Hentiesbaai is waar see en woestyn mekaar gul ontmoet
2010-04-30 08:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Hentiesbaai is hoofsaaklik ’n vakansiedorp met ’n vakansieatmosfeer rustig en stil buite seisoen, maar lewendig in hoogseisoen. ’n Plek waar jy die gewoel van jou daaglikse lewe kan kom afskud en net die rus en vrede saam met geliefdes kan geniet.
Dié dorp se groot trekpleister is die see en kilometers van afgesonderde strande waar voertuie nog toegelaat word om op die sand stil te hou. Hentiesbaai is ook baie bekend vir sy uitstekende visvanggeleenthede en is baie hengelaars se nommer een-keuse om ’n ou grote uit die water te trek. As jy boonop ’n natuurliefhebber ook is, soveel te beter, want verskeie 4x4-roetes bied jou die geleentheid om die skoonheid van die Namib-woestyn te verken.
Verder spog Hentiesbaai met verskeie klein kroeë en restaurante, ’n hotel, gastehuise, bed-en-ontbyt-plekke en baie vakansiehuise wat te huur is. Daar is ook die noodsaaklike winkels, supermarkte, drankwinkels, ’n apteek, mediese sentrums, banke en OTM’s. En hoewel die sakesentrum klein is, het dit al die nodige geriewe om jou vakansie gemaklik te maak.
Soos die geval met alle klein vakansiedorpe is, het Hentiesbaai ’n informele, spitsvondige karakter waar huise snaakse name het en die strate nie in vierkante uitgelê is nie. Daar is ook geen verkeersligte wat inmeng met jou rustige rit op die soutpaaie nie. Onthou egter dat daar wel ’n verkeersbeampte is wat sy werk baie ernstig opneem veral wanneer die vrede versteur word deur wilde voertuie wat nie verkeersreëls gehoorsaam nie.
Die vakansiehuise hier is ook besonder karaktervol. Sommige van dié huise is baie oud en verwaarloos en is gebou met outydse boumateriaal.
Deesdae is vakansiehuise egter ultra-modern en luuks met gemak en ’n goeie belegging wat hoog op prys gestel word wanneer dit gekoop of gebou word.
Wat die klimaat betref, het Hentiesbaai tipiese Namibiese weskusklimaat dis meestal koel en mistig weens die koue Benguela-stroom, maar baie minder winderig as die aangrensende dorpe verder suid.
Die warmste maande is tussen Desember en Maart met temperature van tussen 20 en 30 grade, en die koue, mistige maande is van Augustus tot Oktober met temperature wat wissel tussen 14 en 20 grade. Maar onthou dat jy in Hentiesbaai al vier seisoene in een dag kan beleef!
Vir meer inligting, besoek gerus die plaaslike toerismevereniging se amptelike webtuiste by www.hentiesbaytourism.com.
Maak seker jy het die nodige permit as jy Henties se viswater wil besoek
Hengel is ’n gewilde aktiwiteit en tydverdryf in Hentiesbaai en beslis nie net vir Namibiërs nie, maar ook vir talle Suid-Afrikaners. Daar is egter ’n paar reëls en regulasies rondom hengel en mense word aangemoedig om dit te gehoorsaam en die strande skoon te hou. As jy beoog om in Hentiesbaai te gaan hengel, wees net bewus van die volgende:
Permitte
Elke persoon wat vir ontspanningsdoeleindes wil hengel, moet oor ’n permit beskik, wat by die kantoor Seevisserye, Hanganeni Fishing Centre op Hentiesbaai uitgeneem kan word. Die kantoorure is Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 17:00, en op naweke en openbare vakansiedae is die ure van 08:00 tot 13:00. ’n Permit vir een maand kos N$14 (gelykstaande aan R14), maar kan ook vir ’n tydperk van ’n jaar uitgeneem word teen N$168 (R168). Skakel bogenoemde kantoor by 0 +264 6450 0320 vir meer inligting.
Oesmetodes
Slegs ’n hoek en lyn, ’n ringnet en duik is toelaatbaar vir die oes van onder meer vis en kreef.
Daaglikse kwota
Die daaglikse kwota per hengelaar bestaan uit die volgende hoeveelhede vis: barbers 30; snoek 20; haai een; en kabeljou, steenbras, kolstert en galjoen 10 gesamentlik.
Die volgende groottes word vir kabeljou, steenbras, kolstert en galjoen neergelê:
Kolstert minimum grootte van 25 cm;
Galjoen minimum grootte van 30 cm;
Kabeljou minimum grootte van 40 cm, maar nie meer as twee visse langer as 70 cm nie (kop en stert ingesluit); en
Steenbras – minimum grootte van 40 cm, maar nie meer as twee visse langer as 65 cm nie (kop en stert ingesluit).
Kreef
Die seisoen strek van 1 November tot 30 April en die minimum grootte is 65 mm karapaks (rugdop). ’n Persoon met ’n permit mag ’n maksimum van sewe krewe per dag vang en niks meer as sewe krewe per persoon mag op enige stadium vervoer word nie. Krewe moet in ’n heel toestand wees. Geen kreef mag tussen sononder en sonop gevang word nie.
Items wat sonder ’n permit geoes mag word:
1 kg seegras anders as bruin seewier;
50 swartmossels;
2,5 kg droë of 10 kg nat bruin seewier;
15 klipmossels
vyf skulpdiere anders as swart- mossel, klipmossel, alikreukel of witmossel;
25 alikreukels;
10 kg seeskulpe; en
25 witmossels wat nie deur ’n ring met ’n binnesirkel van 38 mm kan gaan wanneer dit in ’n heel toestand is nie
Verbode spesies
Wurms is verbode en rooi-aas mag nie van die klippe losgesny word nie; slegs rooi-aas wat uitgespoel het, mag versamel word.
Vervoer van vis
Elke hengelaar per voertuig wat oor ’n permit beskik, mag drie maal sy daaglikse kwota vis huis toe vervoer, maar nie meer as tien van elk van die volgende nie: kabeljou, steenbras, kolstert en galjoen. Al hierdie spesies moet in ’n heel toestand wees en steeds kop en stert aanhê ten einde die groottes te kan bepaal.
Dit kom daarop neer dat elke hengelaar in ’n voertuig wat oor ’n permit beskik, die volgende hoeveelheid vis in sy besit mag hê, ongeag hoeveel persone per voertuig:
Barber: 90;
Snoek: 60;
Haai: drie;
Kreef: sewe, almal in ’n heel toestand; en
Kabeljou, steenbras, kolstert en galjoen: 30 gesamentlik, maar nie meer as 10 van een spesie nie en alles in ’n heel toestand.
Van die toegelate 10 kabeljou mag ses langer wees as 70 cm en van die toegelate 10 steenbras, mag ses langer wees as 65 cm, kop en stert ingesluit.
’n Groot voordeel van die nuwe bepalings is die feit dat die hoeveelheid vis nie meer per voer-tuig beperk word nie, maar dat elke persoon op ’n voertuig sy eie kwota mag hê, mits hy oor ’n permit beskik. Hengelaars moet hul permitte te alle tye by hulle hê en hulself kan identifiseer.
) Bron: www.hentiesbaytourism.com.
Teken sommer nou reeds Henties se jaarlikse Visfees op die kalender aan
Moenie vergeet van Hentiesbaai se jaarlikse Visfees wat vanjaar op 27 en 28 Augustus plaasvind nie! Hierdie fees is ’n jaarlikse hoogtepunt op die dorp se kalender en lok al hoe meer Suid-Afrikaners wat in die lekker feestelike atmosfeer wil kom deel en die gasvryheid van die Namibiese weskus wil ervaar.
Die fees vind plaas op ’n feesterrein wat in die Vallei op die strand geskep word (op die eindpunt van die nege-putjie-gholfbaan), met alles binne-in groot tente waar ongeveer 70 stalletjies gehuisves word en musiekkunstenaars ook optree.
Gereelde aktiwiteite op die program is ’n hengelkompetisie, asook ’n rubberbootkompetisie op die Saterdag.
Vanjaar sal daar ook ’n raak- rugbykompetisie op die strand aangebied word, met verskeie skolespanne wat gaan deelneem.
Die Mej. Visfees-kompetisie is ’n jaarlikse instelling en vanjaar sal besoekers ook kan deelneem aan ’n potjiekoskompetisie.