Zuma se bedsake is ’n kwessie van moraliteit
2010-02-04 04:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Amanda Gouws
Ons president bly in die nuus; en dit is nie omdat hy die land goed regeer nie, maar oor sy slaapkamer-eskapades – wat ’n mens laat wonder wie die land regeer terwyl die president so besig is.
Reaksie op die geboorte van (nog) ’n buite-egtelike Zuma-kind het soos volg gewissel: “Zuma moet optree soos ’n president en nie soos ’n gigolo nie” (Cope); “hy moet terapie vir seksverslawing kry” (ACDP); “sy gedrag het verreikende openbare gevolge” (DA); “Zuma is ’n ouer persoon, en ons is nie gekwalifiseer om daaroor te praat nie” (Julius Malema – verskoon my, maar is dit nie dieselfde Julius wat Thabo Mbeki, ook ’n ouer persoon, ’n slang genoem het nie?); en “as Zuma se eerste vrou instem, is daar niks wat ons kan doen nie” (ANC-vroueliga).
Die ANC meen dit is ’n private saak en het dus niks met ons te doen nie. Maar is dit so?
Wanneer is ’n politieke leier se privaat lewe oop vir skrutinering?
Toe Bill Clinton sy indiskresies met Monica Lewinsky gepleeg het, is hy amper van sy amp onthef. Ons kan argumenteer Zuma is ’n rolmodel en sy voorbeeld moedig veelvuldige bedmaats aan. Dit werk juis die vigsveldtog van one girlfriend, one boyfriend teë.
Daar is ook die “kultuurargument” wat Zuma al geopper het toe “Kwezi” hom van verkragting aangekla het. Baie mense van dieselfde kultuur het gesê dit is “Zuma-kultuur” en nie Zoeloe-kultuur nie.
Ons kan sê Zuma het die reg om sy keuses uit te oefen. Die liberalisme staan tog vrye keuse voor. ’n Teenargument is gegrond op ’n sekere waardeoordeel wat inherent in die liberalisme is. Vanuit die vertrekpunt van die liberale teorie kan ons argumenteer dat die liberalisme ’n sekere visie van die “goeie lewe” voorstaan.
’n Liberale samelewing is dus nie waarde-neutraal nie, maar probeer sekere waardes ten opsigte van die common good daarstel en bevorder sekere doelstellings soos sekerheid, die verligting van lyding, die bevordering van individuele onafhanklikheid en positiewe waardes in kinders. Daarom bevorder die staat ’n sekere beleid en verbied ander.
Die liberalisme bevorder dus sekere deugde en ander nie.
Die Amerikaanse feminis Iris Marion Young argumenteer onafhanklikheid van mense behoort ’n belangrike aspek van ’n liberale samelewing te wees, maar dat onafhanklikheid van mans, en nie van vroue nie, die norm in liberale samelewings is. Vroue word gewoonlik gesien as die versorgers van kinders en huishoudings en daarom nie as outonoom nie.
Young tref voorts ’n onderskeid tussen “intrinsieke en “funksionele” tradisionalisme. Eersgenoemde beskerm tradisionele praktyke omdat dit konformeer aan praktyke uit die verlede, en laasgenoemde beskerm sekere waardes omdat dit belangrik is vir die suksesvolle funksionering van ’n liberale samelewing.
As ons dan aanvaar dat die ontwikkeling van onafhanklikheid ’n belangrike waarde in ’n liberale samelewing is, watter keuses ten opsigte van onafhanklikheid kry die vroue met wie Zuma ’n verhouding het? Ons hoor hy het skadevergoeding aan Sonono Khoza betaal en is bereid om met haar te trou. Sy word so getipeer as iemand wat moet wag en kyk wat Zuma gaan doen en wat blykbaar nie op geboortebeperking aangedring het nie.
Zuma het die mag om meervoudige verhoudings aan te gaan, maar dieselfde geld nie sy vroue nie. Hy hoef net sy eerste vrou te raadpleeg. En die rol van dié vroue is om tuisteskeppers te wees en kinders te versorg te midde van hul afhanklikheid van hom.
Hoe gereeld kan een man aandag gee aan 20 kinders wat landwyd versprei is? Sy enigste vrou wat ’n politikus uit eie reg is, Nkosazana Dlamini-Zuma, het van hom geskei.
Zuma bevorder dus intrinsieke tradisionalisme wat niks met die instandhouding van ’n liberale gemeenskap te doen het nie, nog minder met onafhanklikheid van vroue (wat deur elke genderbeleid van die regering verkondig word).
Die moraliteit waarna hier verwys word, is nie ’n godsdienstige een nie, maar gaan oor ’n visie van die “goeie samelewing” wat uit ’n liberale waardeoordeel spruit. Dit is vir Zuma te maklik om te sê “oeps, ek het ’n fout gemaak” en skadevergoeding te betaal of ’n huwelik aan te bied en sodoende die vrou se afhanklikheid te bevestig.
- Die Burger