Bevry jou op fietspad na die KAAP
2009-09-08 01:57
Die lang bergfietsroete van Pietermaritzburg heelpad tot in die Paarl onder in die Kaap lewer ook soms sy ligte oomblikke tussen al die swaarkry deur.
“Keep it real, Dave” het ons na aanleiding van ’n bieradvertensie geterg nadat Barr so lekker vir die vlakvark geskrik het.
Die gedagte van die Vryheidsroete het in 2002 ontstaan toe Dave Waddilove soos ’n wafferse Forrest Gump die roete gestap en gedraf het. Hy wou net mense en teerpaaie vermy en het die grondslag vir ’n bergfietsroete soos min gelê.
Dit is maar ’n fyn lyn wat ’n mens sny tussen genialiteit en gekheid, en Waddilove speel hierdie lyn soos ’n begeesterde violis.
’n Paar keer was ons op die roete verstom oor die bergpieke wat ons moes aandurf wat wraggies niks met bergfietsry uit te waai het nie.
As dit nie vriesend koud was nie, het dit gereën en het ons dalk meer tyd gehad om te dink oor hoe gek dit was om die roete in ’n wedren aan te durf.
Vir iemand wat al ’n paar Cape Epics en ander avontuurwedrenne getem het, het die roete van 2 300 km na die volgende logiese stap gelyk.
Net om in die regte stemming te kom, het onse Dave op die eerste dag sowat 85 km as voorgereg gedraf. Dit was veronderstel om die Comrades-marathon te wees, maar met die datum wat verander het, was ons van die proefkonyne in die eerste Dusivallei-wedloop.
Eintlik was dit groot pret vir die ses van ons wat die dag kon voltooi.
Ook ons groot pel Martin Dreyer was natuurlik daar om ons net te herinner dat as jy nie meer kan hardloop nie, kan jy nog stap.
En as jy nie meer kan stap nie, moet jy maar kruip. Jy mag egter onder geen omstandighede tou opgooi nie.
Dit was goeie raad vir ons terwyl ons die volgende drie weke op ons avontuurrit voortgeswoeg het.
Ons wedren het 06:00 in die middestad van Pietermaritzburg begin, en dit sou die laaste keer in ’n lang tyd wees dat ons die beskawing sien.
Dit is ’n wedren sonder stilhouplek. Daar is geen ondersteuning nie, en ’n selfoon en GPS is jou enigste hulpmiddele.
Dave deel by die beginpunt kaarte uit en vertel jou van die roete. Dit sal jou hopelik help om die ondersteuningspunte te kan vind, al kan hulle 100 km uitmekaar wees met bergreekse, winterstorms en verskeie riviere wat hulle kan skei.
Op sommige dae het ons minder as 100 km gery en op ander meer as 150 km – na gelang van die terrein en weer.
Ons stadigste vordering was 1 km in ’n uur terwyl ons in die modder vasgesit het. Dan het ons ook oor die 40 km/h gehaal met ’n wind van agter op ’n plat roete.
Op die meeste dae het ons soggens tussen 04:00 en 05:00 wakker geword en teen 06:00 begin trap. Ons het baie aande nadat die son gesak het, ons bestemming bereik – tot so laat soos 23:00.
Dan het ons ook die minimum saamgeneem om gewig te bespaar. Daar was ook altyd genoeg plekke langs die roete waar ons weer ons waterbottels kon vul.
Ons het net 2 F water gedra – onthou, elke liter weeg ’n kilogram.
Daar was ook genoeg fietsry-onderdele vir noodgevalle. In die middel van die Karoo is niemand wat jou gaan kom help om ’n fiets te herstel nie.
Deur die stamgebiede van KwaZulu-Natal het ons deur pragtige bergwêreld na die dorpie Rhodes getrap.
Daarvandaan was dit afdraand na die Oos-Kaap, toe deur die Groot-Karoo na die Baviaanskloof.
Ons roete het ons daarna wes gevoer deur nog Karoo na die Gamkaskloof en Die Hel.
Uiteindelik was dit Dutoitskloof en ons eindpunt in die Paarl.
Hier eindig dit vir die meeste ryers, maar ’n paar van ons het daarna ook die Bergrivier-kanomarathon van die Paarl na Velddrif voltooi.
Uiteindelik was alles oor en was die fisieke uitdaging eintlik niks nie, want die groot ding was om die roete te kon voltooi.
Ons het ’n wêreld van geestelike vryheid betree wat jou uiteindelik laat voel dat enigiets wel moontlik is.