Vind rus vir siel in oudste woestyn
2010-01-19 12:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
As jy y in jou lewe net een 4x4-toer doen, moet dit dié een wees. Só het die redakteur van WegRy, BARNIE LOUW, geskryf oor die Faces of the Namib-toer.
Ek weet ’n mens drink nie soggens voor teetyd nie, maar hier waar ek vroegoggend op ’n Namibduin sit en tot verhaal probeer kom, het ek versterkwater nodig. Sommer baie.
En as ek so na die asvaal gesigte van die mans om my kyk, het hulle ook enetjie (of twee) nodig.
Ons sit en kyk hoe die een kar na die ander dóér bo sy neus versigtig oor die lip van die Longdrop druk. As ons nader was, sou ons kon sien hoe die oë van die man agter die stuur al groter raak, ons sou kon sien hoe slaan ’n fyn tropiese angssweetjie op sy bolip uit, die doodsbleek van sy kneukels. En dan het hy nog nie eens beweeg nie?.?.?.
As jy ’n paar skuimkoppe sterk is, sal jy die Longdrop waarskynlik só aan jou pelle beskryf: “Man, dis dié @#&*% hoë duin waar ons moes af?.?.?.”
Maar as jy ná kerk by jou skoonma tee drink, sal jy dit waarskynlik só beskryf: “Ons moes afry by hierdie besonder hoë duin – ek skat sowat 30 verdiepings hoog. Ek was baie senuagtig, want net een oordeelsfoutjie, en dis nag.”
Die Longdrop is maar net een van die duine in die Namib wat die manne van die kinders skei. Daar is ook nog die Land Rover’s Graveyard en die Slingshot?.?.?. en sommer baie ander grotes wat nie eens ’n naam het nie.
Ek het baie stories en artikels oor die Namib gelees. Stories oor hoe karre teen duine afgerol het, hoe clutches gebrand is, hoe onderdele ingevlieg en mense met gebarste blindederms uitgevlieg moes word.
G’n wonder nie dat toe ons groep van 20 mans in 10 voertuie by Solitaire saamgetrek het, ek myself reggemaak het vir ’n kameerolletjie in ’n Arnold Schwarzenegger-aksiefliek.
Maar dis nie die aksie wat jy ná die tyd onthou nie.
Jy onthou die grootsheid en die uitsigte op die oudste woestyn op aarde, die stilte wat jou duiselig laat, die aangrypende diamantgeskiedenis, en die vryheid en vrede van dié reuseput wat jou so rustig maak soos ’n Sondagmiddag op die platteland.
Kortweg, die Namib vul jou met ontsag.
Die plan was om van net anderkant Solitaire af min of meer die ou transportryers se ossewaroete Walvisbaai toe te volg tot waar dit die Kuisebrivier oorsteek.
Vyf dae, 550?km. Nie ’n pad, plaashek, Ultra City, waterkraan of Steers nie. Trouens, nie eens ’n boom om van te praat nie, net woestyn.
Ek het nog altyd aan die woestyn gedink as woes en leeg, selfs vyandig, maar skaars ’n paar uur nadat ons weg is, is my skeefgetrekte indruk van die woestyn op sy kop gekeer.
Eerstens het ek nooit kon dink ’n woestyn kán só groen wees nie (toegegee, ons was daar ná ongewoon goeie reën), en tweedens het ek nie besef daar is soveel lewe in die woestyn nie.
Al die veld was inderdaad vrolik op dag een. Op pad na die Kuiseb-canyon ry ons deur plate wit woestynlelies, verby troppe baldadige gemsbokke, pronkende springbokke en sedige sebras.
Stomgeslaan ry ons deur ’n sprokieswoud (ook bekend as meelsakboom) verby feetjiesirkels, om panne vol water, oor geilgroen grasvlaktes.
Die Namas wat dié stuk sand “Die groot niks” gedoop het, het duidelik hul !Narra-pitte gerook.
Vyf uur later hou ons stil vir middagete. Afstand afgelê? ’n Volle 50?km.
Die rede?
Die landskap is só besonders dat alles (en ek bedoel álles) afgeneem móét word.
Min het ek geweet dit sou die hele toer so gaan. Oral waar jy in die Namib kyk, is ’n poskaart. Hier het jy nie ’n mik-en-druk nodig nie; jy’t net ’n druk nodig.