Toelaes kan SA op die weg van Zimbabwe plaas
2012-02-03 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die maatskaplike toelaes wat die regering aan amper 15 miljoen mense betaal, het ’n tweesnydende swaard geword.
Enersyds is dit ’n vangnet vir die heel armes wat daarsonder nie kan oorleef nie. Die toelaes is nie groot nie: Vir ’n pensioentrekker is dit R1 140 per maand en vir ’n kind R260, maar dit help hulle oorleef.
Andersyds is dit ’n onomstootlike feit dat die toelaes nie volhoubaar is nie.
Die aantal mense wat dit ontvang, word jaarliks meer. Dit neem ’n al hoe groter hap uit die begroting en beteken minder geld vir infrastruktuur en projekte wat werk skep.
In die afsienbare toekoms sal daar net nie genoeg geld vir die toelaes wees nie.
Die enigste uitweg vir die regering sal dan wees om nog geld te leen, wat baie gou tot groot rampspoed kan lei.
Om die toelaes te staak, is nie ’n opsie nie. Dit sal ’n revolusie veroorsaak.
Maar die regering moet nou ’n perk op die toelaes plaas en oorambisieuse planne soos nasionale gesondheidsversekering laat vaar.
Daar is ander oplossings en antwoorde.
Goeie onderwys en opleiding kan werkloosheid verminder.
Die regering kan onderwys net nie op ’n aanvaarbare peil kry nie. Die groot rede daarvoor is dat hy te bang is om Cosatu en sy Sadou-onderwysersvakbond te konfronteer. Sadou se talle lui en onbevoegde onderwysers pleeg verraad teenoor die land se kinders.
Die regering het ook nie die durf om Cosatu oor arbeidswetgewing en minimumlone te pak nie. Dit kan onmiddellike verligting vir derduisende werkloses bring.
Minister Trevor Manuel het ’n dekade of wat gelede reeds gewaarsku teen onvolhoubare maatskaplike besteding wat Suid-Afrika op die koers van ’n tweede Zimbabwe kan plaas. Hy het dit destyds ’n benadering van “leef nou, betaal later” genoem. Dit sal die regering baat om ernstiger na dié waarskuwing te kyk.
- Die Burger