Talle vrae hang oor Nzimande se groenskrif
2012-01-24 20:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Twee weke lank prut die regering se groenskrif van 84 bladsye oor die toekoms van naskoolse onderwys nou al, wat genoeg tydsverloop is om dit in oënskou te neem.
Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, moet gekomplimenteer word omdat oorkoepelende beleid vir die tersiêre onderwyssektor opgestel word. Dis nodig. Rolspelers het genoeg tyd om tot 30 April te reageer en hopelik word bydraes in ag geneem.
Die doelwit om die nasionale deelnamesyfer aan naskoolse onderrig teen 2030 op te stoot van die huidige 16% tot 23%, is ’n noodsaaklike, maar moeilik bereikbare ideaal omdat dit gedoen moet word sonder om die peil van opleiding te laat daal.
Dit is juis Nzimande se klem op die behoud van gehalte beïndruk, tesame met sy klem daarop dat nie alle suksesvolle matrikulante universiteit toe hoef te gaan nie. Begrip van die ekonomiese nut van tegniese en vaardigheidsopleiding sal tragedies soos die vertrapping by die Universiteit van Johannesburg help voorkom.
Vier kernvrae bly egter huiwer ná die bestudering van die dokument. Eerstens, word tersiêre onderwys beskou as ’n reg, soos die verpligte deel van skoolonderrig? Die groenskrif is vaag hieroor en die antwoord het groot implikasies, veral geldelik en logisties.
Tweedens lyk dit nie of die gevare van massifikasie verreken is nie. Sukses in onderwys word nie in hoofsaak gemeet aan die getal suksesvolle kandidate nie, maar aan die peil van die suksesvolle kandidate.
Die klem moenie verkeerd val nie.
Derdens: Gaan die beleid deur regulasies of wetgewing afgedwing word?
Dis noodsaaklik dat dit deur wetgewing, waar bydraes voortdurend gelewer kan word, gedoen word eerder as dat die minister die finale arbiter word.
Vierdens: Is die koste van die beleid verreken? Beleid kan net ernstig opgeneem word as dit bekostigbaar is.
- Die Burger