Stakings: So kan SA nie wen nie
2010-09-02 21:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die uitkringende vlaag van huidige stakings begin krisisafmetings aanneem wat Suid-Afrika se ekonomie knou, hom as voorkeur-beleggingsbestemming ’n paar kerwe laer skuif en sy mededingendheid vergeleke met ander opkomende ekonomieë ernstig bedreig.
Die nou drie weke lange staking in die staatsdiens het tot lewensverlies by hospitale, die vertrapping van kinders se reg op goeie onderwys, en agteruitgang van die reeds swak dienslewering by ander staatsdepartemente gelei.
Motorvervaardigers het weens die staking in die motoronderdelebedryf begin om aanlegte gedeeltelik of in geheel te sluit. Internasionale motorgroepe sal nie onbepaald arbeidsonrus verduur ten koste van verlore bestellings nie, en kan mettertyd besluit om hul fabrieke elders te vestig waar hulle beter waarde vir hul belegging kry.
Om hierdie een op te los sal die regering diep moet delf. Die woede onder werkers is deels toe te skryf aan amptenare se arrogansie, die wantoepassing van bemagtiging om enkele elites te verryk, en die gelatenheid waarmee korrupsie en nepotisme selektief verdra word. Om vertroue terug te wen sal hy sy luistervaardighede moet opknap en moeite doen met vaardigheidsontwikkeling.
As stakers se optrede – ongeag die legitimiteit daarvan – verteenwoordigend is van die deursnee-werker in Suid-Afrika, is daar ook rede tot diepe kommer oor die werksetiek van gewone Suid-Afrikaners. ’n Mens bou nie ’n wen-land met sulke aksies nie.
- Die Burger