Die skrywer kom broos voor en ook ietwat moerig, meegebring deur
hoë ouderdom en ’n uitmergelende debat nadat hy pas die Jan Rabie-Marjorie
Wallace-skrywersbeurs gewen het.
Maar hy steek dit die meeste van die tyd goed weg deur sy
beleefdheid en welsprekendheid en sy passie vir dit waarmee hy hom eintlik wil
besig hou: om die verhaal van die slavin Phillida opgeteken te kry, soos wat hy
die keurpaneel vir die beurs in sy aansoek belowe het.
Die debat het hom egter innerlik só ontstel dat hy beswaarlik aan
die skryf kan kom, vertel hy Maandagmiddag op die stoep van sy voorstedelike
huis.
En wanneer laas het hy só gevoel? Die presiese detail ontbreek in
sy antwoord, maar hy onthou dit was ’n paar jaar gelede – “ook maar oor een of
ander onstuimigheid van buite af”.
Nou hoop hy dat hy taamlik gou weer by die punt sal wees waar hy sy
volle aandag aan sy skryfwerk kan wy. En hy sê: “As ek eers skryf, dan kan niks
my daaruit kry nie.”
Hy was so tien bladsye ver met die boek oor Phillida toe hy so twee
weke gelede na Frankryk moes vertrek; met die terugkoms het hy hom midde-in ’n
debat bevind waarin onder meer aangedring word dat hy die Rabie-Wallace-beurs
moet teruggee.
“Natuurlik het ek ernstig oorweging geskenk aan of ek enigsins moes
aansoek doen – oor presies die kwessie waaroor die briefskrywers so tekere gaan:
oor of ek as gevestigde skrywer die beurs moes kry.”
Die advertensie waardeur aansoeke aangevra is, het dit egter baie
duidelik gestel dat énige Afrikaanse skrywer kon aansoek doen.
En terwyl Brink bewus is daarvan dat Wallace aanvanklik wou hê dit
moes ’n beurs vir bruin skrywers wees, het sy ná vele gesprekke met ander
mettertyd tot die besef gekom dat dit ’n rassistiese klank daaraan kan gee.
Indien hy egter getwyfel het of Rabie en Wallace dit sou goedkeur dat hy aansoek
gedoen het, sou hy dit nie gedoen het nie.
Rabie se reaksie op die toekenning (postuum) van ’n Nasionale Orde
aan hom die afgelope Vrydag sou volgens Brink waarskynlik neerhalend gewees het:
“Hierdie f—n mense wat aangaan oor vererings,” sou Jan dalk sê, maar diep in sy
hart sou hy tog bly wees.
Hier sit Jan en Jorie se ou vriend nou in die sonskyn en lowergroen
van sy tuin, wenner van die allemintige R350000-beurs, en hy sê verontwaardig:
“Daar bestaan hierdie eienaardige persepsie dat ek rol in die geld.”
Die beursgeld is dan juis so bepaal dat dit die skrywer vir ’n jaar
lank van sy of haar finansiële las sal losmaak. ’n “Blêrrie lekker meevaller” is
dit ongetwyfeld.
Maar een van die “aangename newe-effekte” van die toekenning is dat
dit vir sommige as aanmoediging dien eerder as dat dit ontnugtering bring.
Nou wat het hy bedoel met sy verwysing na regstellende aksie in
Rapport? “Wat ek aandui, is dat in ’n samelewing met ons agtergrond kan jy
eintlik nie ’n nuwe bedeling ingaan sonder ’n vorm van regstellende aksie nie.
Maar dan moet dit nie gedoen word soos deur Eskom, waar werklik onkundige mense
aangestel word in poste wat die beste tegniese vaardigheid verg nie.”
Of wat hy ook graag sal wil sien, is dat diegene wat in
“regstellende aksie”-poste aangestel word byna beangs sal wees dat hulle nie net
aangestel is oor hul kleur nie, maar omdat hulle ook bekwaam is vir die
werk.
Dié aanstellings moet dus geskied met soveel holistiese begrip vir
die situasie. “Maar die sakewêreld en ook die literatuur is nie ’n plek vir
liefdadigheid nie, maar vir meriete.”
Dit is uiteindelik die kruks van die saak; dit is waar die waarde
en die nodigheid van die Jan-en-Jorie-beurs lê.
Terselfdertyd kan hy my ook nie nou reeds die versekering gee dat
sy boek ’n sukses gaan wees nie; dalk is dit uiteindelik “’n totale flop, ’n
pot str—t”.
Dit is egter net so ’n aangrypende verhaal, dié van die slavin
Phillida wat ’n verhouding met haar baas gehad het, waaruit drie, vier kinders
gebore is. Uiteindelik is sy en die kinders verkoop nadat sy ’n klag teen haar
minnaar gaan indien het omdat hy met die buurdogter moes trou. “Maar wie vat nou
’n slaaf se woord,” sêvra Brink.
Dit is egter dié jong vrou se karakter wat hom bybly – dat sy ver
geloop het om die klag in te dien, terwyl “al die dice teen haar gelaai
was”.