Politieke olie op die Belhar-vuur
2012-02-04 03:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die aanvaarding van die belydenis van Belhar as vierde belydenisskrif deur die algemene sinode van die NG Kerk (NGK) is vandeesweek opnuut in die openbare aandag geruk deur ’n memorandum van genl. Johan van der Merwe, oudhoof van die polisie, aan die leiers van die Kerk.
Van der Merwe redeneer dat die belydenis deel gevorm het van ’n kommunistiese aanslag teen die destydse staat, met teoloë soos drr. Beyers Naudé en Allan Boesak en eerw. Frank Chikane op die voorpunt. Hy maak swaar staat op die sogenaamde Kairos-dokument, waarin ’n aantal teoloë (Dawie se woorde) twee millimeter duskant die regverdiging van die ANC se gewelddadige stryd stop.
Hy herinner aan die doel van die ANC/SAKP en die Sowjetunie – hoofsaaklik politieke mag – en sê hulle en sekere geestelike leiers het dit “op ’n slinkse wyse verdoesel deur apartheid as die euwel waarteen die stryd gerig was, voor te hou”. Hy sê dat Boesak en ander teoloë “ ’n nuttige werktuig in die hande van die ANC/SAKP” was en dat die belydenis deel van ’n Boesak-strategie was om apartheid as ’n “pseudo-religieuse ideologie” te brandmerk en om “in kerklike kringe legitimiteit aan die revolusionêre bedrywighede van die ANC/SAKP-alliansie te verleen”.
Die aanvaarding van die belydenis van Belhar deur die algemene sinode van die NGK verlede jaar – en dit deur ’n aansienlike meerderheid – was weliswaar ’n reusestap wat dié kerk gegee het onderweg terug na wat hy, ooreenkomstig sy bestaansrede, moet wees: ’n getuie van Christus op aarde.
Dawie het met die aanvaarding van die belydenis gewaarsku dat die NGK tog versigtig sou moes werk om sy lidmate met hom saam te neem. Die reaksie indertyd het bewys dat ’n minderheid nie beïndruk is deur die rigting wat die kerk inslaan nie. Met Van der Merwe se memorandum is die saak vir die kerk ongelukkig nou nog meer kompleks.
Daarom is dit belangrik om ’n paar punte duidelik te stel.
Uit Van der Merwe se memorandum blyk dat hy met politieke motiewe voor oë die rol van Boesak in die opstel van die belydenis oorskat.
Van der Merwe (en ander kritici) hamer ook op die maatskaplike (dus politieke) fokus van Belhar en gee te kenne dat dit daarom nie as ’n belydenisskrif kan kwalifiseer nie. Terloops, as daar beswaar teen die maatskaplike fokus is, moet groot dele van Jesaja, Miga, die sendbrief van Jakobus en die Bergrede ook uit die Bybel geskrap word. Die belydenis gee nie voor dat hy ’n allesomvattende behandeling van die Christelike geloof weergee nie. Soos die kerk se ander belydenisskrifte het dit in ’n bepaalde historiese konteks ontstaan en het dit ingrypende politieke implikasies.
Maar dit bly primêr ’n teologiese dokument. Dit gaan om die kerklike dwaalleer, die Bybelse regverdiging van die apartheidsbeleid wat in blote rassediskriminasie en onreg sy uiting gevind het – diskriminasie en onreg wat deur die meeste Christene verwerp word.
’n Mens kan tereg ernstige vrae stel oor die teologiese suiwerheid (uit ’n gereformeerde perspektief) van die optrede van talle teoloë in die struggle. Soos ook oor die teologiese suiwerheid van teoloë wat apartheid uit die Bybel probeer regverdig het. Teenoor dié twee rigtings het die opstellers van Belhar ’n Bybelse koers probeer inslaan. En dit belig weliswaar ’n aspek van menswees – maatskaplike geregtigheid – wat tevore in Suid-Afrika teologies verwaarloos is, maar dit wyk nie intrinsiek af van die reformatoriese teologie nie. As sodanig kan die belydenis juis broodnodige versoening en vergifnis in Suid-Afrika in die hand werk.
Met respek dus teenoor die generaal: Die opstellers van die belydenis verdien nie om deur hom en ander verketter te word nie.
- Die Burger