Namibië is ’n asemrowende ervaring
2010-05-03 10:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Namibië is ’n land met soveel fasette en ongelooflike mense wat jou as besoeker baie meer bied as waarop jy gereken het. Ernusta van Wyngaard deel haar ervaringe wat sy op ’n 14-dae-lange besoek aan dié land meegemaak het.
Terwyl ek besig is om hierdie voorwoord vir Die Burger se jaarlikse Namibië-bylae te tik, is my gedagtes en herinneringe aan Namibië ’n warboel en soek ek na die regte byvoeglike naamwoorde om die ongelooflike 14 dae wat ek in dié land beleef het, te beskryf.
Al waarmee ek kan opkom is: “Asemrowend!” Want dit is eerlikwaar hoe my besoek aan hierdie pragtige land was. Oral waar ek was en aangekom het, het iets meestal die natuur in sy ongerepte vorm my asem behoorlik weggeslaan en my telkens sprakeloos gelaat.
Ek en my kollega en bemarker van hierdie bylae, Michelle Schultz, se eerste vyf dae in Namibië het my uitgeboul, want dit is in dié tyd dat ons die geleentheid gekry het om báie naby aan wilde diere te kom en te sien hoe hulle gevoer word by die N/a’an ku sê Wildlife Sanctuary buite Windhoek.
Dit was ook ’n tyd waar ons vir vier dae saam met die mede-eienaar van Namibia Country Lodges (NCL), mnr. Willem de Wet, na al ses van hul lodges gevlieg het. In dié vier dae was ons vir ’n totaal van 16 ure in die lug en het tot so hoog op as die Caprivi-streek in die noorde van Namibië gevlieg!
Dít was vir my ’n belewenis omdat my vlug na Namibië maar slegs my tweede vliegervaring was. So, om sommer kort daarna vir vier dae en 16 ure in totaal in die lug te wees, is inderdaad iets om oor huis toe te skryf.
Om in Namibië wakker te skrik, is ook ’n ervaring op sy eie. Wanneer jy jou oë oopmaak, is daar hierdie hemelse stilte met net die voëltjies wat fluit en geen gedreun van verbygaande voertuie nie. Daar was ook nie televisies in die kamers by die lodges waar ons die eerste vyf aande oornag het nie. Dít is ongekend vir my.
Maar moenie dink hierdie stilte en afwesigheid van televisies maak dat jy enigsins voel of jy gaan sterf van verveeldheid nie. Inteendeel. Daar was nie een oomblik se stilsit nie, want daar is die heeltyd iets om te doen, iets om te sien. Wie wil in elk geval televisie kyk as jy die natuur op elke moontlike vlak kan geniet en ervaar?
Een van dié wonderlike natuurervarings was ’n bootrit saam met Willem nie een keer nie, maar twéé keer op die Kwando-rivier op soek na krokodille en seekoeie tydens ons verblyf by NCL se Namushasha-lodge in die Caprivi. Dit is ook hier waar ek gehoor het dat seekoeie as die gevaarlikste diere in Afrika beskou word weens hul aggressiewe aard, en hier gaan soek ons na hulle!
Almal wat my goed ken, sal weet dat ek bang is vir baie dinge en in Namibië moes ek vier van my grootste vrese vinnig onder beheer kry my vrese vir vlieg, hoogte, water (want ek kan nie swem nie) en diere. So, byna álles waaraan ek moes deelneem, was ’n groot uitdaging.
In ’n stadium het ons stilgehou met die boot in ’n deel van die Kwando-rivier waar daar 18 seekoeie bly in die hoop dat een of ’n paar hul verskyning sou maak!
Die water daar is ook só diep dat hulle regop in die water (en onder die boot) kan staan sonder dat ons dit agterkom - dit is nou totdat hulle besluit om op te kom, natuurlik. En onthou, die son brand seekoeie se velle wat beteken hulle gaan nie sommer in die dag uit nie en wás toe in die water. Teen dié tyd was ek toe al só bang een maak wel sy verskyning, maar gelukkig vir my, het dit toe nie gebeur nie.
Michelle het egter die vorige aand tydens ’n laatnag-krokodil- en seekoei-soektog dié twee diere te sien gekry, maar my moed het my toe al begewe en ek het nie kans gesien om hulle in die donker te gaan soek nie.
Ek is nou spyt dat ek nie dié avontuurrit meegemaak het nie, maar dis ook maar goed so, want so bang soos ek is, sou ek tien teen een oorboord geval het van probeer wegkom van die baba-krokodilletjie wat Willem later gevang het. (Let asseblief daarop dat hierdie toere nie normaalweg in die aand aangebied word nie.)
Wat jy ook in Namibië sal sien en beleef, is die mooiste sonsondergange, die pragtige duine van die Namib-woestyn en die dierelewe in dié duine, asook die grootste muurshope wat ek in my lewe al gesien het. Ek het ook ’n draai by ’n slangpark gemaak en kameel gery. Ek moet egter bieg dat ek verwag het om meestal net woestynduine te sien, en toe kry ek sowaar nog die geleentheid om Namibië se kuslewe in Swakopmund en Walvisbaai te beleef.
Die mooiste ding wat my egter van Namibië sal bybly, is sy mense veral mense soos Willem de Wet, Rhona Strauss en Rudie en Marlice van Vuuren.
Hulle is passievol oor Namibië en wat hulle doen en stamme soos die Boesmans lê hulle baie na aan die hart. Ek glo daar is nog sulke mense in Namibië, en dink menige Suid-Afrikaner kan iets oor mensliewendheid en patriotisme by mense soos hulle leer.
Het ek ná my tyd in Namibië my vrese oorwin siende dat ek hulle telkemale so trompop in die gesig moes staar?
Die antwoord is ’n definitiewe “nee”. Sal ek dit weer doen?
Ja, beslis maar net in Namibië, want ek dink ek gaan ver moet soek vir ’n land met soveel fasette en gasvrye en passievolle mense soos in hierdie buurland van ons.