Vir ’n droom sal kinders berge versit
2012-02-05 22:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, Jonathan Jansen, het hier met matriekuitslae-tyd ’n byenes oopgeskop. Behoorlik en vierkant uitmekaargeboender. Hy sal vandag, het hy gesê, twee keer dink voordat hy sy kind na ’n skool in Suid-Afrika stuur.
Die matriekuitslae was nou wel nie iets waarmee ons in die buiteland wil loop en spog nie. Nog meer die stelsel wat bepaal wie slaag en wie nie. Maar tussen al hierdie statistieke deur kom daar verhale wat rieme onder die hart bring.
Hoeveel keer het ons nie vanjaar reeds gelees van presteerders wat in die moeilikste omstandighede nie net geslaag het nie, maar met uitstekende punt gepresteer het? Jy vra jouself af: Watse kans het ’n seun uit ’n plakkerskamp om matriek te slaag, wat nog te sê ’n A te behaal?
Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg, lui ’n ou gesegde. En daar is vandag nog talle kinders met so ’n wil, selfs dié wat nie veel ondersteuning van hul ouers of omgewing kry nie. Eweneens is daar kinders wat alles het wat geld kan koop, maar sonder die regte ondersteuning feitlik niks bereik nie.
Maar dis nie net met skoolvakke dat baie jong kinders met talent en ondersteuning jou asem wegslaan nie. Die laaste paar maande is die mooi gesiggie van Jackie Avencho baie op die TV gewys. Sy is nege jaar oud, maar het as agtjarige deelgeneem aan die talentkompetisie America’s Got Talent.
Dis nie net dat sy kan sing nie; sy het ’n suiwer klassieke aanslag. Sy het haar hart uitgesing met die “Ave Maria”, en ’n lang ruk daarna was die groot gehoor doodstil. Asof niemand wou glo wat hy of sy gehoor het nie. Toe eers was daar dawerende applous. Lank en luid.
Sy’t intussen baie opgetree (kyk maar op YouTube), en jy weet dis nie net ’n geval van mond oopmaak en sing nie. Dis ’n geval van ’n meisie wat toegewyd moet wees om hard te werk, wat nie kan rondhardloop soos sy wil nie.
Maar haar ma het in ’n onderhoud gesê dis nie ’n geval van druk op haar plaas nie, dis haar droom en sy werk hard daaraan.
’n Britse koerant berig onlangs oor nog ’n klein wonderwerk: die agtjarige Zoe Thomson, wat gereken word as die mens met die “vinnigste vingers” as dit by musiek kom. Sy speel kitaar dat die berge antwoord gee. Nie sommer tokkelok nie, maar ingewikkelde instrumentmusiek soos dié van die swaargewig- Finse rock-groep Stratovarius.
Dan praat ons nie eens van die IT-slimkoppe wat jonk-jonk bedrewe is nie.
Dalk sal hierdie kinders onderdeur die A-kategorie gly, maar weet dat hulle die toewyding het om skouer aan die wiel te sit as dit kom by ’n droom of ideaal. Ideale is nie iets wat op skool aandag kry nie. Dit word as dagdrome beskou. Maar daar is oorgenoeg bewyse dat kinders wat drome het dit tot elke prys sal najaag.
mjoubert@mweb.co.za
Paarl
- Die Burger