Leer seelewe ken op boot
2010-04-30 09:48
Op pad van Swakopmund na Walvisbaai kan jy jou verlustig aan die pragtige uitsig wat Namibië se kuswêreld bied. Ernusta van Wyngaard het Walvisbaai en sy seelewe beter leer ken met ’n bootvaart vroegoggend.
Dit is net ná halfnege op ’n Sondagoggend toe ons by die kaai in Walvisbaai aankom. Die oggendson is helder afgeëts teen die blou lug en pelikane baljaar in die water. Talle toeriste meestal Duitsers staan buite rond in afwagting om Walvisbaai se waters en seelewe met ’n bootvaart te verken.
Die horlosie se wysers het pas nege-uur geslaan toe ons saam met ’n paar Engelse en Duitse toeriste aan boord van Catamaran Charters se Silversand-boot gaan. Ons neem plek in op die “honeymoon-suite”die sitplekke heel voor op die boot en waar jy volgens ons gids, Christo Swart, die beste uitsig het.
Met ongeveer twee miljoen robbe in hierdie seewater, is dit egte rob-wêreld waarin ons nou beweeg, en die boot het skaars vertrek of een van die robbe wat gereelde besoekers op dié bootvaarte is, maak sy verskyning en neem plek in tussen die toeriste.
Ottie, soos hierdie rob bekend staan is een van die “mak” robbe en hy weet wat om te doen om beloon te word met ’n vis. Toe hy weer terug in die water is, “was” hy sy gesig en draai op Christo se versoek in die rondte tot groot vermaak van almal op die boot. Intussen lok Christo ook ’n paar pelikane met vis en hulle vlieg só naby aan ons dat jy hulle goed van naderby kan besigtig. Dit is ongelooflik om hierdie diere só naby jou te sien.
Pelikane kan 25?tot?30 jaar oud word, weeg vyf tot sewe kilogram en hul vlerke kan 1,8?m tot 2?m wyd sprei, vertel Christo.
Terwyl ons in die rigting van Pelican Point vaar, waai ’n verfrissende koel briesie, en die ritmiese beweging van die boot voer jou weg na ’n heel ander planeet waar jy van niks anders as die groot oseaan bewus is nie. Intussen bedien ’n vriendelike bemanningslid ’n glasie sjerrie en, indien jy iets anders verkies, is koffie, tee, koeldrank of bier ook beskikbaar. Jy kan ook ’n woordjie met die kaptein gaan wissel as jy wil.
Later vestig Christo ook ons aandag op talle blou dromme in die water. Dit is waar oesters gekweek word, en volgens hom is daar ongeveer 20?miljoen oesters in die baai. “Baie oesters word uitgevoer, want in ander lande sal dit ’n oester ’n jaar neem om so groot te word soos die oesters wat hier gevind word,” laat Christo hoor.
Hierna nader ons die “robkolonie” soos wat Christo dit noem, oftewel Pelican Point. Jy kan die robbe van ver af hoor. En hoe nader ons kom, kan ek sien presies hoekom dit die robkolonie gedoop word. Dit is ’n ongelooflike gesig om so baie robbe op een slag bymekaar te sien.
Volgens Christo is nóg groot robkolonies by Kaapkruis, Lüderitz en ander eilande in Namibië te vind. In die agtergrond is ook ’n swart en wit-lighuis waarvan Christo ook die geskiedenis vertel.
Hierna beweeg ons na dolfynwêreld en teen so 10:20 was ons gelukkig om ’n paar dolfyne in die water teë te kom. ’n Paar van hulle het selfs saam met die boot geswem! Die Suid-Atlantiese en bottelnek-dolfyne is baie algemeen in hierdie wêreld en swem naby die kuslyn, vertel Christo.
Benewens die dolfyne, sê Christo, kom die noordkapperwalvisse ook daar voor. “Vir die laaste vyf jaar, kry ons nou weer walvisse in die baai.”
Later vaar die Silversand ook verby ’n gestrande Russiese boot wat al vir nege jaar in die water hier lê.
Die boot was blykbaar ’n visfabriek voordat ’n brand die fabriek-deel daarvan vernietig het.
Kort hierna word ’n heerlike middagete wat onder meer bestaan uit seekosse soos oesters en sjampanje, en versnaperings van calamari, stokvis en kraakvars broodjies voorgesit gevolg deur vleis-versnaperings.
Vriendelike bemanningslede staan die heeltyd reg om te sorg dat jy tevrede is en jou glas nie leeg is nie.
En om dié bootvaart perfek af te sluit, het nog ’n rob en van die pelikane weer ’n draai kom maak, net om jou vir oulaas te herinner hoe besonders Walvisbaai se seelewe werklik is.