In die oë van mense agterop ’n bakkie
2012-02-03 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Oral in die land sien jy mense agterop bakkies.
Jy is op die snelweg naby die stad, en dan is daar ’n ou Isuzu voor jou in die middelbaan, met drie manne agterop. Oor een se ore is ’n Rasta-mus getrek. Die ander twee se blou oorpak is vol verfspatsels. Dit lyk nie of hulle met mekaar gesels nie. Hulle sit met hul rug teen die bakkie se kajuit en kyk agtertoe. Hulle gaan by ’n huis of op ’n bouperseel werk, weet jy – heeldag lank sal hulle verf, messel of kruiwa stoot. Vanmiddag gaan hulle in die teenoorgestelde rigting agterop hierdie selfde bakkie op hierdie selfde snelweg ry, terug township toe.
Ander kere is daar meer as drie mense agterop die bakkie. Daar is vier of agt of sommer tien, en dis meestal mans. Daar kan selfs ’n leer of ’n kruiwa saam met hulle op die bak wees. Soms moet party op die bak se rant sit, want ín die bak is nie genoeg plek om te sit nie. Hulle moet aan die bakkie vasklou en oppas hul pet waai nie van hul kop nie.
Partykeer sien jy ’n pet op die snelweg lê. Dit lê daar in die linkerbaan, en die karre ry daaroor. Wanneer die wind waai, sal die pet ’n entjie die lug in fladder voordat ’n volgende kar kom en dit weer plat trap.
Jy sal na daardie pet kyk, en weet dit het van iemand wat agterop ’n bakkie was, se kop gewaai. Dalk was dit ’n pet van ’n jong man uit die Oos-Kaap, sal jy vir jouself sê. Dit was sy eerste dag agterop ’n bakkie saam met ander werkers, en toe hy weer sien, gryp die wind die pet van sy kop af. Dalk sou hy vergeefs die wind in vir die bestuurder geskreeu het om stil te hou, terwyl die ander werkers vir hom lag.
Op die platteland sien jy ook soms ’n pet in die pad lê. Niemand hou graag stil vir ’n dêm werker wie se dêm pet afgewaai het nie.
Dit is ’n skildery wat nog nie geskilder is nie – die een van die werker agterop die boer se bakkie. Die werker ry dikwels saam dorp toe om die hekke op pad oop te maak. Die hele oggend sit hy in die heklose dorp agterop die bakkie terwyl die boer by die bank en die Spar en die koöperasie ingaan.
Partykeer sal die werker afklim, en dan sal daar ’n repie koerantpapier en die oranje van ’n pakkie BB-twak in sy hand wees.
Die platteland is vol desperate mense agterop desperate bakkies. Die mans het dikwels nie ’n oorpak aan nie. Hul hemp fladder soos ’n verslete vlag aan hul lyf in die wind. Soms sal daar tussen die ander agterop die bakkie ’n vrou wees, met ’n doek om haar kakebeen gebind, op pad na ’n kliniek waar die seer tand seer getrek sal word.
Soms sien jy oumas agterop bakkies, soms kinders, soms ma’s met ’n baba in hul arms.
Mense agterop bakkies kyk meestal agtertoe. Hulle kyk nie na waar hulle heen gaan nie. Hulle kyk na waar hulle vandaan kom.
Hulle kyk na jou.
Jacobsbaai
- Die Burger