ANC-taalplan ’n yslike tragedie
2012-02-03 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Dit is verstommend hoe die ANC sedert sy bewindsaanvaarding op verskeie terreine – gelukkig nie almal nie – goeie raad wat op stewige pote staan, in die wind bly slaan.
Wat gister oor die Wetsontwerp oor Afrikaanse Tale berig is, is ’n tipiese voorbeeld. Die wetsontwerp bepaal dat staatsdepartemente in minstens drie tale met burgers moet kommunikeer, waarvan twee voorheen benadeelde Afrikatale móét wees. Geen departement gaan Engels uitskuif om Afrikaans naas twee swart tale te gebruik nie, en geen departement sal die moeite en koste aangaan om viér tale te gebruik sodat Afrikaans ook ’n plek kan kry nie. As dié maatreël wet word, is Afrikaans as owerheidstaal so dood soos ’n mossie.
Burgerlike organisasies soos Solidariteit moet maar solank hul vere begin regskud om dié ongrondwetlike maatreël met alle mag in die konstitusionele hof te beveg.
Wat nou duidelik geword het, is dat die ANC-LP me. Thandi Sunduza reg was toe sy verlede week gesê het Engels koloniseer Suid-Afrikaners se gedagtes. Te veel Suid-Afrikaners van alle groepe, selfs Afrikaners, kyk neer op hul eie kulturele erfgoed en aanbid Engels. Maar dit is ook gewoon onverstandige beleid.
Daar is wêreldwyd vyf verskillende modelle oor hoe om met taalverskeidenheid om te gaan.
Die eerste is welwillende verwaarlosing, wat in die ou Sowjetunie gevolg is. Lippediens is aan minderheidstaalregte bewys, maar in die praktyk is dié tale aan hul eie lot oorgelaat, met die gevolg dat Russies in die praktyk bevoordeel is.
Tweedens is daar die Amerikaanse smeltkroes, waarvolgens alles in één pot saamgegooi word om mee te ding, maar aangesien Engels die owerheids- en handelstaal is, bevoordeel dit hom.
Die derde is die Franse model, waarvolgens die minderheidstale aktief verdruk word ten koste van Frans, wat as draer van die nasionale identiteit geld. Streektale soos Occitaans en Bretons is daardeur op sterwe na dood.
In die vierde plek is daar ’n Afrikamodel. Feitlik alle elites in Afrika beskou hul etniese verskeidenheid as ’n bedreiging vir die nasionale eenheid (waaraan hulle hul politieke mag en welvaart ontleen). Dus bevoordeel hulle die gewese koloniale taal – Engels, Frans of Portugees – ten koste van die inheemse tale. Af en toe – soos die ANC – maak hulle mooi geluide oor die bevordering van die inheemse tale, maar in die praktyk bevoordeel hulle net die koloniale taal.
Ten slotte is daar die Europese model, wat minderheidstale van staatsweë erken, koester en bevorder. ’n Hele wetlike raamwerk bestaan in lande soos Duitsland, Nederland, België, Switserland, Italië, Spanje en ander om minderheidstale aktief te bewaar.
Die idee daaragter is dat dit nasionale eenheid juis aanhelp as jy mense toelaat om naas jou oorkoepelende nasionale identiteit ook ’n etniese identiteit met trots te omhels.
Dus kan jy byvoorbeeld ’n trotse Fries wees wat jou kinders binne die grense van die provinsie Friesland in ’n Friestalige skool plaas, na Friese televisie- en radiosenders kyk, ’n Friese koerant lees en in Fries kerk toe gaan, maar daarnaas ook voluit Nederlander is.
Die wortels van die ANC se politieke denke kan hoofsaaklik in twee bronne gevind word: die voorbeeld van die Sowjetunie, wat vir die ANC in ballingskap feitlik hemel op aarde was, en Afrika. Sy taalbeleid word waarskynlik ook deur dié twee bronne geïnspireer.
Daar kan nie fout gevind word met die doel wat die ANC met die mond bely, om swart tale te bevorder, nie. Dis uitstekend. Maar kan dit dan slegs bereik word deur Afrikaans op te offer? Waarom móét die een ten koste van die ander wees?
Dit is ’n yslike tragedie.
- Die skrywer is Media24 se korrespondent in Europa.
- Die Burger