Kamera moet kwas wees
2010-02-02 09:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Hoeveel keer het jy al na ’n goeie foto gekyk en gedink jy sou dit ook kon doen as jy maar net ’n goeie SLR-kamera gehad het?
In werklikheid is dit soos om te sê jy sou goed kon skilder as jy maar net ’n goeie kwas gehad het.
Die foto word gemaak deur die mens wat die kamera vashou. Die kamera is net ’n stuk gereedskap.
Johannes Gerber illustreer dit baie mooi hier. Sy kreatiewe foto is geneem met ’n Canon Powershot A60, ’n gewone mik-en-druk digitale kamera.
Hy het die sluiterspoed redelik stadig gemaak (100/1 sek.) en die kamera self vinnig met sy hande gedraai terwyl hy die knoppie gedruk het om die foto te neem.
Die effek is dat die middelpunt relatief skerp is terwyl die uithoeke van die raam sirkelvormig beweeg (blur).
’n Soortgelyke effek, wat wel met ’n SLR gedoen moet word, is die meer bekende dinamiese zoem-effek (zoom burst).
Dit word tipies gedoen met ’n middelslag-zoemlens (16-70mm-reeks) en die resultaat kan gesien word in die foto van Chris Gerty.
Om dit te doen, word met die lens ingezoem terwyl die sluiter oop is teen ’n lae spoed, byvoorbeeld 30/1 of 15/1sek. Die geheim is om met die zoemaksie te begin net voordat jy die knoppie druk.
Maak seker dat jy goed geanker is en die kamera stabiel. Dikwels help dit ook om ’n flits te gebruik om die finale posisie te vries.
Eksperimenteer daarmee. Onthou, so ’n skoot gebeur nie ná een probeerslag nie – wees bereid om ’n hele paar megagrepe se ruimte te “mors”.
Die skrywer is ’n bekroonde fotograaf, voormalige fotoredakteur en dosent in fotojoernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is ook die hoofbeoordelaar van ons fotokompetisie.
Om ’n werksessie in fotografie by te woon, kontak hom by jvtond@media24.com.

Johan Gerber
Chris Gerty