Die redakteur se droewe lot goed besing
2012-02-02 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Noudat ons land se redakteurs in die voorste linie is in die stryd teen die dreigende inligtingswet, kom ek af op ’n beskrywing van die redakteur se werklik tragiese lot.
Toegegee, dié hartroerende beskrywing is in 1945 geskryf deur die destydse rubriekskrywer Jannie Kruger. Hy het redakteur van Die Transvaler geword en nog later ’n gedugte sensor.
As redakteur was hy nie geneig tot onafhanklikheid nie. ’n Bekende storie oor sy oordeel was sy woede toe sonder sy medewete ’n voorbladberig in die koerant verskyn oor ’n ontugsaak waarin ’n NG predikant betrokke was. Kruger sou briesend aan sy redaksie sê om te onthou dat ’n NG predikant ’n gesalfde van die Here is en dat ons hom moet beskerm.
Net voordat hy redakteur geword het, het Kruger hierdie, ja, roemskrif geskryf oor die lewe van ’n redakteur.
“’n Redakteur moet ’n fyn ingestelde sesde sintuig hê, anders sal hy dit in sy veeleisende werk nie lank kan uithou nie. Soos springbokke in die Namakwalandse winterveld die voorjaarsreën ruik wanneer dit tweehonderd myl daarvandaan in die Boesmanland val, so moet die wakker redakteur deurentyd uit gesprekke op straat, uit boodskappe oor sy telefoon en uit sy possak – gelukkig die redakteur wat ’n grote het! – die openbare mening snuif, sodat hy nie buite voeling raak met die publiek wat hy bedien nie. Die openbare mening is sy leidstêr en nagmerrie, al na gelang hy dit suiwer opvang en bevredig of, ondanks oorspanne beluistering, vergeefs worstel om die fluisterstem daarvan te verneem wanneer sy eie hart die antwoord weier.”
As die lesers kon bygehou het, kon hulle verder lees: “Tussen hierdie pole van klinkklaar leiding en onbestendigheid word sy moeisame lewe geslinger, verryk deur die loon van geïnspireerde insig of verkommer deur nugter nagte van wykende ingewing.”
Jou gewone ou koerantman sal by die “nugter nagte” vassteek. Met die voorlees aan ’n vriend kon hy darem die Namakwalandse springbokke wat die voorjaarreën ruik, “optel”, maar daardie woorde “beluistering” en “verkommer”?
Wonderlike woorde uit ’n tyd toe mense so geskryf het. Kruger het blykbaar getroue lesers gehad en was voortdurend ’n spreker by vrouegeleenthede en op volksdae.
Sy ode aan die redakteur verdien tog ’n bietjie nadenke. Veral oor die redakteur se sintuie wat die openbare mening so moet snuif dat hy nie uit voeling raak met die publiek wat hy bedien nie.
Snuiwend of nie, dis die redakteur wat nóú in sy slingerende “moeisame lewe” die vaandel vir die openbare mening dra. Dis hy wat die arrogante aanvalle teen die pers van die Jessie Duartes, die Gwede Manatshes, die Jackson Thembu’s moet trotseer met “geïnspireerde insig”.
Kruger het dalk nie oordryf oor die redakteur en sy lot nie.
meiring@lando.co.za
Stellenbosch
- Die Burger