maar net die queue ge-jump.)
Met jou moed stewig onder die blad, sêjy dan, so kalm soos jou stem sal toelaat, vir die man (op universele taal – om seker te wees hy verstaan jou): “Excuse me, Sir, I think that was terribly rude of you.”
Die man – wat blyk besig te wees met nie-verbale, diep-filosofiese gesprekke met onsigbare wesens in sy kop – draai na jou. Sy gesigsuitdrukking is een van volslae verontwaardiging.
“Oh, I assure you I didn’t do it on purpose.” Die aksent is swaar Engels.
“Well, Sir, you did it anyway,” skiet jy terug. Stilte. Dan draai die man ongeërg om, neem sy kleingeld by die klerk, en stap kop in die lug uit die gebou. Laat dit begaan, dink jy, terwyl dit jou tref dat ’n eenvoudige “sorry” die ding sou doen. Jy dink aan ander gesprekke wat dalk só begin, en in bloed geëindig het. Dankbaar vir vars lug buite dink jy: nee-wat, só kan g’n mens ’n nasie bou nie. Dan skep jy moed en stap weg.
Één onbeskofte wit man in ’n poskantoor verteenwoordig glad nie sy volk nie.
michelle.linnert@media24.com
Kaapstad
- Die Burger