Aksiefoto's: Edelvalk eet in vlug
2010-01-26 11:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die voëlfotograaf Basie van Zyl van Bellville het onlangs in die Kalahari daarin geslaag om ’n reeks foto’s te neem van hoe ’n edelvalk ’n termiet vang.
Hier is die skakel:http://www.dieburger.com/Content/Galleries/Image/Fotos/Suid%20Afrika/Vlug-spyskaart
Goeie kameratoerusting is hiervoor nodig, maar om dit vanuit ’n voertuig se sitplek in die Kgalagadi-oorgrenspark te kon skiet, kos heelwat vaardigheid.
Voëlkenners is gewoonlik baie opgewonde wanneer hulle sien die termiete maak skielik hul verskyning. Dit is ’n groot voedselbron in die droë dele van ons land waar die miershope soms volop kan wees.
Dr. Morné du Plessis, groot voëlkenner en rubriekskrywer van Buite, is ook die merkwaardige reeks foto’s van Basie gewys en hy het kommentaar gelewer.
“Dis gewoonlik op smoorwarm en bedompige middae wanneer ’n mens die indrukwekkende skouspel van ‘n vlieënde termiet-ontploffing mag teëkom.
“Dis gewoonlik dan ‘n feesmaal vir ‘n voëlkyker soos swaeltjies, byevreters, windswaels, neushoringvoëls en allerlei ander insekvreters onder die termiete baljaar,” het Du Plessis gesê.
“Dit herinner ’n mens aan die diverse aksie om ‘n skool sardientjies langs KwaZulu-Natal se Suidkus.
“Maar dis nie net kleiner voëls wat kom baljaar nie. ’n Mens tref gereeld geelbekwoue, sperwers, valkies en selfs hier en daar ‘n arend aan,” het Du Plessis bygevoeg.
“Min is so indrukwekkend soos die edelvalk wanneer hy met sy kloue na vore invlieg om een termiet na die ander netjies uit die lug te pluk.
“En dis sommer in vlug waar hy sy nek na benede buig om die termiet – met of sonder vlerke – met sy bek uit sy kloue te haal.”
?As jy voëlfoto’s het wat jy met Buite se lesers wil deel, kan jy dit per e-pos stuur na buite@media24.com. Ander bydraes oor die natuurlewe is ook welkom.
Ons oorweeg dit graag vir publikasie. – Eben Human