Taalkonsepwet van ANC wek weerstand op
2012-01-22 20:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die flou en totaal onvoldoende poging van die ANC-regering om ’n Taalwetsontwerp voor te stel herinner ’n mens aan die idees van die swart Karibiese sielkundige Frantz Fanon.
Fanon het – weliswaar in oordrewe felle bewoording – die haat-liefde-verhouding van die verdrukte gekoloniseerde teenoor die oorheersende koloniseerder ontleed. Enersyds, het hy geskryf, aanvaar die gekoloniseerde dat sy eie kultuurgoed minderwaardig en dié van die koloniseerder meerderwaardig is; andersyds haat eersgenoemdes hul verdrukkers en doen hul bes om onder dié se verdrukking uit te kom.
Dit het uitdrukking gevind in die taal- en kultuurbeleid van feitlik elke Afrika-bevrydingsbeweging, met inbegrip van die ANC. Aan die een kant word moeite gedoen om die wittes as gewese verdrukkers ’n skuldgevoel aan te praat en hulle uit alle posisies van mag en invloed te verdryf; aan die ander kant kniel die ANC elke dag eerbiedig voor die altaar van die Engelse taal en kultuur.
Dis weliswaar nie wat hy sê nie, maar wel wat hy elke dag dóén. Nie alleen Afrikaans word, hetsy deur passiewe verwaarlosing, hetsy deur aktiewe diskriminasie, agtergestel nie; dit gebeur met álle inheemse tale. Die Taalkonsepwet is maar net die jongste voorbeeld.
Suid-Afrika is nou eenmaal ’n multikulturele land met verskeie kultuurgroepe, en niks gaan dit verander nie. Die vraag is wat ’n owerheid kan doen om ’n gemeenskaplike identiteit en lojaliteit aan ’n gedeelde vaderland te bou.
Die ANC se manier is om alle inheemse tale, kulture en identiteite deur ’n gemeenskaplike (slegte) Engels te onderdruk. Maar dit wek weerstand op en is heeltemal die verkeerde manier.
Die korrekte manier is om die minderhede aan die land te bind deur hulle maksimum vryheid te gee op alle gebiede waarin hulle hul eie kulturele identiteit wil uitleef – taal, onderwys, godsdiens, noem maar op.
Feit is dat die ANC-beleid ’n flagrante verbreking van die Grondwet is.
- Die Burger