Wie traak eintlik? Oor sê-goed se sinies en snaaks
2012-01-27 20:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Geestelike waardes
Op pad na werk sien ek ’n T-hemp. Ask me if I care. Ek het aanhou lag tot in my kantoor – en glimlag stééds. Natuurlik is die sê-ding dubbelsinnig – maar ék hoor net die Garfield-variasie. En dit bly snaaks. Watter gawe het diégene tog wat sulke kwinkslae bedink, vir hemde, plakkers, baniere.
Só verstaan, is dit ’n siniese uitnooi tot ’n afjak. Wil jy kla, moeilik wees, skoor soek? Is jy beswaard en soek jy sukkel? Vra my ’n bietjie of ek omgee oor jou klagtes. Vra my of ek traak, enigiets voel. Kom, gee my ’n kans om jou iets te vertel. Waarskynlik verlang vele van ons soms na súlke hemde!
Wie weet, dalk was dit totaal ánders bedoel. Opreg. Dalk word dié hemde gedruk deur die selfmoord-noodlyn. Versprei deur ondersteuningsgroepe vir alkoholiste. Verkoop ten bate van vigs-bestryding. Deur die een of ander politieke jeugliga uitgedeel. Vra my of ek omgee, en die antwoord is natuurlik já, ek géé om, sommer báie. Dalk moes ek ook die rug kon sien om te weet dis eintlik van die regshulpkliniek, die studente se gemeenskapsdiens, die Tutu-teringsentrum, die dierebeskermers, wie ook al. Maar ek wonder darem.
Dan was dit tog nie snaaks nie? En sou minder mense dit tog wou dra? Om van studente nie te praat nie. Nee, dit laat my eerder dink aan Lauren Cooper, daardie astrante skoolmeisie-TV-karakter van destyds, geskep deur die skreeusnaakse Catherine Tate. Wanneer ook al net effe bedreig, sou sy oorslaan na aggressiewe self-verdediging met haar gevierde: “Do I look bovvered (vir bothered)? Am I bovvered? Look a’ my face. Does my face look bovvered?” En terwyl haar vinger na haar self wys, “Face? Bovvered? Me, bovvered?”
In 2006 is bovvered ingestem as woord van die jaar in Brittanje, en g’n wonder nie. Soos min ander verwoord dit ’n lewensgevoel van ons tyd. Ook van jongmense – studente, kinders, hele generasies (wat al dié houding by ons ouer geslag kon afkyk, ons kon dit net nie so gevat sê nie). Do I look bovvered? Ask me if I care!
Ek hoop wel die vriend langs die straat het darem ook nog ánder T-hemde, vir ánder dae? Juis met dié dubbelsinnigheid sal ’n mens tog beswaarlik só wil rondstap in – sê maar – ’n vlugtelingkamp (waar miljoene van ons wêreld, ook jongmense en kinders, daagliks hul lewe slyt)? So gesien wou word in enige township, die stadshospitaal, die plaaslike kliniek? Op plase in die middel van droogtes?
Trouens, wie sou graag geopereer wou word deur ’n dokter met só ’n hemp? By plaaslike owerhede met ’n amptenaar wat só ’n hemp dra oor jou klagtes wou praat? Onderhoude met ministers wou kyk met sulke spreuke op die bors? Spruite by ’n skool wou aflaai waar onderwysers só lyk? Moet hoor súlke veldwagters beskerm deesdae die renosters? Of is dit juis die punt wat sulke hemde wil maak? Vergeet dié stories van vlugtelinge, straatkinders, klinieke – en renosters. Us, bovvered? Ek en my vriende sal enige dag enige plek só lyk as ons wil, ask us if we care? – DJS