Windhoek is stad met vele gesigte
2010-05-03 10:16
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Windhoek is bedrywig en bied talle interessanthede vir besoekers. Ernusta van Wyngaard was vir vyf dae in dié stad en het veel meer ontdek as wat sy gedink het sy sou.
Windhoek is besig, maar sy mense is rustig en laat nie toe dat die gewoel van die stad hulle enigsins aanjaag nie. Dít kom ’n mens baie gou agter ná jou eerste paar dae in Namibië se hoofstad.
Ek wat gewoond is aan die gewoel van die Kaap, vind ná my kuiers by Namibia Country Lodges se ses lodges, die stadsgewoel en druk verkeer uiters steurend. Ek wil voëltjies hoor fluit, maar hoor net karre dreun. Ek wil die natuur in al sy glorie sien, maar sien net hoë geboue. Ek wil die rivierstrome sien, maar sien net teerpaaie.
Maar ek kom baie gou agter dat Windhoek baie meer aan hom het as wat ek met die eerste oogopslag waargeneem het.
En hoewel ek vreeslik bederf is by bogenoemde lodges, bederf en bekoor Windhoek my op ’n ander, maar ewe aangename manier.
Ek het nog altyd gedink Suid-Afrika is (byna) die enigste land wat kan spog met ’n reënboognasie, maar in Namibië veral in Windhoek het ek ’n verskeidenheid mense gesien.
Beslis meer as wat ek verwag het om teë te kom, met die Herero’s wat my die meeste gefassineer het. As jy ’n bietjie rondstap in Windhoek, sal jy heel waarskynlik van hulle meestal vroue sien.
Hulle kan uitgeken word aan die rooiklei-kleur op hul velle en die interessante kleimotief in hul hare.
Moet ook nie verbaas wees as jy baie buitelanders – veral Duitsers in Windhoek raakloop nie. Uit gesprekke met plaaslike sakepersone het ons gehoor dat Duitsers of Europeërs ook die grootste persentasie van Namibië se toerismemark uitmaak.
Ons tyd in Windhoek was meestal deur vergaderings in beslag geneem, maar as jy Windhoek behoorlik wil verken, is daar ook ’n besigtigingstoer wat jy per bus kan onderneem.
Agtergrond en plekke om te besoek
Windhoek is ’n plek waar Afrika en Europa mekaar ontmoet. Die land se koloniale erfenis blyk byvoorbeeld duidelik uit die argitektuur.
Geboue soos die Alte Feste, ’n fort wat die oudste gebou in Windhoek is, en die geskiedkundige Tintenpalast, waar Namibië se parlement sit, weerspieël die Duitse nalatenskap. Restaurante bied dikwels Duitse geregte, en winkelname en straatname is soms ook nog in dié taal.
Terselfdertyd is mense in tradisionele drag op straat te sien, en is baie strate na van die plaaslike vryheidsvegters vernoem.
Die Daan Viljoen-park is enkele kilometers buite die stad geleë, en bied stadsbewoners en besoekers staproetes en ook die kans om voëls en wild te sien.
Hierbenewens is daar ook talle lodges en gastehuise in en om die stad waar besoekers kan ontspan en die natuurskoon kan waardeer. In die stad self kan ’n mens onder meer in die Nasionale Botaniese Tuin gaan stap, en in Zoo-park in die middestad.
Op kulturele gebied is daar onder meer die Namibiese Nasionale Museum en die Transnamib-museum om te besoek, asook teaters, kunsgalerye en verskeie kulturele geleenthede regdeur die jaar.
Besoekers kan ook toere onderneem na plaaslike townships, en elke jaar in Oktober kom die Duitse kant van die stad sterk na vore met die jaarlikse Oktoberfest-bierfees.
Dié sentraal geleë stad het ’n bevolking van ongeveer 234 000 mense. Dit is die ideale ingangspunt vir toeriste om hul besoek aan die land te begin.) Bykomende bron: Namibië-bylae 2009.