Dis nou nie asof ’n mens dit met opset doen nie, maar so tussen die werkspartytjies, kliënte-gesellighede en familiesaamtrekke deur het jy nie veel van ’n keuse nie.
Koes maar nes jy wil, die kanse is goed dat die skaapboud en koekstruif jou hier in die omgewing van jou heupe gaan tref.
En saam met die “vreetsaamheid” kom daar natuurlik daardie gevreesde Krismis-kilogramme, en voor jy weet lyk jy weer soos die Oros-mannetjie.
Hoe nou gemaak? Gaan soek ’n bietjie avontuur, dis hoe.
En omdat ons weet jy het weer die vakansiereëlings tot op nommer 99 gelos, het ons reeds jou lysie van doen-dinge in die Kaap reg!
Gesonde Kersfees, almal!
Ry perd: Noordhoek-strand is een van die Kaap se mooiste, mooiste ruimtes, en selfs op die besigste dag kan jy seker wees van hope spasie vir pret en plesier. En indien jy aksie verkies, saal ’n perd op en galop met die strand langs terwyl die son sak.
Sien www.horseriding.co.za.
Vlieg hoog: Skraap moed bymekaar en gaan doen ’n tandem-vlerksweef bo van Leeukop af. Laatmiddag is die beste tyd, en die uitsig oor die Atlantiese Oseaan en die Twaalf Apostels sal jou heeltemal van die hol kol op jou maag laat vergeet. Sien www.paraglide.co.za.
Duik saam met pikkewyne: Boulders-strand is ’n puik plekkie om weg te kruip as die wind waai. En die klein baaitjies hier tussen rotse vorm pragpoele waar jy tussen die pikkewyne kan snorkel, swem en rinkink. Sien www.bouldersbeachlodge.com.
Trap fiets: Die paaie gaan wel mal wees, maar vroegoggend slaap die meeste vakansiegangers laat, en dan is die hele Argus-roete oop vir jou om op te speel. Jy’t nie hier ’n webwerf nodig nie, kry jou fiets en hou al teen die see langs.
Stap op “Die Tafel”: Kom nou, jy kan nie in die Kaap kuier (of erger, bly!) en nie Tafelberg gaan uitklim nie. Dié tyd van die jaar is die Nursery- en Skeleton-ravyne die beste pad boontoe, want ten minste het jy heeldag skaduwee. Sien www.hikecapetown.co.za.
Koop ’n plaas in Tokai: Dis nou te sê indien jy nie weet hoe om baie vinnig met jou bergfiets teen steiltes af te jaag nie! Die Tokai-woud is ongetwyfeld Kaapstad se voorste bergfietsbestemming, en jy kan kies en keur uit roetes van ongeveer 30 km. Sien www.mtbroutes.co.za.
Draf deur die fynbos:Want dit laat jou hart vinniger klop. Dit maak jou kop oop. En dit ruik nog lekker ook. Daar is letterlik dosyne voetpaadjies teen Tafelberg en regdeur die Skiereiland wat wag. Trek dus daai drafskoene aan. Sien www.trailrunning.co.za.
Roei in Valsbaai: Witdoodshaai? Watwo! Jou kanse is baie groter om deur ’n beroerte of in ’n padongeluk by die lang bome te gaan kamp. So gaan dryf op Valsbaai in ’nstabiele see-kajak, en kry rus vir jou siel terwyl jou rugspiere ’n bietjie werk. Sien www.paddlers.co.za.
Klap ’n krefie: Jy kort ’n duikbril, snorkel en handskoene, dan kan jy jou eie see-kokkerot gaan uitduik. Maak net seker jy het jou kreefpermit, anders is jy dalk die een wat gevang gaan word. Sien www.deat.gov.za.
Gaan sit op jou agterwêreld: Ontspan net. Dit was ’n moeilike jaar dié, en ek dink ons almal verdien ’n paar dae van braai, sonskyn en samesyn.
Jacques Marais gaan saam met sy kinders tussen die Baviaansrivier se aalwyne uitkamp, en is vroeg in 2010 terug. Sy kontakbesonderhede is jacques@jacquesmarais.co.za of 083 444 5369.